Displaying items by tag: Gee

 

Ek wil in hierdie gedeelte oor die “mekaar” tekste met jou te gesels oor hoe belangrik dit is om daar in die familie van families werklik sensitief te wees vir mekaar se behoeftes, en dan spesifiek gesels oor daardie fisiese en finansiële behoeftes wat persone in jou naby-familie gelowige broers en susters mag hê.

Hoor net hou skerp en op die punt af praat God se Gees hieroor daar in 1 Johannes 3:16 tot 18:

“Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê.

Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?

Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.”

Ja, ek weet almal van ons voel om “die armes” om ons te help sover ons kan. Maar weet jy wat het Jesus oor die armes en die gee vir armes gesê? Onthou jy daardie keer toe daardie vrou ʼn bottel van derduisende rande se parfuumsalf op Sy voete kom uitgooi het? Ja, Judas het toe gesê dat dit vermorsing van goeie goed is en dat die parfuum eerder verkoop moes word en die geld vir die armes gegee moes word. Waarop Jesus toe opmerk dat ons altyd armes om ons gaan hê, maar dat hierdie liefdesdaad wat sy hier gedoen het om Hom te eer, onthou gaan word deur die eeue oral waar die goeie nuus van die evangelie vertel sou word.

Weet jy dat die Bybel vir ons vertel van ʼn rangorde aan wie ons as gelowige volgelinge moet gee as ons genoeg van iets het?

Ja, die Bybel leer ons dat die eerste plek waar ons moet begin gee, is juis daar in ons binnekring, daar in ons familie van familie gelowiges.

Hier moet ons in die eerste plek omsien na hulle daar in jou geloofsfamilie, wat soveel tyd spandeer om ons as gelowiges hier te bedien, dat hulle nie tyd het om daarbuite op die markplein nog ander werk ook te doen om so in hulle en hulle geliefdes se behoeftes te voorsien nie.

Sê vir my, is daar diesulkes in jou geloofsfamilie?

Dit is gewoonlik mense wat ʼn spesifieke roeping op hulle lewe het, en salwing. Dit is gewoonlik mense wat deel is van die Ef. 4:11-16-span, wat Jesus geroep en toegerus het om Sy mense in Sy Liggaam te bedien en toe te rus vir dit wat hulle moet doen in diens van die Koninkryk.

Mag ek vra: Is daardie mense daar in julle binnekring behoorlik versorg?

En ja, as ons vir hulle gegee het, alles wat hulle nodig het, dan kan ons ook aan diegene van ons gelowige broers en susters daar in ons geloofsfamilie gee in wie se lewens ons sien dat hulle om die een of ander rede fisiese of finansiële nood het ten spyte van die feit dat hulle alles moontlik doen om self daardie nood te bedien.

Eers as ons klaar in die behoeftes van daardie medegelowiges voorsien het, en ons nog oor het, eers dan gaan God se Gees vir ons dalk ongelowige mense wys wat ʼn spesifieke behoefte het, waarin Hy my wil gebruik as Sy hande en voete om Sy liefde ook aan hulle te bedien.

Broer en suster, hoor die Woord van die Here hieroor!

Gaan sit ʼn bietjie en dink hieroor aan die voete van jou Here en Meester en gaan dan en doen wat Hy vir jou deur Sy Gees aansê om te doen.

Published in Nuusbrief
Tagged under