Displaying items by tag: Kruisiging van Jesus

 

Omdat hierdie dag se gebeure so kardinaal belangrik is, gaan ek dit ʼn bietjie meer volledig vir jou uitmekaar haal.

Vroeg daardie Woensdagoggend, om 06:00

Volgens die Joodse fees kalender was hierdie Woensdag “die dag van voorbereiding” met die oog op die Pasga-maal wat later die aand, na 18h00, sou plaasvind in elke gelowige Jood se huis.

So word die Lam van God, Jesus die Messias, “gereed gemaak en voorberei” met die oog op die Finale Pasga wat moes plaasvind.

Van 06h00 daardie oggend word Hy van bakboord na stuurboord gestuur om getoets, verhoor en uiteindelik gevonnis te word om te sterf aan ʼn kruis, soos die ergste van erge misdadigers in daardie tyd.

Die Kruisiging, daardie Woensdagoggend om 09:00
Gelyktydig met die gebeure waar die Hoëpriester die gekose lam vasgemaak het aan die horings van die altaar in die tempel in Jerusalem, op hierdie 14de dag van die Joodse maand, Nissan, word Jesus nege-uur daardie oggend, op die 9de April 32 n.C., vasgespyker aan die kruis op die heuwel, Golgota, buite Jerusalem.

Woensdagmiddag om 15:00

Van 12h00 tot 15h00 daardie betrokke Woensdag was dit vir drie ure donker ( Mat. 27:45 e.v.). Na 3 ure van “hel”, hoor ons Hom sê: “Dit is volbring”.

Alles wat nodig was om die heilige God in staat te stel om mense se sondes te mag vergewe, was gedoen. Jesus, die Perfekte, Sondelose Lam van God, se bloed het gevloei terwille van ons sonde.

Die oorwinning is behaal en daarom kon Hy met vrede Sy lewe oorgee aan die Vader.

Drie-uur daardie middag, gelyktydig met die tyd wanneer die lam keelaf gesny en geslag moes word vir die Pasga later die aand (Eks. 12:6), sterf Jesus, die Lam van God, aan die kruis.

Die Lam het die volledige offer gebring en daarmee die Ou Wet volkome vervul. En so, met Sy dood, het ’n Nuwe Testament met ’n Nuwe Verbond en Wet in werking getree.

Vroegaand (voor 18:00) daardie Woensdag

Jesus se liggaam word van die kruis afgehaal en begrawe in die graf (Mrk. 15:42).

(Moenie verlei word deur die Nuwe Afrikaanse vertaling van “Dit was Vrydag” nie. Dit staan nie in die Grieks nie. Gaan lees maar in die 1953-Afrikaanse Vertaling of in van die Engelse Bybelvertalings oor wat presies in die oorspronklike Grieks staan).

Hierdie is natuurlik ook ʼn wonderlike geleentheid wat jy (en jou huismense, of wie ook al saam met jou is) saam die brood en die beker kan gebruik en die dood van Jesus aan die kruis, en Sy bloed wat vir jou gevloei het, kan gebruik. (Kyk wat staan in 1 Kor. 11:23-26 in die verband.)

Praat ʼn bietjie met die Here in gebed oor wat Hy vir jou spesifiek gesê het vandag.

Published in Nuusbrief
Tagged under