Nuusbrief

Nuusbrief (240)

Wednesday, 20 September 2023 10:50

Kyk na Moses

 

Ek is besig om met jou te gesels oor hoe ek en jy kan uitvind waar pas ons in God se groter prentjie van die koms van Sy Koninkryk hier op aarde in.

Ek het jou laat kyk na jou baie spesifieke S-H-A-P-E daar aan die voete van Jesus terwyl jy Hom biddend vra wat Sy plan en wil vir jou hier op hierdie aarde is.

Gaan lees miskien net weer die vorige gedeelte as jy dalk nie meer kan onthou waarvoor die akroniem, SHAPE, staan nie.

Hierdie keer wil ek jou herinner aan Moses.

Onthou jy hoe die Here gesorg het vir hierdie klein Joodse seuntjie, in ’n tyd wat die Egiptiese Farao opdrag gegee het dat alle Joodse seuntjies wat gebore word, dood gemaak moet word. Maar God, in Sy genade, het as deel van Sy plan vir hierdie seuntjie, gesorg dat hierdie Joodse seuntjie in die paleis van die Farao saam met sy eie seun sou opgroei en dat hy die beste opleiding sou kry wat in Egipte moontlik was. Want, as deel van God se plan, wou Hy hierdie Joodse seuntjie jare later terugstuur na die Egiptiese Farao om Sy Joodse volk uit Egipte te lei.

Onthou jy ook wat Moses se reaksie was toe God dit vir hom daar in Eksodus 3 gesê het hoe Hy hom wil gebruik?

Laat ek sommer dadelik jou waarsku dat wanneer die Here aan jou gaan wys wat Hy deur jou wil doen, gaan jy ook heelwaarskynlik soos Moses daar in Eksodus 3 voel. Dat dit onmoontlik is en dat jy nie goed genoeg of nie in staat is om dit te doen nie.

God se opdrag in ons lewe sal altyd hierdie element hê van ‘n “Mission Impossible”! Ja, jou opdrag, van die begin af, sal voel soos onmoontlik en dat jy nie die regte een daarvoor is nie.

Maar dit is wanneer jy jouself daaraan moet herinner dat as dit werklik God is wat jou wil stuur en wat vir jou hierdie opdrag gegee het, sal Hy sorg dat alles daar sal wees wat jy mag nodig kry.

Natuurlik nie reg van die begin af nie, maar op Sy tyd sal alles stuk vir stuk, soos jy dit nodig kry, in plek val!

Soms gaan dit eers van jou ’n geloofstap kos, waar jy moet waag om uit die boot te klim en om in geloof eers op water te loop. En as jy werklik God se stem gehoor het wat gesê het jy moet uit die boot klim, sal Hy altyd daar wees, selfs wanneer jy in ongeloof begin sink!

Maar laat ek jou ook sommer waarsku: Die vyand is altyd daar en hy gaan golwe maak en alles probeer om jou ou vlees te oortuig dat dit nie nou die tyd is om uit die veiligheid van ’n boot te klim nie!

Maak jy dus asseblief net seker dat jy werklik God se stem gehoor het en dat jy ’n woord van God het waarop jy in geloof kan staan as die golwe rondom jou rof begin raak. Want as jy ’n woord van God vir nou het, kan jy verseker wees: ons God is ook die God wat belowe dat Hy jou nou sal beskerm en dat Hy in Sy getrouheid alles sal voorsien wat jy nou mag nodig hê. Ja, Sy genade is altyd daar vir jou en altyd genoeg!

 

Die feit dat jy ʼn Christen en volgeling van Jesus is en die dinge doen wat ’n volgeling van Jesus moet doen, is nie die primêre rede waarom jy hier op aarde is nie.

Jy met jou spesifieke S-H-A-P-E, pas êrens in die Here se groter prentjie in.
In hierdie Akroniem SHAPE, staan die S vir “Spiritual gifts”, die H vir “Heart”, of in Afrikaans “passies”, die A vir “Abilities”, die P vir “Personality”, en die E vir “Experiences”.

Natuurlik is daar ʼn deel van elkeen van ons se SHAPE wat daardie bonatuurlike gawes (van die Gees) insluit wat God bonatuurlik, as ʼn geskenk, aan ons gee wanneer Hy ons doop en salf met Sy Gees. Ja, dit is wat gebeur het in die vroeg-Christelike gemeentes (soos in Handelinge), normaalweg op daardie eerste dag wat jy tot bekering en tot geloof gekom het.

Gaan kyk maar in Handelinge 2:36 tot 39, of in Hand. 8:4 tot 25, of in Hand. 19:1 tot 7, wat gebeur het wanneer gelowiges wat tot bekering gekom het, deur die ander gelowiges dadelik geneem is na water toe waar hulle dan gedoop is. En sommer daar in die water, na hulle doop, het die ander gelowiges hulle hande opgelê en is daar vir hulle gebid dat Jesus wat ook die Doper is met die Gees, hulle sal doop met Sy Gees en bonatuurlik sal toerus met die gawes van die Gees. (Kyk Rom. 12, en 1 Kor. 12 en 14)

Deel van jou opdrag in die Here se diens, gaan draai rondom dit wat die Here in jou as’t ware ingebou het. Deels daarvan het jy van jou Pa en Ma en ander voorouers geërf deur jou baie unieke DNA. In ons Akroniem, SHAPE, vind jy dit in daardie A en P.

Om dit sommer maklik te maak vir jou om agter te kom, kyk maar net na daardie dinge waarin jy goed is. Mense sê soms “jy het ʼn aanleg daarvoor”.

Dit kan ook natuurlik die H insluit of daardie dinge wat jou na aan die hart lê en waarvoor jy ʼn diep, innige passie het. Ek sê altyd, passies is daardie dinge wat ek en jy sal wil doen as ons ʼn 100 miljoen in die bank het, en nie nodig het om te werk vir geld nie, maar wat ons nogtans 24 uur vir 7 dae elke week, sal wil doen as ons kon.

Sommige van ons is van nature goeie sangers of ʼn goeie musikant, want ons het miskien ʼn goeie stem of werklik musikaal en kan met gemak musiek maak.

Ander van ons het hierdie slag om met mense te werk, soos met kinders of ouer persone. Of dalk met siek mense, of arm mense.

Of miskien is jy daardie gebore entrepreneur, wat van kleins af ʼn kop of aanleg gehad het vir besigheid.

Jy moet verstaan dat God baie doelbewus hierdie DNA in jou ingebou het, want Hy het altyd ʼn plan daarmee in Sy groter plan. Daarom is dit van lewensbelang dat jy met hierdie dinge sal erns maak in jou soeke na waar jy in Sy plan en wil inpas.

Dieselfde is ook waar van alles wat jy tot nou toe beleef en ervaar het in jou lewe. Hier gaan dit oor die E in SHAPE.

En ja, dit sluit die goeie en die baie hartseer en trauma in jou lewe in. Dit kan selfs daardie dinge insluit waarom mense gedink het jy is ’n mislukking of net ’n reuse probleem vir almal.

So baie keer vind ons mense rondom ons in wie se lewe en bediening die Here hulle gewys het hoe Hy hulle “mess” omgedraai het sodat dit uiteindelik deel van hulle “mess-age” geword het.

Die Here stuur ons nie sommer in iets in waarvoor Hy nie ons langs die pad eers ’n bietjie in opgelei het nie!

En soos ek gesê het, kan hierdie opleiding in goeie of skynbaar slegte dinge wees. Ja, dit kan dus van daardie goeie of selfs meestal slegte ervaringe in jou lewe tot hier insluit.

Wat wel belangrik is, is dat jy sal besef jy is opgelei vir ’n tyd soos hierdie!

Friday, 08 September 2023 15:47

God gebruik altyd mense, iemand soos jy

 

Kom ons praat ʼn bietjie oor jou en oor hoe God jou wil en kan gebruik.

Besef jy dat toe God jou gered het, het Hy nie net jou gered om eendag hemel toe te kan gaan nie. Nee, Hy het jou gered met ʼn plan in gedagte.

Dit staan op baie plekke. Soos daar in Ef. 2:10.

“Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Het jy mooi gelees wat hier staan?

Lees dit net weer en luister wat wil God self vir jou deur hierdie Woord van Hom sê.

Daarom moet ek en jy, na ons bekering, met die Bybel op ons skoot, mooi luister na wat God vir ons hieroorwil sê, want jou persoonlike opdrag en roeping is die belangrikste ding in jou lewe na jou verlossing.

Wanneer jy by God self, uit Sy eie mond, hoor wat jou roeping en opdrag is, belowe ek jou, gaan jou hele lewe verander!

Skielik gaan alles in jou lewe, ja, selfs jou geloof en jou hier wees, nuwe betekenis kry!

Gaan blaai maar ʼn bietjie rond in die Bybel en ontdek dat God altyd begin met ʼn individu vir wie Hy ʼn spesifieke opdrag gee. Soos vir ʼn Noag, of ʼn Abraham, of ʼn Moses, of ʼn Dawid.

Natuurlik, gaan daardie mens wat God roep en so ʼn opdrag gee, voel dat hulle nie kan nie, dat daar altyd iets is wat kort. Maar as jy weet dit is God wat jou roep en wat vir jou hierdie opdrag gegee het, dan weet jy ook dat Hy alles sal voorsien wat nodig is.

Hoe sê ons altyd: Die Here belowe dat Hy altyd sal voorsien presies wat nodig is, as Hy die opdrag daarvoor gegee het!

En as jy nog wonder daaroor, vra maar ʼn bietjie daar rondom jou in die familie van gelowiges wat hulle beleef het in die verband. En word bemoedig deur hulle getuienisse.

As jy my sou vra, kan ek vir jou hoevele stories in die verband vertel.

Stories soos die een wat ek die week vir ons Familie van families vertel het.

Van hoe die Here ons op die 10de Oktober 1993 opdrag gegee het om te bedank as leraar uit die NG Kerk uit, en dat ek nooit weer ʼn salaris van enigiemand sal ontvang nie. Hy sal ons Totale Versorger en Voorsiener wees wat self aan Sy kinders rondom ons opdrag sal gee om vir ons te gee wat ons nodig het.

Dit is oor ʼn maand 30 jaar, maal 12 maande elke jaar, wat die Here getrou alles voorsien wat ons nodig het in die bediening waarmee Hy ons vertrou!

Doen maar self die somme in die lig van wat jy en jou gesin elke maand nodig het, en maal dit dan met 360.

Laat dit dan jou bemoedig in wat die Here van jou vra, want onthou, die Here het nie witbroodjies nie! Dit wat Hy belowe, geld vir elkeen van Sy kinders!

 

Vriende, oor sowat ’n maand is dit nou 30 jaar wat ek en Hetta die nuwe pad saam met die Here voltyds in bediening binne Sy Liggaam stap en wat die Here ons TOTALE VERSORGER is.

Ja, 30 jaar! Maand vir maand, reeds vir 12 maal 30 maande altesaam! Doen maar verder die somme om te sien vir hoeveel dae dit nou al is wat ons aan ons Vader se voete moes sit en Hom alleen vertrou om in al die brood, en alles wat ons nodig het, te voorsien.

Ja, ek weet elkeen van julle ken dit! Dit is immers die pad wat elkeen van ons ook loop wat Christus Jesus as Verlosser en Here aangeneem het in geloof, en daar waar Hy as Koning jou voltyds aangestel het as Sy ambassadeur in diens van Sy Koninkryk wat kom.

Waar ek en Hetta nou aan die einde van hierdie 30ste jaar gekom het, is ons dus gevul met dankbaarheid teenoor ons Hemelse Vader wat Sy beloftes aan ons, van die begin af, elke dag nagekom het. Ja, Hy het werklik ons, sonder ’n salaris elke maand, deur Sy kinders se liefde en gee in ons lewe, in alles voorsien wat ons nodig het om te kon doen wat Hy ons beveel het.

Daarom wil ek en Hetta voor jou en jou familie vandag kom staan en sommer net dankie sê vir julle gewilligheid om kanale te wees van God se genade en liefdevolle versorging in ons lewe as gesin, vir die tyd wat ons mekaar ken en ’n pad saam stap! DANKIE, DANKIE, DANKIE!

Mag die Here julle vir julle gehoorsaamheid uit julle skoene seën!

Maar hier aan die einde van hierdie 30 jaar moes ek en Hetta net weer seker maak of ons werklik elke dag in die bediening wat die Here aan ons toevertrou het, gefokus het op die dinge wat belangrik is en op dit wat die Here ons beveel het.

Maak jy dissipels?

En om hieroor te praat, moet ek vir julle van ’n gesprek vertel wat ek so ’n maand terug gehad het met Bennie Mostert. Ja, daardie Bennie Mostert, die stigter van die landswye gebedsbediening, JERIGO MURE!

Nou ja, Bennie is ouer as ek en Hetta. Met ander woorde, ouer as 70 jaar oud!
En daar in daardie gesprek langs die tafel in MUGG & BEAN, hoor ek Bennie sê: Weet jy, met alles wat die Here deur my kon doen, het ek so ’n rukkie gelede ontdek EK DOEN NIE EINTLIK WAT DIE HERE MY OPDRAG GEGEE HET OM TE DOEN NIE!

Bennie het weer MAT. 28:19, 20, die GROOT OPDRAG, nuut ontdek!

Ds. Bennie Mostert, die voorloper in hierdie nasionale Gebedsbediening, het ontdek dat hy, ten spyte van al die belangrike dinge wat hy mee besig was al die jare, nie presies gedoen het wat die Koning, sy Koning, Jesus Christus in Sy groot opdrag aan ons, ons beveel het om te doen nie!

So moes ek en Hetta weer ook in die bediening wat die Here ons mee toevertrou het, weer mooi gaan luister na hierdie GROOT OPDRAG:

GAAN DAN EN MAAK DISSIPELS VAN AL DIE NASIES…
EN DOOP HULLE IN DIE NAAM…
EN LEER HULLE OM ALLES TE GEHOORSAAM WAT EK JULLE BEVEEL HET!

En soos ds Bennie, moes ek en Hetta voor die Here onsself vergewis of ons werklik DISSIPELS MAAK soos Jesus ons geleer het!

Bedien ons die volledige Evangelie, die GOEIE NUUS, aan mense, soos Jesus ons geleer het?

En as hulle hul sonde besef, en Jesus aanvaar in geloof, doop ons hulle in water, en dan in die Gees, soos Jesus ons geleer het in Sy Woord?

En stap ons dan ’n pad met hulle om hulle weer te leer om ook ander mense te kan dissipel?

Daarom het ek en Hetta gekies om die volgende te doen:

Omdat my opdrag en spesialiteit-vaardigheid is om digitaal en met die digitale media (soos die wêreldwye internet, webblaaie, rekenaars, selfone, sosiale media, toeps/Apps, ens.) MILJOENE te kan bedien op die wyse, het ek weer gaan sit en luister hoe wil die Here hier waar Hy my outoriteit gegee het en geposisioneer het, op die mees effektiewe manier, julle en elke ander mens wat die Here oor my pad bring, DISSIPEL, en ook leer om ander TE DISSIPEL!

Bou vir My 'n App/Toep, genaamd JOURNEY OF DISCOVERY!

En behalwe vir wat ek in die res van die bediening reeds doen en ook gaan doen, het die Here my opdrag gegee om…

’N TOEP/APP TE BOU, wat op jou selfoon afgelaai kan word, JOURNEY OF DISCOVERY is sy naam, om elke gebruiker te help om net met die Bybel op hulle skoot...
DIE VOLLE EVANGELIEBOODSKAP SELF TE HOOR
EN TE LEI NA ’N BYBELS NORMALE GEESTELIKE GEBOORTE
EN DAN TE LEER WAT JESUS ONS ALLES GELEER HET
SODAT HULLE OOK, MET DIT IN HULLE HAND, ANDER WEER KAN DISSIPEL.

Hierdie App/toep, bou ek om in begin Oktober vanjaar, by die TIME2RISESA se landwye bymekaarkom by WILDEALS, net buite Bloemfontein, aan elke persoon wat reeds deel is van TIME2RISESA, maar ook die 11 miljoen, wat ons die Here voor vertrou teen volgende jaar voor die Nasionale Verkiesing, GRATIS TE KAN GEE.

Die Here het reeds vir my guns by die leierskap in die beweging gegee en die groen lig hiervoor gegee!

Here, ons vertrou U vir 'n nuwe motor!

Dit bring my by DIE BROOD VIR VANDAG, waarvoor ek en Hetta die Here nou voor vertrou:

Ons vertrou die Here nou vir ʼn nuwe, betroubare motor, om Bloemfontein toe te ry, en daarna, om landwyd en waar die Here die deure oopmaak, hierdie lering en alles wat deel daarvan is, te gaan bedien aan mense vir die tyd wat ons nog op aarde is.

Daarom het ons gedoen wat ons moet doen:

Ons het hierdie motor wat die Here ons 14 jaar gelede gegee het, mooi opgepas en versorg, maar nou moet ons dit vervang met ʼn nuwe (met diensplan, ens.) vir die pad vorentoe.

Ons het die enigste skuld wat ons nog gehad het, naamlik ons huislening, volledig afbetaal en afgelos.

Ons het begin onderhandel en ʼn gelowige gesin aan wie die HAVAL agentskap behoort, het vir ons sowat ʼn R100 000 afslag gegee op ʼn splinternuwe HAVAL JOLION LUX.

Omdat ons die motor sover moontlik kontant wil koop, het ons die Here reeds lank gelede begin vertrou vir geld vir die nuwe motor.

Die Here het reeds R140 000 hiervoor gegee. Nou vertrou ons die Here net nog vir die res van die sowat R200 000.

Sal jy asb., die Here saam met ons hiervoor vertrou?

Baie dankie, en mag jy en jou geliefdes die Here se oorvloedige seën en versorging in die detail van julle daaglikse behoeftes beleef!

Lief vir julle.

As die Here jou wil gebruik in ons lewe en bediening...

As jy ons bediening finansieel wil ondersteun deur ʼn eenmalige bedrag of op ʼn maandelikse basis, hier is ons bankbesonderhede:

C A Nel, by ABSA (SWIFT: ABSA ZAJJ). Takkode: 632005. Rekeningnommer: 4040149654

C A Nel by CAPITEC (SWIFT: CABLZAJJ). Takkode: 470010. Rekeningnommer: 1345180967.

Baie dankie by voorbaat!

Wil jy graag met ons persoonlik kontak maak?

Neem vrymoedigheid en gebruik die volgende kontakbesonderhede om met ons kontak te maak.

Ons fisiese adres is 8 Willow Straat, Westridge, Somerset-Wes 7130.

Ons e-posadres is This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

Christo se selnommer is 082 770 2397 en Hetta se selnommer is 072 828 4900.

Ons is ook op FACEBOOK, WHATSAPP, TELEGRAM, SIGNAL, SKYPE, FACETIME en ZOOM beskikbaar.

Ons webblaaie is www.nuwewyn.co.za en www.new-wine.co.za

Mag jy die Here se seën beleef!

 

 

Sien jy dit raak?

Vir soveel jare is ek een van honderde profetiese stemme wat profeteer wat God aan ons gesê het, naamlik dat HERLEWING op pad is hier in Suid-Afrika!

Ek is oortuig ons sien dit al vir jare gebeur! Maar in die besonder hierdie jaar, 2023!!

Vriende, God is besig om hierdie stukkende land met sy miljoene stukkende mense aan te raak en om dinge te verander!

Kyk wat het reeds gebeur met die hele GEBEDSBEWEGING wat vir soveel jare stadions volgepak het met derduisende Suid-Afrikaners wat begin bid het vir hierdie land, en wat nou nog steeds in elke dorp en stad, week na week, steeds bly bid.

En dan is daar die MIGHTY MEN-byeenkomste waar derduisende saam getrek het en die Here God duisende manne aangeraak het en teruggestuur het na hulle huwelike en gesinne en besighede om 'n verskil te maak.

En toe, in Januarie vanjaar, raak God 300 manne aan daar by Camp Unity, buite Bloemfontein, en TIME2RISESA kom in beweging.

Tans is dit werklik besig om in elke gemeenskap in hierdie land, van grondvlak af, die Liggaam van Jesus, een gelowige op 'n keer, te verenig en te inspireer om op te staan en om die stukkende mure daar voor jou huis te begin herstel en om te doen wat jy kan en moet doen.

As deel hiervan, hierdie pasafgelope week, op 29 en 30 Augustus 2023, het dr Michael Louis en 'n hele regspan die regering van SA hof toe geneem vir wat seker die belangrikste hofsaak nog ooit in SA gaan blyk te wees. Alles as deel van die voorbereiding om met volgende jaar se verkiesing 'n nuwe regering in hierdie land in plek te sit.

Gaan kyk na 'n video hieroor as jy nie weet waarvan ek praat nie.

https://youtu.be/UyndAlTa3wI?si=ANSJ7sG04zJR57SG

En gaan na ons webblad by www.Time2RiseSA.co.za en kyk 'n video hieroor by https://www.youtube.com/watch?v=2Z1ct-BNPig

WORD DEEL VAN ONS NASIONALE SPAN!

Ja, JY KAN 'N VERSKIL MAAK!

Die tyd is nou!

As dit nie by ons begin nie, wie dan anders? As dit nie nou begin gebeur nie, wanneer dan?

"’n Volk juig as regverdige mense die mag kry; ‘n volk sug as ‘n goddelose mens regeer." (Spr. 29:2)

GENOEGisGENOEG

ENOUGHisENOUGH

Time2RiseSA

 

Ek is besig om met net die Bybel op my skoot, my te probeer voorstel hoe gaan dit lyk in ʼn land waar Mat. 24 en 25 begin gebeur omdat God se mense opgestaan het en begin doen het wat God sê.

Want dit is natuurlik die eerste stap: Ons moet self begin doen wat ons hoor die Here vir ons sê om te doen!

Kan ek jou vra: Het jy al daardie keuse in jou lewe gemaak? Om elke keer as jy die Here iets hoor sê onmiddellik en onvoorwaardelik te begin doen wat Hy vir ons aansê om te doen.

Die volgende tree is natuurlik om ook met ander rondom ons te begin praat oor wat ons by die Here self gehoor het.

Lyk vir my dit sal beteken dat ons dit wat ons gehoor het by die Here, moet vertaal in ʼn taal wat die mense rondom ons verstaan en praat.

Dan kan ons nie maar net probeer om Bybelverse aan te haal en om dinge op ʼn kerk-manier te sê soos ons by ons pastoor of dominee of geestelike leier dit gehoor het nie.

Dan kan ons ook nie net met die simptome van die siektes om ons handel nie. Nee, dan sal ons God se Gees moet vertrou om aan ons die wortels te wys van die siektes wat ons nou rondom ons sien, wat soveel verwoesting in mense se lewens veroorsaak.

Neem nou maar net selfsug en gierigheid as ʼn voorbeeld.

Ons moet verstaan dat dit nie gaan help om al die multimiljoenêrs en biljoenêrs in die wêreld aan te sê om ten minste 10 tot 80 persent van hulle “wealth” te begin weggee aan die “armes” nie. Nee, want die wortelprobleem is baie dieper as dit. Ons moet verstaan dat ons daarbuite met ʼn Babiloniese sisteem te maak het waar ʼn bose gees, Mammon, in beheer en die god van is. Want dit is daardie gees wat mense belieg en bedrieg dat hulle dink dat alles net oor self gaan en oor hoe om die maksimum vir jouself daar uit te haal.

Ja, dat hierdie gees se mag in ons lewe gebreek word wanneer ons hoor hoe Jesus met elkeen van ons hieroor begin praat. En hoe Hy vir ons sê: Maar Ek sê vir jou: Bekeer jou, want die Koninkryk van God is ook nou hier… Om jou lewe, jou besigheid, jou familie, jou huwelik en jou geldsake nou te kom verander!

Eers as ek en jy, in ons eie persoonlike lewe, weer 1 Joh. 1:9 hoor en gehoorsaam, wat vir ons sê:

Maar as ons ons sondes bely-Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

En vers 10 wat sê: “As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.”

Ja, dit geld ook vir jou!

Want eers as dit by ons persoonlik begin, en hierdie transformasie my en my hele lewe begin verander soos wat God se Gees my begin lei om te verander, kan God my gebruik om rondom my verandering te bring.

Ons het nodig om dinge anders te begin doen. Dit is mos hoe ware berou en bekering werklik lyk. Dit is om dinge anders te begin doen nadat ons ontdek het wat die Koning van die Koninkryk wil hê. En dit lyk anders as wat ek nog al die tyd dit gedoen het.

As ons dit ook in die markplek prakties begin doen, gaan mense rondom ons dit proe en ervaar. Hulle gaan ontmoetings met ʼn lewende God daar hê en hoor hoe Hy ook met hulle praat. En dit gaan hulle ook tot bekering laat kom.

Daarom moet ons ons stories begin vertel oor hoe dit in ons eie lewe gebeur het en hoe dit ons lewe begin verander het. Ons sal moet begin vertel wat ons gehoor het Hy sê en hoe Hy ons Sy waardesisteem begin leer het, en ons geleer het hoe om dit prakties toe te pas in die markplek. Maar ook watter seën dit dan tot gevolg gehad het toe ons dinge begin doen het op Sy manier en in gehoorsaamheid aan Sy stem en dit wat Hy ons geleer het.

Daar waar ons die Goeie Nuus oor God se Koninkryk wat hier op aarde kom, prakties begin leef en leer daar op die markplein, gaan mense die verskil sien en gaan hulle begin vra: Maar hoekom doen jy dinge so? Wat is die redes daarvoor?

 

Kan jy dink wat kan gebeur as gelowige volgelinge van Jesus, wat in Hom glo en Hom liefhet, daar waar Hy hulle geposisioneer het, in die markplek, of daar in hulle boerdery, of besigheid, of universiteit, of kollege, of skool, of waar hulle woon en tussen hulle vriende, maar net begin doen wat God vir hulle aansê om te doen.

Kom ons gaan sit weer elkeen net met God se Woord, die Bybel, op ons skoot, en begin om net prakties te doen wat Sy Gees ons dag vir dag leer om te doen.

Kan jy dink wat gaan gebeur as ons elke dag begin om te bid soos Jesus ons geleer het om te bid:

Ons Vader,
Laat U Naam geheilig word.
Laat U Koninkryk kom.
Laat U wil geskied, hier rondom my en deur my, hier op aarde waar U my geposisioneer het, sodat dit ook hier kan lyk soos wat dit reeds in die hemel is.

En kan jy dink hoe sal dit dan begin lyk daar in jou huis en familie. En in die gemeenskap waar jy woon; of daar by die werk en in jou besigheid, of op jou plaas.

God het vir ons gesê aan die begin van hierdie jaar dat ons in ’n nuwe seisoen ons bevind. Maar nie net maar weer net nog ’n nuwe seisoen nie, maar ’n nuwe seisoen wat iets soos ’n Grand Finale gaan wees.

Kan jy dink hoe gaan Suid-Afrika, of die land waar jy tans jou bevind, lyk as die Koninkryk van die hemel hier tussen ons sigbaar word!

Dit is mos niks anders as sosiale transformasie en herlewing wat ons voor ons oë dan gaan sien gebeur nie...

Dit is mos hoe dit lyk daar waar Sy Koninkryk kom, Sy wil geskied!

Met ander woorde, elke keer wat ons die gebed bid wat Jesus ons geleer het, in hierdie Grand Finale-seisoen waarin ons is, bid ons dus nie net dat dit in ons eie lewe en eie familie sal gebeur nie! Nee, ons bid ten minste dan ook vir die land en die nasie waarvan ons deel is, dat hierdie land en hierdie nasie een van dié sal wees aan die einde, soos Jesus daar in Mat. 25 dit verduidelik het.

Ja, dat ons ook een van daardie lande en nasies sal wees wat onder die “skape” gereken sal word. Omdat hier ʼn ander kultuur begin heers het, met ander waardes. Waar mense vir mekaar begin omgee en sorg het; waar mense geleentheid het om te ontwikkel en voorspoedig te wees; waar daar nie vrees is nie; waar daar nie gulsigheid en selfsug is nie; waar daar nie korrupsie heers nie.

Dit kan net gebeur as die Ekklesia, elke gelowige volgeling van Jesus, wakker skrik, die Bybel gryp en tyd maak om te gaan sit en te luister of hulle nie God self met hulle hoor praat elke dag nie.

En as Hy dan praat, dan opstaan en onmiddellik, onvoorwaardelik, gaan doen wat Hy gesê het hulle moet doen.

 

God se aardse seuns en dogters het ʼn plek en ʼn rol wat geen ander geskape wese kan hê nie.

Hoekom nie?

Omdat geen ander geskape wese toegang het tot die hart van die Vader soos wat die mens het nie. Ons is immers geskape na Sy beeld en bedoel om ʼn intieme liefdesverhouding met Hom as God en Vader te hê.

Reeds daar in Johannes, in Johannes 14, het Jesus vir ons belowe dat Hy met Sy dood en opstanding, en ja, met die koms en inwoning van Sy Gees in elkeen van Sy kinders se lewe, vir ons ʼn plek gaan voorberei wat Hy as die Seun tot dusver alleen gehad het. Ja, en daardie plek is ʼn plek teen en in Sy Vader se hart!

Deur wat Jesus as God se Enigste Seun vir my en jou gedoen het, en wat nou deur die inwoning van Sy Gees in die lewens van Sy seuns en dogters moontlik geword het, het ons toegang tot hierdie intieme liefdesverhouding met die Lewende God!

Dit is hoog tyd dat ons opstaan en hierdie voorreg en verantwoordelikheid opneem as die Koning se medewerkers, Sy ambassadeurs, hier op aarde. Ja, dat ons gehoorsaam begin proklameer en getuig oor dit wat ons weet in die hart van die Vader is.

Daar waar ek en jy optree in die Naam van Jesus, waar ons begin doen en sê wat die Koning ons aangesê het, gebeur iets van God se Koninkryk en Koning-wees in die hier en nou. Natuurlik nog nie volledig en volkome nie, maar ons begin beslis reeds hier iets hiervan soos sprankies hemel oral deurbreek hier op aarde!

Natuurlik gaan daar tye wees wat God soewerein anders besluit en dinge anders laat gebeur as wat ons gedink het of selfs voor gebid het. Maar nooit mag dit as’t ware die mat word waaronder ons al ons onbeantwoorde gebede kan invee nie, net omdat ons bloot aanvaar het dat dit nie die wil van God was dat dit nie gebeur nie, of dat God in hierdie geval eenvoudig nee vir altyd gesê het nie.

Kan jy glo, ten spyte van wat God op alreeds op soveel plekke oor en oor reeds wonderbaarlik gedoen het, is daar nog steeds diegene onder ons is wat gekies het om te glo dat God nie meer vandag bonatuurlik mense genees nie of dat wonders nie meer vandag gebeur nie!

Is jy of van jou geliefdes dalk een van hulle?

Ek het gekies in geloof om nie een van hulle te wees nie. Ek het die God van die Bybel en Koning Jesus leer ken in my en ander se lewens wat merkwaardig wonderlike, menslik onmoontlike, dinge kan doen en laat gebeur!

Ja, natuurlik is daar tye wat ek nie alles kan verduidelik wat gebeur of nie gebeur het nie. Maar ek het ook vrede hiermee gemaak. Solank as wat God God is, gaan daar altyd hierdie element van misterie en nie-weet en nie-alles-verstaan-nie in my en ander se lewens hier op aarde wees.

Ja, ek het besluit dat hierdie element van misterie net so belangrik is as dit wat God wel aan my geopenbaar en gesê en gewys het!

Ja, ek het geleer dat as ek nie plek maak vir hierdie element van misterie in my lewe nie, maak ek nie plek en ruimte vir daardie geleenthede waarin ek verder kan groei in my vertroue en geloof in wat God kan en wil doen hier op aarde, as Koning en Here, ook hier op aarde nie.

En ek het nodig om te leer om ten spyte van wat rondom my gebeur, ek steeds sal bly glo en steeds geduldig bly wag op die Here.

Weet jy wat ek ontdek het? Ek het ontdek dat ek situasies in my lewe nodig het waar ek moet leer om God en wat Hy vir my in Sy Woord sê, steeds te bly vertrou, al gebeur daar soms nie presies wat ek verwag het gaan gebeur nie!

Ek het geleer om plek te maak in my lewe vir God om altyd God te wees in my lewe. Ja, Hy is immers My Vader, wat alles ten goede laat gebeur vir diegene wat Hy liefhet.

Dit is immers ook wat Rom.8:28 ons belowe: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”

 

In die hemel is daar nie meer plek vir trane, siekte, pyn en die dood nie.
Daarom het Jesus as deel van Sy bediening hier op aarde, oral iets van die goeie nuus dat die Koninkryk van die hemel ook nou hier op die aarde gekom het, geïllustreer. Daarom het Hy siekes gesond gemaak, mense se trane afgevee, pyn verlig en selfs dooies opgewek.

Daarom het Jesus ook Sy vriend, Lasarus opgewek uit die dood.

ʼn Paar jare later is Lasarus dood en het sy fisies-chemiese liggaam nie weer opgestaan in hierdie lewe hier op aarde nie. Nou was hy weer saam met soveel ander gelowiges wat dood was, reeds voor die troon van God in die hemel.

Daar is dus ʼn dimensie van die Koninkryk van die hemel wat reeds ʼn effek en skadu’s gooi in die hier en nou hier op aarde. Tog weet ons, daar wag nog baie meer vorentoe! Ja, die Koninkryk van God in Sy volheid wag êrens vorentoe, in die toekoms.

Hierdie spanning van wat ons in die hier en nou die Here voor kan vertrou, en wat vorentoe op ons wag en dus nog nie, nie nou al, hier gaan waar word nie, is nie altyd ʼn maklike ding om mee saam te leef en mee vrede te maak nie.

Die gevaar en tragedie is dat juis dit vir baie mense ʼn wegkruipplek en ʼn verskoning word waarom hulle nie wil of kan glo wat God vir ons in Sy Woord belowe nie.

Hierdie spanning tussen wat nou hier moontlik is en wat nog nie nou gaan plaasvind nie, maak dat baie mense dink en glo dat iets nie gebeur het nie omdat dit net nie God se wil vir nou was nie!

Daarom hoor ons mense sê: Wel, God is groot en magtig genoeg om enigiets te doen of enigiets te laat gebeur, maar die feit dat dit nie gebeur het nie, bewys dat dit nie God se wil was nie.

Natuurlik is daar ʼn stuk waarheid in so ʼn redenasie, want ons weet immers dat die God wat ons aanbid God is wat soewerein doen wat Hy wil.

Wat so ʼn redenasie egter nie raakvat nie, is dat hierdie God gekies het om my en jou binne hierdie soewereine wil van Hom, binne die onmoontlike wat Hy kan en wil doen, ʼn baie doelbewuste plek gegee het.

Die God van die Bybel, het gekies om van aardse mense Sy eie familie, Sy kinders, te maak. Hy het ons geskape, toegerus, en aangestel om saam met Hom en dit waarmee Hy hier op aarde mee besig is, besig te raak. Hy nooi dus gewone aardse mense, om saam met Hom, as Sy medewerkers, in Sy besigheid hier op aarde betrokke te raak.

1 Kor. 3:9, byvoorbeeld, sê die volgende:

“Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God. Julle is ook die gebou van God.”

Ja, sê God in Sy Woord, ons is Sy medewerkers, Sy ambassadeurs, Sy arms, bene, Sy tong, want dit wat Hy in Sy hart het, wil Hy hier op aarde deur ons laat begin gebeur.

Daarom gryp die prentjie wat die boek, Openbaring, my elke keer aan. Ja, daar sien ons hierdie miljoene engele en ander hemelwesens reeds rondom God se troon staan, maar hier op aarde is dit gewone fisies-chemies geskape wesens vir wie God ʼn plek en ʼn rol gegee het wat selfs die engele nie kan speel nie.

 

Kom ek haal hier ’n paar verse aan wat my elke keer aangryp as ek dit lees. Dit staan in 1 Kor. 15:23 tot 27.

“Maar daar is ‘n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort.

Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het.

Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het.

Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.

Daar staan immers geskrywe: ‘Alles het Hy aan Hom onderwerp.’”

Hoor jy, dit is presies soos wat ons Here en Koning, Jesus, ook daar in Rom. 14:11 sê:

“So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.”

As jy mooi gaan lees wat in albei hierdie gedeeltes in God se Woord staan, is dit duidelik dat hier nie net van ’n werklikheid en gebeure gepraat word wat eers aan die einde, met en na die Wederkoms van Jesus, gaan plaasvind nie. Nee, hier word van gebeure gepraat wat nou al hier rondom ons aan die gebeur is.

Oral waar mense en magte hulle knie voor Jesus as die Koning en Sy heerskappy buig en dit met hulle tong bely, ja, bely dat Hy Verlosser en Here en God is, daar gebeur hierdie woord voor ons oë hier op aarde reeds.

Daar waar ek en jy, in die Naam van Jesus, stukkendheid, seer, onreg, noem maar op, bedien en sien hoe Jesus dit verander, sien ons iets van die Koninkryk van God voor ons oë gebeur.

Ja, die Heerskappy en Koninkryk van Jesus gebeur eintlik in ’n dimensie en werklikheid waar ons nie dit kan sien gebeur met ons gewone oë nie, maar wat ons wel kan sien en ervaar, is die resultate en gevolge daarvan.

Om te probeer illustreer wat ek hier sê, hoef ons net na die lewe en werk van Jesus hier op aarde te kyk. Elke wonderwerk wat Jesus gedoen het, elke siek mens wat gesond geword het, elke blinde mens wat weer kon sien, elke dooie wat opgestaan het, elke keer wat brood en vis meer geword het sodat almal wat honger was genoeg kon eet, het iets van wat Koninkryk van God beteken, voor ons oë sigbaar geword (gemanifesteer).

Maar dit wat ons sien en ervaar, is maar net ’n klein stukkie, ja, selfs net ’n skadu van wat die Koninkryk van God werklik daar waar ons nie kan sien nie, in werklikheid is.

Daarom sê God self deur Sy Gees, daar in Rom. 14:17:

“Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.” (OAV)

Die NAV vertaal dit so: “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.”

Die Koninkrk van God, die Koningskap van Jesus, dat Hy reeds die nuwe Koning is en reeds heers ook hier op aarde, is ’n werklikheid, maar ek en jy sien net hier en daar sprankies, refleksies, manifestasies daarvan midde ons gebroke wêreld. Maar as ons mooi kyk, sien ons reeds die gevolge daarvan.

Ons kan reeds hier rondom ons mense wat hulle hele lewe verslaaf en gevangenes was, sien vry word. Ons kan siekes sien wat gesond geword het. Ons kan honger mense sien wat gevoed is en wie se dors geles is.

Maar tog, al sien ons reeds in die hier en nou iets van die Koninkryk van God rondom ons deurbreek, weet ons dat die Koninkryk van God baie meer is as dit.

Ja, dat daar altyd hierdie stuk spanning sal wees tussen dit wat ons in die hier en nou beleef, of verwag om te gebeur, en dit wat ons weet nog op pad is en vorentoe wag.

Ja, dat daar ’n kant is van die Koninkryk van God wat nie nou al, in die hier en nou, kan gebeur en deurbreek nie! Soos wat genesing reeds in die hier en nou in ons fisies-chemiese liggaam wonderbaarlik kan gebeur, weet ons, gaan hierdie fisies-chemiese liggaam, êrens vorentoe, tog sterf en vergaan, want hierdie fisies-chemiese liggaam van ons is steeds maar net ’n tent wat bedoel is vir die hier en nou hier op aarde. Voorkant toe moet dit padgee, vir die nuwe verheerlikte liggaam wat God vir ons bedoel het wanneer ons die volheid gaan beleef en ingaan in Sy volle, heerlike Koninkryk.

Met ander woorde, die Koninkryk van God en van Jesus, is ’n werklikheid reeds nou, maar nie in sy volheid en volle heerlikheid nie, want ons en ons liggaam en fisiese wêreld rondom ons, kan nog nie dit vat en hanteer nie.