Displaying items by tag: Die waarheid

Sunday, 08 November 2020 18:01

Wat sou Jesus gedoen of gesê het... (Deel 3)

 

In Sy gesprek met my ʼn paar weke gelede, het Koning Jesus vir my ʼn derde groep mense gewys nadat Hy eers vir my diegene gewys het wat Hom nog nie geken en aanvaar het as Verlosser nie. Toe het Hy vir my diegene gewys wat Hy die ware Ekklesia noem, wat tot bekering gekom het en Jesus as Verlosser en Here aanvaar het.

Die derde groep mense wat Hy vir my gewys het was daardie groep mense wat eens as deel van die familie van gelowiges gereken is.

Ten spyte van die feit dat gelowiges in liefde en in waarheid hulle bedien het oor sonde in hulle lewe en optrede, en oor die dinge wat hulle glo en vir ander leer wat duidelik in stryd is met die waarheid van die Woord, het hierdie derde groep mense steeds volhard en hulle nie bekeer nie.

Teenoor hierdie groep mense is Koning Jesus se opdrag aan die Ekklesia soos volg…

Mat. 18:15-18

“As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen.

Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word.

En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as 'n heiden en 'n tollenaar behandel.

Dit verseker Ek julle: Wat julle ook al op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat julle ook al op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

1 Kor. 5:9-11

Dan herinner Koning Jesus ons ook aan wat daar in 1 Kor. 5 geskryf staan (daar waar God se Gees onsedelikheid en seksuele sondes in die gemeente uitgewys het).

Daar staan in vers 9 tot 11: “In die vorige brief het ek aan julle geskryf om nie met mense om te gaan wat in onsedelikheid leef nie.

Daarmee het ek glad nie die onsedelikes of die geldgieriges, bedrieërs of afgodsdienaars van hierdie wêreld bedoel nie, want om hulle te vermy, sou julle uit die wêreld moes padgee.

Wat ek geskryf het, was dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself 'n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of 'n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie.”

1 Kor. 6:9,10

Luister ook na dit wat in 1 Kor. 6:9 en 10 staan: “ Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.”

Efes. 5:5-7

Asook na wat God se Gees vir ons daar in die boek Efesiërs (die boek wat oor eenheid in die Ekklesia gaan), in hoofstuk 5:5-7 leer: “Dít moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of 'n gierigaard is – want gierigheid is afgodery – het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie.

Moenie dat iemand julle met allerlei onwaarhede mislei nie, want daardeur kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is.

Met sulke mense moet julle niks te doen hê nie.”

1 Tim. 1:9-11

Luister ook na 1 Tim. 1:9-11: “'n Mens moet onthou dat die wet nie vir die wetsgehoorsame bedoel is nie, maar vir mense wat hulle nie aan wet en orde steur nie, goddeloses en sondaars, mense sonder eerbied vir wat heilig en gewyd is, dié wat vader of moeder doodmaak, moordenaars, ontugtiges, mense wat homoseksualiteit beoefen, ontvoerders, leuenaars, dié wat meineed pleeg of enigiets anders doen wat met die gesonde leer in stryd is.

Die gesonde leer is in ooreenstemming met die evangelie wat aan my toevertrou is, die evangelie van die heerlikheid van die goeie God.”

1 Tim. 6:3,4,11

1 Tim. 6:3,4 en 11 sê dieselfde in die verband: “As iemand 'n ander leer verkondig en nie hou by die gesonde woorde van ons Here Jesus Christus en by die leer van ons godsdiens nie, is hy verwaand en weet hy niks.... Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid.”

2 Tim. 2:16-18

In 2 Tim. 2:16-18 (waar dit gaan oor mense wat die opstanding van Jesus ontken) staan die volgende: “Maar die onheilige en sinlose praatjies moet jy vermy, want dié wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval, en hulle woorde sal voortvreet soos kanker. Onder hulle is daar Himeneus en Filetus, wat van die waarheid afgedwaal het deur te sê dat die opstanding alreeds plaasgevind het. Daarmee vernietig hulle die geloof van sommige.”

Het jy gehoor? Vermy hulle! Bly weg, breek weg van hulle af!

2 Joh. :10,11

Hoor wat ook in 2 Johannes, vers 10 en 11 staan: “As daar iemand na julle toe kom wat 'n ander leer bring, moet julle hom nie in julle huise ontvang nie en hom selfs nie groet nie, want wie hom groet, is saam skuldig aan die kwaad wat hy doen.” (Hier het dit dan ook spesifiek oor lering gegaan wat die Menswording van Jesus ontken het).

Rom. 1:22,24-32

Toe neem die Here Jesus my na Rom. 1, omdat daar tans so baie onwaarhede rondom selfdegeslagverhoudings gesê word in soveel dele van die kerk van Jesus.

Luister maar self na wat daar in verse 18,22,24-32 gesê word deur die lewende God self (en ek haal uit die Direkte Vertaling uit die Grieks aan):

“Want die toorn van God word uit die hemel geopenbaar oor alle goddeloosheid en ongeregtigheid van mense wat die waarheid in ongeregtigheid onderdruk…

Alhoewel hulle daarop aanspraak gemaak het dat hulle wys is, het hulle dwaas geword... Daarom het God hulle, in die begeertes van hulle harte, oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer. Hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen... Daarom het God hulle oorgegee aan oneerbare hartstogte, want, soos hulle vroue natuurlike omgang vir omgang teen die natuur verruil het, net so het ook die mans die natuurlike omgang met die vrou laat vaar en in hulle los vir mekaar ontbrand; mans het met mans skaamteloosheid bedryf en in hulleself die vergelding ontvang wat hulle vir hulle dwaling moes ontvang. En, soos hulle dit nie goed geag het om God in erkenning te hou nie, het God hulle oorgegee aan ʼn perverse denkwyse, om dit te doen wat nie betaamlik is nie; vol van onreg, boosheid, gierigheid, slegtheid, vol van jaloesie, moord, twis, bedrog, kwaadwilligheid; skinderaars, kwaadpraters, Godhaters, beledigers, arrogantes, grootpraters, beramers van slegte dinge; ongehoorsaam aan hulle ouers; insigloses, onbetroubares, liefdeloses, genadeloses; hulle wat, alhoewel hulle die verordeninge van God ken dat dié wat sulke soort dinge doen, die dood waardig is, nie net sulke dinge doen nie, maar selfs goedkeuring verleen aan die wat dit doen.”

Rom. 16:17,18

Ten slotte, luister wat sê God se Gees aan die Ekklesia in die verband in Romeine 16:17 en 18: “Ek druk julle dit op die hart, broers: Pas op vir dié wat verdeeldheid veroorsaak en die mense afvallig maak van die leer wat julle ontvang het. Bly weg van hulle af.

Sulke mense dien nie Christus ons Here nie, maar hulle eie drifte en drange, en met al hulle mooipraatjies en vleitaal mislei hulle die liggelowige mense.”

Luister, asseblief, familie van Jesus, na wat Koning Jesus self aan Sy mense in die verband sê!

Gaan doen dan wat Hy sê!

Published in Nuusbrief
Tagged under