Displaying items by tag: 2021 Profeties

Lees Eseg. 36:22 – 28

“Daarom, sê vir Israel: “So sê die Here my God: Dit is nie ter wille van julle dat Ek optree nie, Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat deur julle oneer aangedoen is onder die nasies waar julle gekom het.

Ek sal die heiligheid van my groot Naam laat blyk wat onder die nasies in oneer gekom het. Julle het my Naam oneer aangedoen onder die nasies.

Wanneer Ek my heiligheid laat blyk in wat Ek met julle doen voor die oë van die nasies, sal hulle besef dat Ek die Here is," sê die Here my God.

Ek sal julle tussen die nasies uit wegvat, julle uit al die lande bymekaarmaak en julle na julle land toe bring.

Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery.

Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee.

Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.

Julle sal in die land woon wat Ek aan julle voorvaders gegee het, julle sal my volk wees en Ek sal julle God wees. “

Ek beleef die Enigste Ware God en Koning sê:

Ek begeer heiligheid! Ek haat sonde!

Ek begeer heiligheid! Ek haat sonde! Ek haat dit dat julle jul hoop en vertroue plaas op enigiets en enigiemand anders as net van My. Of dit nou geld is, of julle eie planne is.

In die afgelope 8 maande, het Ek, julle Here, wat daar in Rom. 8:28 aan My kinders beloof het dat Ek, vir diegene wat Ek liefhet, alles ten goede sal gebruik, selfs ʼn wêreldwye “lockdown” midde ʼn wêreldwye pandemie gebruik om met My kinders te praat en hulle te reinig!

Ek het hulle geleentheid gegee om weer te fokus op wat prioriteit in hulle lewens behoort te wees.

Ja, hoe belangrik en kosbaar lewe en gesondheid is.

Ek het hulle weer geleer dat die lewe oor verhoudinge gaan, en dat hulle moet tyd maak vir hulle gesinne en families.

Ek het My kinders geleer dat Ek en Ek alleen julle Versorger en Voorsiener is.
Ek het julle weer gefokus op die koms van My Koninkryk.

Die boodskap oor die Koninkryk sny soos ʼn mes gees en vlees, en maak skeiding tussen gees en siel.

Hierdie boodskap oor die Koninkryk laat julle weer kies wie werklik julle God is en wie dien julle werklik?

Daarom is Ek selfs besig om dit wat baie van julle “kerk” noem, “toe te maak”.

Onthou wat Ek vir julle gesê het oor waarmee Ek besig is: Dat deel van My Koninkryk wat hier op aarde kom, elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Ek alleen die Here is.

Daarom sal Ek met My eie hande die deure toe maak van plekke wat sê Ek is daar die Koning en Here, maar tog is My Woord nie die Finale Toets vir waarheid en vir wat daar gedoen en gesê word nie.

Daarom is Ek besig om julle te leer wat die betekenis is van ware Bybelse Ekklesia, en wat nodig is sodat dit kan wees en werk soos Ek dit oorspronklik bedoel het.

Julle is besig om te leer dat spesiaal geboude geboue nie daarvoor nodig is nie.

En ook dat Bybelse Ekklesia nie orkeste en Hillsong-liedere nodig het om werklik te kan “worship” nie.

Ja, dit is Ek wat “kerke’ toe maak en duisende van My mense laat kies om uit te stap en weg te stap van die plekke wat hulle vir jare “hulle kerk” genoem het. Ek het hulle oortuig het dat My Evangelie, My Woord, My Waarheid, nie meer daar bedien word nie en dat Ek nie daar meer God en Here is nie!

Ja, Ek is ʼn liefdevolle, goeie God en Here, maar Ek is ook die Een wat hulle wat lou of koud geword het, uit My mond gaan spoeg!

Dit is My stem wat julle gehoor het wat aan julle gesê het: Gaan uit haar uit!
Moenie langer ongehoorsaam wees nie! Moenie teruggaan en probeer kompromie sluit nie!

Nuwe wyn het nuwe wynsakke nodig, anders gaan dit die ou wynsakke laat bars en dan gaan die nuwe wyn en die sakke verlore!

Laat My toe om julle te verander deur julle totaal, geheel en al, te oortuig van wat My hart, My gedagtes, My planne, My wil, My Woord en My Waarheid is.

Laat My toe om julle te deursoek en te reinig van alles wat nie van My af is nie!

Laat My toe om julle weer passievol te maak oor die dinge waaroor Ek passievol is!

Laat My toe om My hart en My Gees op die troon in julle lewe te plaas!

Voor My sal elke knie buig en elke tong sal bely dat Ek die Koning en Here is!

Ek hoor hoe die Here vra: Glo julle dat Ek nogsteeds alles kan voorsien wat julle nodig het? Selfs wanneer die wêreld rondom julle dit vir julle onmoontlik maak om soos normaalweg te werk, of besigheid te doen, om elke maand genoeg te kan hê? Glo julle dat Ek steeds julle Totale Voorsiener ook dan is?

My geliefdes, natuurlik het Ek oorspronklik bedoel dat julle moet werk om te kan eet en om vir julle geliefdes te kan sorg. Om te kan werk, is deel van My opdrag en genadegeskenk aan julle!

Net so is totale voorsiening deel van My beloftes aan julle as My kinders!

Verstaan julle nie, Ek voorsien nie omdat julle hard genoeg werk nie. Ek voorsien omdat julle gehoorsaam is.

Julle doen wat Ek vir julle sê om te doen en Ek voorsien in wat julle nodig het.
As Ek sê julle moet stil raak en rus, en as julle gehoorsaam is, voorsien Ek ook in daardie tyd alles.

En as Ek dan weer vir julle opdrag gee om iets te gaan doen, om te gaan werk, voorsien Ek omdat julle gehoorsaam was.

Maar as julle dink dat hoe harder julle werk, hoe groter sal die voorsiening wees, het julle, en julle werk, eintlik julle god en julle versorger in julle harte en gedagtes geword!

Terwyl net Ek, ja, net Ek alleen, julle Totale Voorsiener en Totale Versorger kan wees.

Ek is dit, of Ek is nie werklik julle Totale Voorsiener en Totale Versorger nie!

Ondersoek julle harte of julle nie maar weer slawe geword nie! Ja, slawe van julle werk, julle besighede, julle boerdery, julle eie planne en eie-ek!

Verstaan julle nie dat julle dan maar net weer vir julle net nog ʼn afgod geskep het nie! Wat julle eintlik meer vertrou as wat julle My werklik vertrou!

Matt. 11:28,29

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.”

Kom tot rus en leer om weer My volkome te vertrou en My volkome te gehoorsaam!

Kies weer in geloof om My en net vir My ten volle te vertrou vir volkome versorging in julle lewens!

As jy weer leer om My totaal te vertrou… en om totaal op My te fokus, sal Ek julle van oomblik tot oomblik lei en versorg!

Ps. 37:22-24

“Dié wat deur die Here geseën word, sal die land besit; maar dié wat deur Hom vervloek is, sal uitgeroei word.

Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom.

As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here help hom op. “

Soek My, soek My wil, soek My Koninkryk!

Soek dit, fokus daarop!

Jy is Myne. Jy is My kind en Ek is lief vir jou.

Ek het jou versorg en gelei tot hier. Waarom sou Ek dan nie ook nou getrou wees aan My beloftes aan jou nie!

Laat My toe om jou te her-kalibreer! Om jou hart, jou gedagtes, begeertes en waardes te her-kalibreer!

Laat My toe om julle opnuut te leer wat My wil en My hart vir julle is.

Bo alles, kom terug na My toe!

Laat My toe om julle Geneesheer, Voorsiener en Vriend te wees.

Laat My toe om julle Here en julle Koning te wees.

Soek My Koninkryk en My wil, en beleef hoe daar elke dag van alles genoeg sal wees!

Published in Nuusbrief
Tagged under