Displaying items by tag: Onselfsugtig

Elkeen wat werklik met die Lewende God ʼn persoonlike geloofsontmoeting gehad het en gekies het om te lewe volgens die standaarde van die Koninkryk van die Hemel hier op aarde, vrees nie net God nie, maar word ook ʼn baken van lig en hoop daar waar hy of sy woon en leef.

Hoe sê die Woord?

Jy word ʼn getuie dat Jesus Christus die werklike Koning is en dat Sy Woord wet is. Daarom bring wat ons vir mense sê, hoop vir mense!

Daarom is daar hierdie aura en lig rondom ons wat dit lekker maak om in ons geselskap te wees.

Selfs in ʼn tyd soos die wêreldwye pandemie waarin ons tans nog verkeer, maak al hierdie dinge van ons dapper, liefdevolle en onselfsugtige mense wie se optrede herinner aan dit waarvan ons lees ten tye van ʼn pokke-uitbraak dwarsdeur die Romeinse Ryk in 165 n.C., toe Markus Aurelius die Romeinse Keiser was.

Gedurende die epidemie wat 15 jaar geduur het, het bykans ʼn derde van die populasie gesterf.

Dit is gevolg deur nog so uitbraak in 251 n.C., wat so vernietend vir die Romeinse Ryk se militêre en sosiale stukture was dat ons lees dat soveel mense gesterf het gedurende die twee epidemies dat hele stede en dorpies in Italië leeg geloop het en in totale bouvalligheid verval het.

Wat egter in albei hierdie epidemies uitgestaan het, was die rol en invloed van die volgelinge van Jesus in hulle lokale omgewing.

Derduisende mense het getuig hoe die onselfsugtige liefdesdiens, ondersteuning en bemoediging van hierdie gelowiges soveel ander rondom hulle se lewens onherroeplik verander het.

Wat nog meer merkwaardig was, was die merkwaardige groei in die Ekklesia as gevolg hiervan.

Soos wat Paulus daar in Filippense hoofstuk drie skryf, het hierdie ambassadeurs van die Koninkryk, iets van die realiteit van hoe dit sou lyk as die Hemel aarde toe sou kom, dapper en relevant uitgeleef daar waar hulle van dag tot dag lokaal in hulle omgewing beweeg en geleef het.

Elkeen wat erns maak met die realiteite van die vroeg Christelike Ekklesia, waarvan ons lees in Handelinge, weet dat die volgelinge van Jesus nie oorspronklik in “heilige byeenkomste” in “kerk-geboue” een maal ʼn week byeengekom het nie. Nee, inteendeel!

Hulle het doodgewoon hulle lewens en liefde vir God met mekaar en ander daar waar hulle woon, werk en ontspan, gedeel van dag tot dag, sewe dae ʼn week.

Hulle het hulleself as hierdie klein kolonie van die Koninkryk van die hemel hier op aarde gesien, daar waar hulle woon en werk, deur die manier hoe hulle mekaar en ander liefhet, Jesus gehoorsaam en gedeel het met mekaar en ander.

Niemand “het kerk toe gegaan nie”, maar eerder “kerk” of ekklesia gewees in die manier hoe hulle geëet of drink het, of wat hulle ook al gedoen het! Want alles het hulle gedoen, het hulle gedoen tot God se eer.

Het dit nie tyd geword dat jy jou huis daar in jou woonbuurt ʼn venster en plek word waarheen mense kan kom as hulle iets van die heerlikheid, mag, krag, liefde en genade van die Lewende God wil ervaar en beleef nie!

Gaan wees ambassadeur van die Koninkryk daar in jou woonbuurt en daar in jou werkplek.

Maak ʼn lys van 50 mense rondom jou daar. Vra God se Gees om vir jou hulle nood en werklike behoeftes te wys.

Miskien is hulle eensaam of bang. Gaan besoek hulle dan. Groet hulle. Praat met hulle. Oor die muur of oor die telefoon.

Begin bid vir hulle en as Koning Jesus jou so lei, gaan kuier vir hulle en vra of daar iets is wat hulle nodig het waarvoor jy dalk kan bid of wat jy vir hulle kan doen.

As julle so saam is, neem die woorde van Jesus ernstig op toe Hy gesê het: Waar twee of drie mense in My Naam bymekaar is, is Ekself daar tussen hulle!

Published in Nuusbrief