Displaying items by tag: 40 Dagstukkies

Die einde van ons 40 Dagstukkies

Ek het beleef dat ek vandag die laaste twee dagstukkies aan jou moet stuur om so hierdie reeks van 40 Dagstukkies gedurende die "Lock-down"-tyd te voltooi.

Siende dat ons in die oploop is op pad na Hemelvaart en Pinksterdag, is dit seker heel van pas om hierdie reeks oor die Bloed van Jesus af te sluit met nadenke oor die Heilige Gees en Sy werk in ons.

Ek hoop en vertrou dat die een ding wat jy ten minste verder uit hierdie reeks gaan wegneem dit sal wees wat ons ten minste 40 keer kon oefen!

Hierdie 40 dae het ons immers geleentheid gegee om 'n metode aan te leer waarmee jy self daagliks na die Here se stem verder kan luister!

Dag 39 – Om werklik ʼn getuie van Jesus te wees, moet ons vervul wees met die Heilige Gees

Na Sy opstanding uit die dood, het Jesus vir 40 dae vir Sy dissipels en meer as 500 ander mense gereeld saam gekuier.

Natuurlik kon hulle in hierdie tyd sien Hy lewe regtig! Behalwe dit, het Hy met hulle gesels oor “die dinge van die Koninkryk” en oor wat dit prakties beteken dat Hy hulle hier op aarde agterlaat om “Sy getuies” en “ambassadeurs” van hierdie Koninkryk hier op aarde te wees.

Net voor Sy hemelvaart, daar in Hand. 1, kom Hy en praat met hulle oor die Heilige Gees wat gaan kom (oor wie Hy reeds met hulle gepraat het voor Sy dood, daar in Johannes 14 en hoofstuk 16).

Kom, ons lees vandag hardop Handelinge 1, van vers 1 af tot vers 8.

Wat hoor jy alles in hierdie gedeelte? Sê dit ʼn bietjie oor in jou eie woorde.
Wat sê die Here spesifiek vir jou in hierdie verse?

As jy werklik vandag gehoor het die Here self praat met jou, hoe gaan dit wat Hy vandag vir jou gesê het, jou lewe beïnvloed of verander?

Is daar spesifiek iets wat jy vandag, in die lig van wat die Here vir jou vandag gesê het, wil vra?

Doen dit dan nou in gebed.

Dag 40 – Wat beteken dit dat die Heilige Gees “oor julle kom”?

Vandag wil ek die Here geleentheid gee om met jou self uit die Bybel te praat oor iets wat werklik my lewe en hele bediening as ʼn NG-dominee verander het toe ek dit uit die Here se eie mond gehoor het.

Ek gaan vir jou vandag kans gee om twee gedeeltes uit die Bybel hardop te lees – soos wat ons nou al gewoond is om te doen.

Mat. 3:13-17

Die eerste gedeelte is Matteus 3:13-17.

Luister mooi wat Jesus sê oor hoekom Johannes Hom moet doop in water, in vers 15. En probeer verstaan waarom God die Vader “vereis” dat Jesus, as die Sondelose, “gedoop moet word in water”.

Maar die gedeelte waarop ek graag jou aandag wil vestig vandag, is dit wat daar in vers 16 gebeur het.

Om jou te help om presies te verstaan wat hier gebeur het, moet jy onthou: Jesus, as God die Seun wat mens geword het, het nog altyd die Heilige Gees IN HOM gehad, wat Hom gelei het en altyd by Hom was.

As hier dan staan, in vers 16, dat die Heilige Gees OP HOM KOM, dan moet ons dit verstaan in die sin wat Jesus self dit daar in Lukas 4, van vers 18 af verduidelik, in die woorde van Jesaja 61:1 en verder.

Wat dus hier presies gebeur is dat die Vader Jesus hier bonatuurlik toerus (“salf”, soos wat destyds in die Ou Testament gebeur het, wanneer ʼn profeet in opdrag van die Here, ʼn koning met olie moet salf. Terwyl hy dan die horing met die olie op sy kop uitgegooi het (= hom gesalf het), het daar iets merkwaardigs met daardie man (soos met ʼn Saul of ʼn Dawid) gebeur.

Op daardie oomblik het God self, deur die Heilige Gees, daardie mens bonatuurlik, met die gawes en krag van die Heilige Gees toegerus sodat hy in staat was om deur God gebruik te word om dinge te doen en te sê wat hy nie voorheen kon doen nie!

Hand. 1:1-8

Die tweede gedeelte is Handelinge 1:1 tot 8. Lees dit hardop.

Onthou van wie lees ons hier. Ons kry hier Jesus wat opgestaan het uit die dood en wat vir 40 dae na Sy opstanding gereeld met Sy dissipels (m.a.w. gelowige volgelinge) saam gekuier het.

Dan is daar natuurlik die klomp dissipels self wat daar was. Onthou, hulle was almal mense wat gekies het om te glo dat Jesus werklik God se Seun is, wat ʼn mens geword het, om vir ons as sondaars te kom sterf aan die kruis. Omdat Sy Bloed vir ons sondes gevloei het en Hy so met Sy lewe vir ons die volle straf gedra het, kan God die Vader, elkeen wat dit glo, vergewe, hulle red en hulle Sy kinders maak.

Almal van hulle was dus kinders van God, gered en het aan die Here behoort.
Maar, sê Jesus vir hulle, om werklik in staat te wees om “Sy getuies” te wees, het hulle iets nodig wat nog nooit met enige mens op aarde na die sondeval gebeur het nie. (Dit is nou buiten met Jesus self, soos ons daar in Mat. 3 gelees het)

Hulle het nodig dat die Heilige Gees “oor” hulle kom.

(Dit sal jou baie help as ek vir jou sê dat die woord in die Grieks wat in die Nuwe Afrikaanse Vertaling vertaal word met “oor”, ook vertaal kan word met “OP”.)

Hulle het nodig dat die Heilige Gees “op” hulle kom, soos met Jesus gebeur het daar by die Jordaan toe die Heilige Gees “OP” Hom gekom het. Hulle moet, soos Hy, “gesalf” of “toegerus” word met die gawes of krag van die Heilige Gees, om deur die Vader gebruik te word soos en hoe Hy wil.
Vers 5, hier in Handelinge 1, beskryf dit so: Hulle “sal met die Heilige Gees gedoop word nie baie dae hierna nie”.

Daar gaan selfs iets meer met hulle gebeur.

Vir die eerste keer ooit, na die sondeval, gaan God self, deur die Heilige Gees, IN Sy mense se lywe kom woon om altyd by hulle te wees.

(Of soos Paulus daar in 1 Kor. 6:19 dit beskryf. Ons lywe word nou “die tempel” van die Heilige Gees, want die Heilige Gees kom woon nou in ons liggaam.)

Hoe merkwaardig is dit!

Sjoe, vandag het jy sommer ʼn hele klomp dinge waaroor jy met God kan gesels in jou gebed!

Published in Nuusbrief