Displaying items by tag: Bymekaar kom

 

In die lig van wat ek die afgelope tyd in die weeklikse nuusbriefie, NOG ʼn SLUKKIE NUWE WYN, met julle gedeel het oor die Ekklesia as FAMILIE VAN FAMILIES IN JESUS, het ons Here en Koning my aandag veral op Sy Woord in Heb. 10:24,25 gevestig:

“Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade.

Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.”

In die afgelope meer as 500 dae van afsondering tydens GRENDELTYD a.g.v. CoVid, het ons almal so bewus geword van die noodsaak om gereeld byeen te kom met lede van ONS FAMILIE VAN FAMILIES met wie ons regtig ʼn naby-pad in die geloof stap.

Daarom het ek en my geliefde vroutjie die volgende briefie aan die sowat 10 tot 15 mense hier in ons direkte omgewing geskryf om die volgende saam met ons te oorweeg:

Sou jy en jou geliefde/s graag deel wou wees van so ʼn ekklesia van gelowiges wat werklik daar vir mekaar gaan wees as NABY-FAMILIE-IN-JESUS? Dit beteken nie dat ons mekaar se drumpels gaan deurtrap nie, maar dat ons wel gereeld gaan tyd maak om bymekaar te kom en doelbewus moeite gaan maak om daar vir mekaar te wees om mekaar baie prakties LIEF TE HÊ soos wat die Here dit aan ons voorhou in Sy Woord. (Hierdie is dus nie ʼn geleentheid waarheen ons “vreemdes” of “ander “ gaan heen uitnooi nie. Hierdie is ons “veilige en sagte plek” waar ons mekaar gaan bedien en gaan versorg. As ons voel iemand anders kort bediening, dan reël ons ander geleenthede om dit te kan doen.)

Watter dag en tyd, en hoeveel keer per maand, voel julle, moet so ʼn groepie normaalweg bymekaar kom? Moet ons eenmaal per week, of eenmaal elke twee weke, of selfs so min soos eenmaal per maand bymekaar kom? Watter dag en tyd voel jy, sal julle pas? (As julle meeste aande van die week beskikbaar is, sê dan asb. so.)

Sommige tye gaan ons hiervan afwyk in die lig van uitreike of bedieningsgeleenthede wat ons saam gaan beplan en waar van ons of almal van ons by betrokke gaan wees. Ons kan bv. saam beplan aan ʼn groter samekoms van gelowiges, sê eenmaal of meer per maand, op ʼn Sondagoggend wanneer die meeste mense los is, of saam beplan aan ʼn bediening- en toerustingsnaweek of uitreike elke kwartaal of twee keer ʼn jaar.
Tot sover my briefie. (Sien jy, ek is self baie ernstig besig om nuut na te dink oor hoe die prentjie lyk van ʼn Bybelse ekklesia waarvan ek graag deel wil wees!)

Dit het my terug Skrif toe gedwing en dit is wat ek ontdek het oor die prentjie van die byeenkom van “die ekklesia”, rondom Jesus, en in die vroeë gemeentes in Handelinge (en ek gaan nie probeer om volledig te wees nie, maar tog van die belangrikste vir jou hier kursories neerskryf):

Waar die ekklesia byeen was en die tekens van die brood en die beker saamgebruik is – en dit was so dikwels as moontlik – was die bedoeling altyd dat dit net gelowiges is wat daar byeen was, soos toe Jesus dit saam met Sy dissipels gebruik het in Joh. 13, en in die lig van wat daar in 1 Kor. 11 in die verband staan.

Daar was ook die spontane byeen-wees van gelowiges deur die week, rondom die etenstafel – tipies soos die Joodse gesinne dit destyds gedoen het. Ons sien ook Jesus dit doen met Sy dissipels, en ook waar hulle by gesinne soos dié van Lasarus, Martha en Maria byeen was, maar ook soos dit daar in Handelinge 2 en 4 gebeur het.

Dan sien ek ook hoe gelowiges in groter groepe, soms op Sondae, maar ook ander tye, bymekaar gekom het, waar byvoorbeeld die briewe van ʼn Paulus gelees is, of waar Paulus byvoorbeeld met die ouderlinge in Efese gepraat het – soos daar in Handelinge 20.

Dan sien ons ook hoe gelowiges mekaar bedien en selfs uitstuur by die byeen-wees van die ekklesia, soos daar in Hand. 13:1 tot 3 gebeur het, waar Paulus en Barnabas deur die Gees van God uitgestuur word na die nie-Joodse wêreld.

Ons sien ook waar Jesus die ekklesia, en dus gelowige volgelinge, baie pertinent uitstuur na gemeenskappe wat hulle nie ken nie, maar ook van hulle selfs terugstuur na waar hulle woon en werk om daar die boodskap van die Koninkryk te gaan verkondig. Kyk die bekende Lukas 9 en veral Lukas 10, maar ook waar mense soos Levi, en die verloste duiwelbesetene, teruggestuur word na waar hulle werk of waar mense hulle ken om daar getuie te gaan wees.

Het dit jou ook opgeval dat Jesus nie op een dorp ʼn reuse gemeente of kerk “geplant” het nie? Ja, selfs in Handelinge, in stede soos Jerusalem, en later Korinte en Rome, lees ons van die gelowiges wat oral oor die stad in kleiner, families van families byeengekom het, meestal apart en informeel, en net af en toe, in groter getalle. Maar nooit was daar sprake van dat hierdie groepe of groepies verskillende, aparte “kerke” met hulle eie name en strukture sou wees nie!

Dan sien ons ook groepies gelowiges, of ekklesia, wat baie gefokus byeengekom het, soos ʼn klomp persone wat Paulus geïdentifiseer het as toekomstige lede van die vyfvoudige bediening, wat hy vir lang tye weekliks opgelei en toegerus het met die oog hierop – kyk Handelinge 19:9, in die skool van ’n sekere Tiránnus.

So sien ek ook vir Jesus baie pertinent 12 manne kies wat Hom as Sy familie van families gaan volg en in wie se lewe Hy vir 3 jaar baie gefokus gaan inbou en geestelik gaan belê en hulle toerus met die oog op die koms van die Koninkryk van God. En selfs, tussen hierdie 12, was daar ʼn kern-korps van drie manne in wie se lewe Hy veral betrokke was en wie Hy saamgeneem het kairos-tye.

ʼn Baie interessante bymekaar-kom en saam-wees as ekklesia, was vir my Paulus en Akwila en sy vrou, Priscilla, se verhouding en hulle saam-stap as FAMILIE VAN FAMILIES in Jesus. Ons lees byvoorbeeld daarvan in Handelinge 18. Akwila en Priscilla was net soos Paulus, “tentmakers”, of in die konstruksie-bedryf (as ons dit modern sou beskryf). Maar hulle was ook die mense wat Paulus gehelp het om ʼn geweldige deurbraak te maak in sy bediening in die stad, Korinte, deur vir homself ʼn staanplek te kry in die markplek, wat uiteindelik ʼn radikale verandering in die hele bedieningswyse van Paulus sou veroorsaak.

Hiermee dink ek, het ek vir jou genoeg stof vir nadenke gegee.

Gaan dink ʼn bietjie na oor waar jy “inskakel” in die Ekklesia van Jesus, en hoe dit daar lyk en dinge daar gedoen word. Vra dan ʼn slag vir jou baie krities af of dit enigsins klop met wat ons in die Skrif in die verband lees.

Volgende keer gaan ons, soos ek laas belowe het, gesels oor wat die Bybel sê oor hoe ons mekaar moet liefhê as ons gesels oor die sogenaamde “mekaar” tekse in die Bybel.

Published in Nuusbrief
Tagged under