Displaying items by tag: Mat28:19

Friday, 26 March 2021 07:50

Here, gee my ʼn liefde vir “die nasies”!

Verlede keer het ek net weer jou aandag daarop gevestig dat ons opdrag volgens Mat. 28:19 is om “die nasies” te dissipel. Kom ek gesels ʼn bietjie verder hieroor.

Liefde vir die nasies

Norberto Carlini is een van die mees geliefde en suksesvolle geestelike leiers in Argentinia. Hy skryf die volgende: Ons kort 'n nuwe paradigma om werklik suksesvol te doen wat Jesus ons beveel het om te doen, naamlik om "nasies te dissipel".

Vir die meeste van ons sal dit radikale verandering beteken. Dit sal ten minste beteken dat ons iets verstaan en beleef van hoe lief Jesus die wêreld en sy nasies lief het.

Kou 'n bietjie hieraan.

Toe ek bewus geword het van die omvang en diepte van die Here se liefde vir hierdie wêreld en sy nasies en dit begin vergelyk met hoe min ek werklik omgee vir die mense van my eie nasie, om nie eers te praat van my liefde vir al die ander nasies en groepe in my eie land nie, het ek in desperaatheid begin roep na God vir 'n nuwe hart.

Dit het die manier hoe ek na mense en groepe begin kyk het, radikaal verander.

Ek het begin verstaan dat die bloed van Jesus nie net betaal het vir die sondes van sondaars nie, maar ook gevloei het sodat nasies en volkere vrygemaak en verlos kan word.

Dit begin by 'n hart-keuse en daarvoor kort jy en ek 'n nuwe hart. Ons het nodig dat die Hartsjirurg van sjirurge, vir ons 'n nuwe hart oorplant. Sy hart. Jesus se hart.

Daarom wil ek jou juis in hierdie week – waarin ons die Week herdenk wat werklik die geskiedenis van die wêreld verander het – uitnooi om elke dag tyd te maak om aan die voet van die Kruis te gaan kniel.

Raak sommer net weer daar stil en laat toe dat God self met jou deur Sy Gees praat.

Gee sommer net weer daar oor aan God die Gees wat in jou as kind van God woon.

Laat Hom toe om jou iets te laat beleef van die allesoorweldigende en onvoorwaardelike liefde van Jesus, ook vir nasies en alle volke.

Gal. 5:16-25

Ons praat natuurlik nou van dit wat daar in Galasiërs 5, en spesifiek Gal. 5:16 staan. Naamlik om so vervul te wees van die Gees, dat Hy totale beheer het, sodat Sy vrug kan sigbaar word in my lewe. (Gal 5:22,23)

Hierdie liefde vir die volkere en die nasies begin daar.

Net soos in die huwelik, begin dit wanneer jy vrywillig ja sê.

Dit is soos daardie dag wat jy en jou geliefde vir mekaar ja sê en kies om mekaar vir altyd lief te hê in die huwelik.

Kyk, ek en jy wat nou al jare getroud is, kan vandag erken dat ons destyds toe ons ja gesê het, nie eers twee persent van wat dit beteken om mekaar werklik lief te hê, verstaan het nie.

Tog het ons liefhê van mekaar, daardie dag begin toe ons gekies het om ja te sê hiervoor.

Jy is klaar voltyds in diens van Koning Jesus. Vra vir Hom ook vir jou Sy hart vir die nasies te gee.

Published in Nuusbrief
Tagged under