Displaying items by tag: Doop in die Gees

Thursday, 16 April 2020 06:42

Dag 20 - Jesus sê dit is soos ʼn nuwe geboorte

 

Handelinge 2:37-41

Die oomblik wat ek en jy in geloof kies om te glo dat Jesus se bloed vir ons gevloei het aan die kruis, gebeur daar iets merkwaardig in ons.

Onthou jy wat Jesus vir ons daar in Johannes 3:3,14-16 gesê het? Blaai net weer soontoe en lees dit hardop vir jouself. Probeer om dit wat jy hoor in jou eie woorde oor te sê.

Wat ek hoor is die volgende:

Dat wanneer iemand “opkyk” in geloof na die Een (Jesus) wat “aan die paal gehang het” (die kruis) en kies om te glo dat Jesus na hierdie aarde toe gekom het om aan die kruis ook vir jou en jou sondes te sterf, is dit asof jy “weer”, vir ʼn tweede keer, gebore word.

Jy ontvang letterlik ʼn nuwe lewe (want jy was dood as gevolg van die sonde in jou lewe), wat Jesus “ewige lewe” (ʼn lewe wat vir ewig duur) genoem het.

Op ʼn hele paar plekke in die Bybel verduidelik die Here vir ons hoe hierdie geboorte plaasvind.

Een van die gedeeltes is daar in Handelinge 2:37 tot 41 waar ons lees van meer as 3000 “nuwe babas” wat op een dag “nuut gebore is” en so deel geword het van die Kerk van Jesus.

Kyk en luister saam met my na wat hier staan in die verse oor hoe dit gebeur het.

• Nadat Petrus vir die skare vertel het van Jesus wat hulle gekruisig het, terwyl Hy in werklikheid die Here (die nuwe Koning van hierdie wêreld) en die Christus (die Messias wat God in die Ou Testament belowe het, soos daar in Jes. 53), het hierdie mense besef wat hulle gedoen het en besef dat hulle “verlore is”. Daarom vra hulle in vers 37: “Wat moet ons doen, broers?”

• Dan antwoord Petrus: “Bekeer julle!” (Wat maar ander woorde is vir: “Draai dan om, verander van mening!” Waar julle voorheen nie wou glo dat Jesus die Here en Verlosser is nie, kies om nou te glo dat Hy wel ook gekom het om ook jou Here en Verlosser te wees!)

• Uit wat ons in Rom. 10:9 gelees het, weet ons dat hierdie mense dit hardop met hulle mond gesê het sodat almal kon hoor hulle het hulle “bekeer”. Hulle het hardop iets soos die volgende gesê: “Here, ek is verlore. Maar dankie dat Jesus ook vir my sondes gesterf het aan die kruis. Ek neem Hom nou in geloof aan as my Verlosser en Here!” As die ander gelowiges hierdie woorde uit hulle mond gehoor het, het hulle geweet “hier is nou ʼn nuwe geloofs-baba gebore.” En hulle het hulle geneem na waar daar water was en hulle daar “gedoop in die Naam van Jesus Christus” (vers 38), as teken dat God hulle sondes vergewe het.

• Dan het die gelowiges hierdie nuwe bekeerling, na die doop in water, hande opgelê en vir hulle iets soos die volgende gebid: “Here Jesus, U is nie net ons Verlosser en Here nie. U is ook die Doper met die Gees. (Hand. 1:5; 2:33) Doop nou ook hierdie nuwe gelowige met U Gees. Skenk aan hulle die gawes van die Gees wat hulle nodig het om deur U gebruik te word daar waar U hulle geplaas het. (Lees self hoe die laaste gedeelte van vers 38 in Hand. 2 en dan ook die hele vers 39 dit sê.)

Ek kan vir jou ʼn hele paar ander gedeeltes in die Bybel wys om vir jou te bevestig dat dit was hoe ʼn “normale geestelike geboorte” in nuwe gelowiges se lewens gelyk het in die Vroeg-Christelike gemeente. En as dit om die een of ander rede nie so gebeur het nie, het die ander gelowiges gou-gou dit “reg gemaak”, want ʼn geboorte wat nie reg en normaal plaasvind nie, veroorsaak erge probleme na die tyd. (Kyk na gedeeltes soos Hand. 8:4 tot 17; 19:1-7).

Kom ek sluit af met ʼn persoonlike getuienis. Die dag toe ek en my gesin (onthou, ek was op daardie stadium reeds vir 14 jaar die dominee in ʼn NG-gemeente) ontdek het wat ek vandag vir jou gewys het uit die Bybel, het ons besef dat die “doop” waarmee ons gedoop is as babas in die NG Kerk, nie die doop van die Nuwe Testament is nie. Die doop van die Nuwe Testament (lees maar bv., Rom. 6:1-14) kan net aan mense wat glo in Jesus as Verlosser en Here bedien word, en daarom kan babas nie met die Nuwe Testamentiese doop gedoop word nie. Daarom is ons hele gesin (ek en my vrou, en ons twee kinders wat toe ook al reeds Jesus aanvaar het as Verlosser en Here) gedoop met water en hande opgelê om so toegerus te word met die gawes van die Gees.

Dit is waarvan die Here deur Sy Woord ons oortuig het.

As wat ek jou vandag uit Sy Woord gewys het, werklik die Lewende God was wat met jou gepraat het, hoe gaan jy reageer in die lig daarvan?

Praat met Hom daaroor in gebed.

Published in Nuusbrief