Displaying items by tag: God se deel

 

Jy verstaan wat ek bedoel met die term “vyfvoudige bediening”, nè?

Ef. 4:11-16

Dit verwys na wat God self vir ons hieroor leer daar in Ef. 4:11 tot 16. Kom ek haal dit vir jou aan:

“En dít is die "gawes" wat Hy (bedoelende Jesus Christus, die Hoof van die Ekklesia) gegee het: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars.

Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus.

So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ʼn volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.

Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie.

Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ʼn eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.”

Kom ons kry net eers die geheelprentjie korrek.

Jesus Christus, die Doper met die Gees, se hart en bedoeling (volgens Hand. 2:37-39; Hand. 8; Hand. 19; Rom. 12; en 1 Kor. 12) is om elkeen van Sy gelowige volgelinge bonatuurlik toe te rus met die gawes van die Gees wat hulle nie voorheen gehad het nie, sodat Hy hulle bonatuurlik kan gebruik om ander om hulle te bedien.

'n Normale geestelike geboorte

As jy onthou, sal jy weet dat dit ook die rede is waarom die normale geestelike geboorteproses uit vier dele bestaan wat normaalweg, volgens God se Woord, alles op Dag 1 van ʼn nuwe gelowige en bekeerling se lewe moet plaasvind.

Die vier dele wat deel is van hierdie geestelike geboorte is: Eerstens, dat so ʼn persoon moet besef dat hy of sy totaal sondig, verlore en op pad hel toe is. Tweedens, daarom gryp hierdie mens vas aan Jesus as Verlosser en Here en glo dat Hy die volle straf vir hulle sonde gedra het en dit weggewas het deur Sy bloed. Derdens, daarom neem die ander gelowiges wat hoor (Rom. 10,9) hoe hierdie nuwe bekeerling met sy of haar mond bely dat hulle glo, hulle onmiddellik doopwater toe en doop hulle in water (Rom. 6:1-11). En vierdens, daar in die water, lê hulle vir die nuwe bekeerling hande op (kyk weer na Hand. 8 en 19) en bid dat Jesus as die Doper met die Gees, hierdie persoon sal doop met Sy Gees om hulle so bonatuurlik toe te rus met die gawes van die Gees sodat Hy hulle kan gebruik om ander te bedien met daardie gawes.

God rus self mense toe wat in die Vyfvoudige bediening moet staan

Met dit in gedagte, kom Ef. 4 dan en sê dat Jesus as die Hoof van Sy Ekklesia, self sekere van hierdie reeds toegeruste gelowiges uitkies en verder bonatuurlik toerus om voltyds in staat te wees om die gelowiges in die Ekklesia voltyds te kan bedien en toe te rus vir hulle bediening in diens van die Koning.

Sommige word bonatuurlik toegerus om apostels in die groter Ekklesia te wees. Ons kan hulle ook die pioniers, inisieerders en groter visiedraers noem in die Ekklesia, wat Koninkrykswerk oral moet inisieer).

Dan is daar ander wat profete genoem word. Net ter verduideliking: Al is profesie die gawe, volgens 1 Kor. 14, waarin die Here elke gelowige wil gebruik, is hierdie groep mense deur Jesus self bonatuurlik toegerus en gesalf om voltyds deur die Here gebruik word in die gawe van profesie.

Dan is daar ook ʼn derde groep wat herders genoem word, wat die ander gelowiges voltyds met hulle besondere herderlike hart bedien en versorg.

Dan is daar ook leraars, wat ʼn bonatuurlike gawe het om die ander gelowiges met die waarheid en leer van die Woord te bedien.

Laastens is daar ʼn groep wat evangeliste genoem word wat voltyds in hierdie gawe opereer. Hulle is persone wat herken kan word aan hierdie bonatuurlike hart en begeerte dat niemand verlore sal gaan nie. Daarom gebruik Jesus as die Hoof van die Ekklesia, hulle voltyds om hiermee besig te wees buite die grense van die Ekklesia, maar ook om te sorg dat gelowiges in die gemeentes toegerus word sodat elke mens op aarde ten minste eenmaal die Goeie Nuus van die Evangelie sal hoor.

So word hulle versorg om dit voltyds te kan doen

Om hierdie vyfvoudige bediening in staat te stel om onder normale omstandighede al hulle tyd te spandeer om gelowiges in die Liggaam toe te rus vir hulle spesifieke bediening, waar dit ook al sou wees, of in die geledere van die ekklesia, of in die markplein, wil Jesus deur die Bybelse gee van “God se deel” hiervoor volledig voorsiening maak.

Daarom het God self in Sy Woord die riglyne neergelê dat die groter gedeelte van “God se deel” na die persone in die vyfvoudige bediening gaan sodat hulle nie nodig het om op ander wyses vir hulle en hulle geliefdes finansieel te sorg nie.

Published in Nuusbrief
Tagged under