Displaying items by tag: Mekaar

Friday, 15 October 2021 10:25

Verder oor van hierdie “mekaar” tekste

 

Luister net na wat hier in Fillipense 2:1 tot 4 staan en wees sensitief vir wat die Heilige Gees self vir jou in hierdie verband wil sê oor jou verhoudinge met jou naby-familie van families.

“Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.”

Dra mekaar se belange op die hart!

Ek dink dit begin gebeur as ons deur die Here se genade, ʼn geleentheid kry om as’t ware vir 24 uur in mekaar se skoene te loop. Of as ons begin om moeite te doen om fyn na mekaar se lekker en se seer te luister om werklik daardie een se hartsbehoeftes en begeertes “raak’ te hoor of te soek totdat ek dit kry.

Het jy al ooit probeer om jouself te plaas in die skoene van sê byvoorbeeld, die geestelike leiers of leierspaar wat die Here daar in julle familie van families gebruik om julle soveel kere te bedien as julle seer het of hulp nodig het?

Wat dink jy het hulle nodig? Waarvoor sal hulle vra as hulle durf waag om werklik honderd persent eerlik te wees?

Is jy bereid om God se hande en voete en God se mond en hart te wees wat alles in jou vermoë gaan doen om daardie behoefte of begeerte op die een of ander wyse, al is dit net naastenby, te bedien?

Beleef mense rondom jou werklik dat jy daar is vir hulle? Vier-en-twintig uur van elke dag, sewe dae ʼn week?

Beleef hulle iets van Jesus en die Heilige Gees se troos, liefde, aansporing, meegevoel en meelewing op ʼn emosionele vlak van jou kant af?

Een van die wonderlike en maklikste maniere om werklik daar te wees vir ʼn gelowige broer of suster, is om vir hulle te bid, daar by hulle, waar hulle jou kan hoor en jou hand op hulle skouer kan voel. Maar ook daar waar jy vir hulle by die huis gaan bid as jy belowe het jy sal!

Onthou, daar is groot krag in gebed. Ons roep immers die Here God en Koning van hierdie wêreld nader om te kom help!

ʼn Wêreld kan verander as ons opreg vir mekaar begin bid.

Published in Nuusbrief
Tagged under
Friday, 08 October 2021 09:34

ʼn Bietjie dieper oor die “mekaar” tekste

Ek praat vandag met jou as volgeling van Jesus in die lig van wat die lewende God sê in Sy Woord. Met ander woorde, dit wat ons hier vir mekaar sê is nie onderhandelbaar of iets waaroor jy met my kan stry of verskil nie.

Dit is of reg of verkeerd in jou lewe. Dit is of so of dit is nie so nie, en in die lig daarvan staan jy verantwoordelik teenoor ons God self.

Met dit gesê, kom ons trek die Bybelse lyne in die verband vir mekaar.

As volgeling van Jesus het die Here jou deur die Gees êrens heen gelei en daar in ʼn bepaalde gemeenskap neergesit, binne ʼn klomp verhoudinge met mense.

Vandag gaan ons veral aandag gee aan jou verhoudinge met ander volgelinge van Jesus.

Omdat niemand van ons bedoel is om “lone rangers” te wees nie, pas elkeen van ons êrens in die groter, wêreldwye Liggaam van Jesus, of Ekklesia met ʼn hoofletter. Maar dan pas ons ook êrens, lokaal, in die gemeenskap waarin ons woon en werk, naby en bereikbaar, sodat ons Bybelse liefdesverhoudinge kan hê met ʼn groep mense wat ek ons “naby-ekklesia” kan noem, of sommer net ons lokale “familie van families”.

Dit maak nie saak hoe groot hierdie groep mense is nie en ook nie waar hulle woon nie. Wat belangrik is, is dat dit ʼn groep gelowige volgelinge is teenoor wie jy honderd persent ge-commit is, en wat ook honderd persent ge-commit het tot jou, om werklik mekaar se “familie van families” te wees.

Dit is veral hier, in hierdie binnekring, waar alles oor gesonde, Bybelse verhoudinge met mekaar gaan. Dit is hier waar ons veral kans kry om hierdie “mekaar” tekse, hierdie Bybelse liefhê van mekaar, te oefen en self te ervaar.

Omdat hierdie soort “liefhê van mekaar” nie net lippetaal kan en mag wees nie, gaan ek in die res van hierdie stukkie skrywe, en in die skrywes wat kom, die “mekaar liefhê” prakties dissekteer sodat daar geen misverstand kan wees oor wat dit daar in julle binnekring beteken nie.

Wanneer Paulus, onder die inspirasie van God die Gees, iets oor hoe die Ekklesia werk, wil oordra, gebruik hy die beeld van die liggaam om die Ekklesia te beskryf.

Waar dit egter gaan oor die atmosfeer en die emosionele klimaat wat daar moet heers, word die prentjie van ons verhouding teenoor mekaar as dié van “familie van mekaar” gebruik. En dit is in hierdie verband wat al die mekaar-tekse dan gebruik word om iets van die praktiese liefde tussen ons in verdere detail te beskryf.

Van hierdie “Mekaar-tekste” kyk ons nou na die volgende:

Rom. 12:9,10 – “Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.”

Hier word veral twee dinge oor hierdie liefde tussen ons gesê:

• Wees opreg en hartlik vir mekaar lief soos wat broers en susters binne ʼn gesin of familie mekaar behoort lief te hê. (Ander tekse wat jy hieroor ook kan lees is Kol. 3:14 en 1 Joh. 4:11-12)

• Bewys eerbied teenoor mekaar. As ek en jy weet dat ons albei êrens presies inpas in ʼn groter plan van die God en Koning van hierdie wêreld, met die presiese “s-h-a-p-e” wat ons nodig het om te kan doen wat ons moet doen, dan sal ons mekaar saggies en met groot eerbied en respek hanteer. (S- staan vir “spiritual gifts”; h – staan vir “heart” of passie; a – staan vir “abilities” of vermoëns; p – staan vir “personality” of die presiese “jy” wat God in detail aanmekaar gesit het daar in jou moeder se skoot; e – staan vir “experiences” of die ervaringe, seer of lekker, wat jy langs die lewenspad tot hier beleef het, wat God nou wil gebruik as deel van jou unieke getuienis of storie aan die mense om jou)

Published in Nuusbrief
Tagged under