Displaying items by tag: 6 tot 12 April 32 nC

 

Lukas 19:28-44

Hierdie week wil ek jou herinner, hier in ons stilword-tyd, met die Woord van die Here, die Bybel op ons skoot, waar ons luister na Sy stem, aan daardie week van die 6de tot die 12de April 32 n.C. in Jesus se lewe hier op aarde, wat die geskiedenis van die wêreld onherkenbaar en vir ewig verander het. Vandag gaan ek jou neem na twee Skrifgedeeltes waarin die Here jou met jou kan praat.

Die eerste gedeelte is Lukas 19:28 tot 44.

Jy ken nou al ons manier van luister na die Here se stem as ons met die Bybel besig is. Neem een of twee goeie Bybelvertalings en lees hierdie gedeelte hardop terwyl jy fyn luister om presies te hoor wat die Here hier vir ons sê. Probeer om dit dan in jou eie woorde so volledig moontlik oor te vertel.

Wat hoor jy sê die Here Jesus vandag vir jou deur hierdie gedeelte?

(So klein bietjie agtergrond: Dit is ook belangrik om te onthou dat op hierdie spesifieke Sondag van daardie spesifieke week, is 'n lam wat gebore is in die Bethlehem-distrik, gekies en in Jerusalem ingebring van die Olyfberg af deur die "skaap-poort", wat presies dieselfde pad was wat Jesus die betrokke Sondag Jerusalem binnegekom het op Sy triomftog!

Soos wat Hy die stad binnegekom het, het die mense geskreeu: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Red ons, Seun van Dawid! So is Jesus dan met groot akklamasie aangewys as die beloofde Messias en het die skare so hulle Lam vir die betrokke Pasga gekies!

Die Lam moes eers deur die geestelike leiers ondersoek word, want leer die Torah, dit moes sonder gebrek en vlekloos wees om geskik te wees om as lam vir die Pasga geslag te word. Daarom lees ons ook hoe Jesus, na Sy intog in Jerusalem in, eers na die tempel toe gegaan het om daar te leer. Terwyl Hy daar was, het die Fariseërs, Sadduseërs en ander wetsgeleerdes gekom en met allerhande moeilike vrae Hom probeer uitvang en as ’n leuenaar probeer uitwys. Maar hulle kon geen fout by Hom vind nie.)

Johannes 2:13-22

As jy nog ʼn bietjie tyd het, kom ons dink ook oor die gebeure van daardie Maandag, die 7de.

Blaai na Johannes 2:13 tot 22 en lees dit hardop.

Onthou terwyl jy lees, die volgende: Volgens die instruksies in die Torah-wetgewing, moes elke vorm van kwaad uit elke huis verwyder word vir die viering van die Pasga later die week. Daarom het elke Joodse moeder met ’n kers in haar huis rondgesoek vir enige vorm van kwaad of onreinheid.

Dit is so merkwaardig dat Jesus juis daardie Maandag na die tempel toe gegaan het en al die geldwisselaars daar uitgejaag het (Luk. 19:45 e.v.) om so die "kwaad" uit "die huis van Sy Vader" te verwyder.

Dink ʼn bietjie na oor wat Jesus vandag sou doen as Hy op hierdie dag dit wat ons “kerk” noem, sou binnestap. Wat sou Hy vandag kom uitgooi en verander het?

Hoe raak dit jou lewe? Wat sê die Here vandag vir jou persoonlik hierdeur en hoe gaan jy in gehoorsaamheid daarop reageer.

Praat met die Here daaroor in gebed.

Published in Nuusbrief