Displaying items by tag: Geloofsfamilie

Sunday, 01 November 2020 09:16

Wat sou Jesus gedoen of gesê het… (Deel 2)

Onthou jy dat ek die vorige keer met jou begin gesels het oor hierdie prentjies wat ek beleef het Koning Jesus vir my begin wys het. Hierdie keer wil ek met jou gesels oor toe Hy vir my die Ekklesia, of Gemeente van Jesus, gewys het.

Hulle is diegene wat die Goeie Nuus van die Evangelie oor Sy lewe, Sy woorde, Sy Lyding, kruisiging, dood en opstanding, gehoor het en gekies het in geloof om te glo dat Hy dit ook vir hulle gedoen het.

Dit is hulle wat ontdek het hoe verlore hulle in werklikheid in God se oë was as gevolg van hulle sonde en rebelsheid.

Deur die wederbarende werking van God die Heilige Gees, het hulle hul sonde besef en gekies om dit te bely en te laat staan.

Hulle het Jesus as hulle Verlosser en Here in geloof aangeneem en gekies om Hom onvoorwaardelik te volg vir die res van hulle lewe.

Daarom is hulle ook gedoop in water en daarom het Koning Jesus die Heilige Gees gestuur om voortaan permanent in hulle te woon om hulle te lei en te leer as Sy familie hier op aarde.

Ek het ook Koning Jesus hoor sê: Dit is ook My hart om hulle te doop met My Gees om hulle so toe te rus met gawes sodat Ek hulle kan gebruik as My getuies en as ambassadeurs van die Koninkryk.

Julle is immers Myne en elkeen buite hierdie geloofsfamilie, My Ekklesia, moet julle herken as My volgelinge aan die manier hoe julle mekaar onvoorwaardelik lief het soos Ek julle lief het, tenspyte van baie verskille en selfs geskille onder mekaar.

Julle is deel van My een Ekklesia en niks en niemand mag verdeeltdheid onder julle veroorsaak nie.

Daarom, leer mekaar in liefde, maar ook in waarheid, alles wat Ek julle geleer het. Onthou, My Gees in julle, is nou julle wet.

Hy sal julle leer en herinner aan alles wat Ek julle geleer het.

Hy sal julle ook gedurig herinner daaraan dat Vader julle Abba-Vader is.

Bedien mekaar, versorg mekaar, vergewe mekaar, bemoedig mekaar, vertroos mekaar.

Bly herinner mekaar aan die waarheid, die waarheid van My Woord. Sonder ophou.

As iemand sondig onder julle, of nie die waarheid praat of leer nie, vermaan mekaar en praat dit met mekaar eers net daar tussen julle apart uit.

As daar nie verandering kom of iemand hulle nie bekeer nie, neem een of twee ander met jou saam en gaan praat weer met daardie persoon. As die persoon nog nie gehoor wil gee nie, neem dit na die lokale familie gelowiges toe en maak dit aan hulle bekend en laat hulle dan met daardie een handel soos Ek in My Woord julle geleer het.

Maak onderling ook ruimte vir mekaar en vir die bediening van die gawes, soos wat julle My gawes in julle en tussen julle herken.

Herinner mekaar aan wie julle moet wees in hierdie wêreld, naamlik My getuies, geroep en getaak om dissipels te maak van die nasies.

Julle is geroep om ambassadeurs te wees wie die Koninkryk van die hemel en God se wil vir hierdie wêreld en Sy mense hier op aarde moet verteenwoordig.

Sê Ek dan nie vir julle in My Woord nie, daar in 2 Kor. 5 en 6:

“Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou.

Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons 'n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!

Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

As medewerkers van God doen ons 'n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie.

Hy sê: ‘Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp.’ Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding!”

Published in Nuusbrief