Displaying items by tag: Profetiese woord vir 2022

Saturday, 05 February 2022 09:02

DEEL 5 - PROFETIESE WOORD VIR 2022 EN VOLGENDE JARE

 

“Show Me the goodies!”

Dit is so maklik vir julle om te sê dat julle hierdie vier kardinale waarhede glo: Dat Ek, julle God, werklik ʼn goeie God is; dat niks onmoontlik is nie; dat die Bloed van My Seun, Jesus, werklik reeds vir alles betaal het; en dat elke mens en hulle lewe betekenisvol is.

Maar dit is eers as hierdie lewensveranderde waarhede so deel geword het van wat jy dink en wat vir jou waardevol is, dat dit jou gedrag begin bepaal. Dit is nou nie net deel van jou aksies en wat uit jou mond kom nie; dit is ook nou deel van jou reaksies; van daardie aksies, optrede en sê-goed wanneer jy nie dink nie, maar net reageer!

1. As God werklik goed is; droom groot!

Ja, ek weet julle is al so gewoond om, as iemand sê: “God is good”, dan antwoord almal: “All the time!”

Maar as julle werklik glo dat Ek as julle God goed is, dan sal dit vir almal duidelik word in julle vermoë om groot te droom.

As ambassadeur van die hemel hier op aarde, is dit immers julle uitdaging en roeping in diens van die Koning om daar waar jy lewe en werk, God-grootte drome te droom wat net Ek as ʼn lewende God kan waar maak.

Daardie soort drome word daar in jou intieme tye met My as jou Vader en Vriend gebore, sê Johannes in vier gedeeltes (14:12-14; 15:7,16; 16:23-24).

As ʼn mens met ʼn vrye wil en keuse, nooi Ek as jou Vader, jou in in ʼn daaglikse liefdesverhouding met My, waarin Ek My hart en drome aan jou bekend kan maak sodat dit ook jou drome en hart word.

As jy daar My daar leer ken en ontdek dat Ek werklik net so goed is soos wat jy My ken as ʼn heilige God, dan het jy geen verskoning meer om God-grootte drome te droom nie.

Dan word jy ʼn gewillige tuinslang waardeur My goedheid as ʼn Vader deur jou kan stroom na mense rondom jou.

2. Niks is onmoontlik nie – begin waag!

Wanneer jy werklik glo wat Ek vir jou gesê en belowe het in My Woord en dat niks vir My ontmoontlik is om te doen nie vir die wat glo, sal julle begin verstaan wat Ek bedoel het met die woorde van My Seun, Jesus, daar in Johannes 14:12-14, naamlik: “Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.

Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.

As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”

Besef julle dat dit beteken dat julle My oplossing is vir dood, verlies en vernietiging wat die mensdom so teister! Verstaan julle dat dit ook beteken dat Ek julle wil gebruik as antwoorde vir COVID en soortgelyke ander situasies!

As julle dit begin glo, sal julle begin waag om in My Naam op te staan en te doen wat nodig is sodat daardie situasies begin verander en sodat mense voor hulle oë iets van die realiteit van My Koninkryk sien sigbaar word.

Dit is immers waarvoor My Seun Sy lewe gegee het, in jou lewe en in ander se lewens rondom jou.

Geloof is om vir My plek en ruimte te maak om die Buitengewone en die Onmoontlike te doen.

Maak vir My plek om in te kom en om te kom doen wat Ek wil doen waar mense My Woord glo en vertrou en dit begin gehoorsaam, en julle sal sien hoe My wil en My Koninkryk kom “soos in die hemel”!

3. Jesus se Bloed het reeds vir alles betaal – Jy moet dit net werklik begin glo en vertrou

Julle hele lewe, hoe julle oor dinge dink en voel, daaroor praat en wat julle doen, sal radikaal verander as julle werklik glo en vertrou dat My Seun Sy lewe aan die kruis vir julle gegee het en so alles gedoen het wat nodig was.

As julle My toelaat om deur My Gees julle oë vir die diepte en implikasies hiervan oop te maak, sal dit julle neem na ʼn nuwe dimensie van liefde en geloofsvertroue wat julle tot nou toe nie geken het nie.

Julle sal begin verstaan wat Ek werklik daar in 1 Kor. 13:13 bedoel het met:
“Die grootste hiervan is die liefde!”

Maar ook met Heb. 11:6 se woorde: “Sonder geloof is dit onmoontlik om Hom te behaag!”

Onthou julle wat Ek vir julle daar in Rom. 8:32 gesê het? “ Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het - sal Hy nie alles aan ons skenk nie?”

Hierdie woord kan julle vrymaak en julle lewens verander!

4. Julle lewens het unieke betekenis – Maak dat dit tel elke dag!

Daarom is dit so nodig vir My kinders om hulle ware identiteit in Christus te ontdek! Niks verander ʼn mens se lewe soveel as wanneer jy werklik ontdek het wie jy in Jesus Christus is en dat jy werklik kind is van die Hemelse Vader en Almagtige God nie.

Ja, dat Ek jou aangestel het en wil toerus om ʼn ambassadeur en verteenwoordiger van die Koninkryk van die hemel hier op aarde te wees, daar waar jy woon, leef, werk en beweeg.

Dit is wie julle is. Van die oomblik wat julle jul oë in die oggend oopmaak, tot julle vannag gaan slaap, maar ook wanneer julle niks doen nie, of net sit en ontspan of slaap.

Dit is wie julle is.

Die dag wat julle dit werklik ontdek het, verander alles. Dan kan julle verstaan wat daar in Joh. 13 gebeur het toe My Seun, Jesus, Sy volgelinge se voete gewas het. Onthou jy hoe dit beskryf word?

“Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan.

Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en 'n handdoek gevat en om Hom vasgemaak.

Daarna het Hy water in 'n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het.”

Besef jy dat My Seun dit kon doen omdat Hy presies geweet het wie Hy in My oë was en dat Ek alles, alle mag, in Sy hande oorgegee het?

Hy, as God die Seun, was bereid om alles prys te gee om ʼn mens te word om Ons Plan tot vervulling te laat kom. Maar, hier aan die einde van Sy aardse lewe, in hierdie laaste week net voor Sy kruisiging, het Hy ook geweet dat Ek as die Vader, alles in Sy hande teruggegee het. Ja, sodat Hy dit, ʼn ewige erfenis, weer kon gee vir elkeen wat Hom volg en in Hom glo.

Wanneer een van julle werklik verstaan wie julle is in My oë, kind van die Koning, ambassadeur van die hemel hier op aarde, maar ook besef dat julle erfgename is van hierdie oorvloedige hemelse erfenis, is niks te onbelangrik of te gering om te doen nie.

Wanneer hierdie vier Bybelse waarhede die fondasie geword het van julle geloofslewe en wie julle is, kan Ek julle gebruik om daar waar julle is en lewe, iets van My hart aan mense te openbaar.

Dan kan Ek julle gebruik om daar tussen julle ʼn atmosfeer en ʼn kultuur te skep waarin mense bewus kan raak van My teenwoordigheid, My hand en My heerlikheid.

Daar sien mense met gewone oë raak wie Ek is. Daar hoor mense met gewone ore My stem met hulle praat.

Published in Nuusbrief

 

Bekeer julle want die Koninkryk van die hemel het gekom…

As jy werklik glo dat My Koninkryk met die koms van My Seun as mens hier op aarde gekom het, sal alles wat jy dink, voel, sê en doen, radikaal verander het!

Ja, dit sal jou radikaal tot bekering gebring het en 180 grade laat omdraai en maak dat jy anders lewe elke dag.

Ten minste vier fundamentele waarhede sou jou hart en gees vasgegryp het as jy dit werklik begin glo het, sê die Here.

1. Ek, die Here jou God en Vader, is 'n Goeie God en Vader!

Jy sou onder alle omstandighede en in alle situasies geglo het dit wat Ek jou en elke mens op aarde meer as 20 keer in My Woord van verseker, naamlik: Ek, die Here, is goed! Ek is ʼn goeie God wat elke ding in jou lewe kan laat meewerk tot jou beswil. (bv. Ps. 25:8; 100:5; 135:3; Jer. 33:11; Nahum 1:7)

As ʼn pa in julle wêreld vandag aangekla word van die dinge wat jy en ander aan My soms toedig en My voor verantwoordelik hou, sou julle hom opgesluit het en die sleutel weggegooi het.

As julle werklik My hart wil verstaan en wil raaksien vir hoe dit regtig lyk en wat My werklike bedoeling is, kyk na die lewe van My Seun terwyl Hy hier op aarde tussen julle was.

Hy is perfekte teologie. Hy illustreer My in elke sin van die woord. Hy het nooit iemand weggewys nie ongeag hoe diep hulle vasgevang was in sonde en of hulle baie of min geloof gehad het. My Seun het altyd hulle situasie verander tot hulle beswil en sodat iets van My Koninkryk ook daar kon deurbreek.

Jesus het storms stil gemaak en siektes genees. Ja, Hy het selfs mense wat dood was, lewendig gemaak. Dink net vir ʼn oomblik hieroor na: As Ek werklik daardie storm of siekte veroorsaak het, of mense dood gemaak het, dan was Ek as Vader, en dit wat Jesus daar gedoen het, mos in stryd met mekaar.

Verstaan jy nou dat Jesus het gedoen wat Hy gedoen het omdat Hy geweet het dat satan en sy bose magte hier agter was.

Het My Seun dan nie self gesê dat Hy niks doen nie wat Hy nie Sy Vader sien doen nie?!

Daarom het My Seun, Jesus, nooit siekte toegelaat om te bly nie. In elke geval van waar iemand na Hom toe gekom het met hulle nood of siekte, was daar by Hom ʼn gewilligheid om te help en om dit te verander. Daarom het almal wat na Hom toe gekom het met hulle nood, genees weggestap. Daarom is Jesus en wat Hy gedoen het, vir julle die perfekte prentjie van wat gebeur as Ek as ʼn goeie God, werklik totaal beheer oorneem en heers as Koning in ʼn situasie. Waar My Koninkryk kom, moet siekte en demone, ja, selfs die dood, pad gee.

2. Julle sou elke dag en elke minuut van die dag julleself en ander herinner het, dat niks onmoontlik is nie.

Luister maar net na die volgende verse waar Ek hierdie waarheid aan julle harte vasgemaak het, sê die Vader:

Mat. 17:20 – En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ’n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie.

Mrk. 10:27 – Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik.

Luk. 1:37 – Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.

Luk. 18:27 – Maar Hy antwoord: Die dinge wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik.

Job 42:2 – Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit.

Fil. 4:13 – Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.

Mense sê so maklik dat hulle glo dat Ek hulle kan genees of hulle situasie kan verander.Dit is natuurlik die waarheid en ʼn goeie plek om te begin. Hulle besef egter nie dat die vyand en elke demoon dit ook weet en glo nie.

Geloof is maar een van die sleutels wat die deure en die vensters oopmaak sodat My Koninkryk met My genesende genade kan deurbreek.

Begin ten minste daar. Bou, versterk en beoefen ten minste julle geloof tot die mate wat dit aan julle gegee is.

3. My Seun, Jesus, se Bloed het reeds vir alles betaal

Toe Jesus 9 April 32 n.C. daar aan die kruis gehang het, het Hy 15h00 daardie middag, in Grieks, net een woord gesê: Tetelestai! Dit is gedoen! Dit is afgehandel! (Joh. 19:30)

Alles wat nodig was, wat Ek as God, daar aan die begin, voor tyd en voor die skepping reeds beplan het, is daardie moment alles afgehandel en voltooi.

Niks was meer nodig nie. Enigiets wat julle as mens ooit mag nodig hê, selfs in ʼn honderd miljoen jaar van nou af, is reeds daar aan die kruis afgehandel.

Luister hoe sê Ek dit deur My Gees self daar in Ef. 2:7 vir julle: “… sodat Hy in die tye wat voorlê bewys kan lewer van die allesoortreffende rykdom van sy genade deur sy goedheid aan ons in Christus Jesus.”

Die allesoortreffende rykdom van God se genade, deur Sy goedheid aan ons, het alles daar aan die kruis gebeur en alles is daar afgehandel en voltooi. Alles het daar deur die lyding en dood van Christus Jesus, God die Seun, wat mens geword het, gebeur.

Daar is niks wat ooit êrens in die toekoms op enige stadium kan gebeur wat dit vir My nodig sal maak om enigiets verder te doen as dit wat Jesus reeds daar aan die kruis gedoen en afgehandel het nie.

4. Elke mens is van waarde en pas uniek êrens in My plan in, sê die Here

Ja, ek weet dit is maklik om dit te glo oor mense oor wie jy positief voel en wat al iets in hierdie lewe bereik het. Maar die volle waarheid is dat Ek as God so oor elke mens voel.

Daarom is dit belangrik om daardie dag en daardie presiese oomblik te onthou wat elke mens gebore is. Daardie dag was daar iemand daar wat na daardie baba gekyk in totale verwondering en met ʼn dankbaarheid, al was dit dan net dat daardie kindjie lewendig gebore is.

Weet jy wat verander die manier hoe ʼn mens na jouself en ander kyk?
Wanneer jy uit My mond as God hoor wie Ek bedoel het jy moet wees en waar jy inpas in My prentjie en hoe Ek na jou kyk. Daardie oomblik verander ʼn mens se lewe en daarna wil jy nooit weer iemand anders wees nie.

Een van die belangrikste dinge vir julle om in die verband om te onthou is dat Ek mense lank voordat hulle enigiets iets gedoen het om My guns en genade te verdien, gekies het.

Ek sê dit immers vir julle daar in Jes. 61.

Onthou jy, dit is die gedeelte wat Jesus daar in Lukas 4, aan die begin van Sy bediening aangehaal het.

“Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.” (Luk. 4:18-19)

Maar dan volg ʼn merkwaardige slotsom daar in daardie profetiese gedeelte in Jesaja.

Dit is juis hierdie mense wat Ek in My genade eers moes bedien, wat treur en hartseer is; wat stukkend en siek is; wat bevryding eers nodig het; wie se lewens en verhoudinge eers gerestoureer moet word... dit is hulle van wie daar in Jes. 61:3 en 4 verder staan:

“Hulle sal genoem word: Bome van Redding. Die Here het hulle geplant om sy roem te vermeerder.

Hulle sal die eeue-oue puinhope opbou, plekke herbou wat lankal verlate lê, hulle sal verwoeste stede weer opbou, plekke wat geslagte lank verlate lê.”

Dink ʼn bietjie hieroor na.

Juis daardie mense in die samelewing wat die stukkendste is, op wie goeie “kerkmense” neerkyk en wat vermy word deur die meeste mense… Dit is daardie mense wat Ek as God gekies het en wil salf en toerus om die bouers te word en herstellers van ʼn klomp nuwe stede; ʼn klomp “cities of light”!

Published in Nuusbrief

 

Die boodskap van die Koninkryk red ons

Die meeste van ons besef nie eers meer hoe ons belieg en bedrieg en besteel is die afgelope jaar of twee nie.

Sien, ons het geleer om te oorleef midde dit. Ons het geleer om dit te aanvaar as “die nuwe normaal”! Ons het selfs begin om vir ons ʼn nuwe sisteem te ontwikkel sodat ons midde dit kan oorleef.

Die Here wil vandag met jou uit ten minste twee gedeeltes praat.

Vat jou Bybel en gaan luister wat Hy self vir jou wil sê uit 2 Kon. 4:8-37 (veral vers 16).

Gaan lees dan ook Hand 3:1-10 (veral vers 4,5).

Asseblief, doen dit eers en hoor wat die Here self uit Sy Woord vir jou wil sê.

Kom dan en lees verder wat Hy vir my in die verband gesê het om vir jou te sê.

Sien veral raak hoe hierdie bedelaar so gewoond geraak het aan “handouts” en om te bedel, dat hy daar langs die tempel nie eers meer opgekyk het nie.
Om regtig arm te wees en te glo dat jy niks het en nooit genoeg sal hê nie, leer jou om ʼn sisteem te ontwikkel wat jou kan help om net van dag tot dag te oorleef.

Dit leer jou dinge wat ryk en welgestelde mense nooit sal weet nie.

Soos: Waar om gehelp te word. Waar om te kry wat jy nodig het. Hoe om te kry wat jy nodig het.

Dit maak ook dat jy kan verval in hierdie totale magtelose negatiwiteit en sinisme. Jy verloor alle hoop dat dit dalk môre kan beter gaan. Dat daar dalk môre ʼn wonderwerk kan gebeur.

Dit maak ook dat sommige van ons verval in ʼn negatiewe radikalisme of ekstremisme. Veral as iemand jou kon oortuig dat dit wat nou hier tussen ons gebeur, reeds hier en hier in die Woord van God, in die Bybel, staan! Dit maak dan van hierdie mense gevaarlike mense, want ʼn mens wat alle hoop verloor het en nog boonop glo dit moet so wees, ja, dat God gesê het dit moet so wees, is soos ʼn tierkat in ʼn hoek, met sy rug teen die muur.

Weet jy wie is die mense met wie ek empatie het?

Dit is daardie mense wat jare en jare geswoeg en gesweet het aan wat hulle glo God vir hulle gesê het, en nou, na soveel jare, nog nie dit gesien realiseer het nie. Ja, wat in die proses ook al hulle hoop verloor het en voel hulle het alles verloor in die proses.

Daarom het hulle, in ʼn poging om net te oorleef, vir hulleself ʼn sisteem ontwikkel.

Die tragedie is egter dat hulle nie besef dat hulle belieg en bedrieg en besteel is nie!

Daarom het hulle radikale Bybelse vernuwing nodig.

Hulle het nodig om uit God se eie mond, by Hom self, te hoor wat werklik die waarheid is.

Hulle het nodig om dit wat hulle dink, voel, glo en begin doen het, weer krities, in die lig van die waarheid van die Woord, in die lig van die waarheid van die boodskap oor die Koninkryk, weer nuut te ondersoek en te re-evalueer.

Hulle moet, soos dele van die gereformeerde kerkfamilie hier in Suid-Afrika tans, en soos alle dele van die pinkster en charismatiese “kerke” tans, na jare van breinspoeling met leuens en onwaarhede, weer terug reformeer en terugkeer na die waarheid van God se Woord.

Daarom mag en kan ek en jy nie die mikrofoon nou al neersit nie! Daarom moet ons die tyd uitkoop om die waarheid wat die Here aan ons geleer het, ook aan ons kinders en die volgende geslagte te leer.

Ons mag nie toelaat dat hulle vasgevang word in ʼn fantasie-wêreld en ʼn wêreld van euforia nie.

Ons moet hulle leer dat daar dae gaan wees wat ons voel ons is in Disneyland, maar dan gaan daar ook dae wees wat ons nie uit die bed wil opstaan nie.

Ons mag nie vir ons kinders alles probeer gee wat ons nie gehad het as kinders nie, want dan leer hulle nie dat sekere dinge net kom en gebeur as ons aanhou en aanhou, vasbyt, hard werk en swaarkry nie.

Ons mag nie toelaat dat hulle helde net die Koreaanse sanggroepe soos BTG en andere is nie.

Vir die wat nie weet nie, die meerderheid van die Koreaanse en Japanese populasie het ʼn genetiese mutasie wat meebring dat hulle nie bakterië vorm onder hulle arms nie en dus ook minder het van die sweetklier wat die tipiese sweet reuk by ander van ons veroorsaak. Daarom dra hulle ook nie reukweerders soos die meeste van ons nie.

Nee, ons kinders en kleinkinders, en die sogenaamde “benadeeldes”, moet leer dat sekere dinge, goeie dinge, nie sommer net uit die hemel gaan val of vir hulle gegee gaan word nie. Nee, dit gaan sweet en harde werk kos.

Daarom het die mense van ons tyd weer geloofshelde soos die van Heb. 11 nodig.

Wat vasgebyt het tot die einde, maar nooit gekry het waarvoor hulle gestrewe en vasgebyt het nie.

Tog het hulle nooit opgehou vasbyt nie, want in hulle was daar ʼn geloof, ʼn verwagting, wat nooit opgehou het nie. Hulle het geweet dat die dinge waarop hulle hoop, gaan gebeur, want God het dit gesê en belowe! Met ander woorde, al gebeur dit nie in hulle lewe nie, gaan dit een of ander tyd daarna gebeur, want God het dit gesê!

Daarom, leer jou kinders en kleinkinders, en die sogenaamde “benadeeldes” rondom jou, gehoorsaamheid!

Leer hulle dat daar sekere reëls is! (Ag, en maak tog seker dat dit sinvolle reëls is; maak of breek-, lewe of dood-reëls is.)

Leer hulle dat daar reg en verkeerd is.

Leer hulle tog ook wat ons finale toets vir reg of verkeerd is.

Ja, dat dit nie is wat hulle op Google lees of wat die een of ander TV- of popster gesê het nie!

Nee, dit is wat die Lewende God sê wat waar of wat leuen is.

Asseblief, liewe gelowige broer of suster, reg of verkeerd is ook beslis nie wat hierdie of daardie prediker of profeet of kerk sê nie!

Asseblief, leer jou kinders om die Bybel vir hulle self te begin lees. Die lewende God wil self met hulle praat. Hulle moet leer om die Bybel met ʼn verwagting te lees en om self God se stem te hoor.

Leer hulle om te onderskei tussen wat blote godsdienstigheid is en wat bloot rituele of tradisie is. Leer hulle dat tradisie bloot maar net ʼn manier is hoe ons dinge doen. Daarom moet hulle leer om uit God se mond te hoor en om te leer onderskei wat werklik is wat die lewende God self vir ons leer die waarheid en reg en lewe is.

Leer vir hulle om net tevrede te wees met bonatuurlike openbaring! Leer hulle om self by God te hoor en Sy stem te hoor.

Niks anders moet hulle tevrede stel nie. Hulle mag nie nooit ophou voor hulle by Hom self gehoor het nie.

Sien, as mense so gewoond geraak het aan aalmoese en net genoeg om te kan oorleef, dan dink hulle dat as jy genoeg geld het of genoeg brood het, of genoeg geld in die bank het, dat jy genoeg het.

Sien, as mense kruipel, of siek, of werklik arm is, dan weet hulle nie eers dat daar meer kan wees in die lewe as net geld of brood nie.

Dan weet hulle nie eers dat ʼn mens God kan vertrou vir meer as dit nie. (Soos daardie bedelaar in Hand. 5)

Sien, daardie jong vrou en daardie jong man moet leer dat geen ander mens (al is hulle ook hoe aantreklik of wonderlik!) ooit die stukkendheid en die armoede en negatiwiteit in jou gees kan heelmaak of vul nie.

Mense moet leer dat geen verhouding of huwelik ooit dit kan reg maak nie.
Nee, jy moet leer om God vir meer as dit te vertrou!

Gemeentes en kerke moet leer dat om net groter en groter te word en groter en groter geboue te bou, of beter musiekgroepe te kan hê, of die beste predikers te kan hê, nie werklik in God se oë sukses is nie.

Nee, Hy gaan eerder vir julle vra: Het julle van die nasies My dissipels gemaak? En, het julle vir hulle geleer om alles onvoorwaardelik te gehoorsaam wat Ek julle geleer het? Het julle mekaar lief soos wat Ek julle liefhet?

Jy moet sakemanne en vroue leer dat die lewe nie net werk-en-werk is nie.
Dat sukses meer is as ʼn bloeiende, groeiende en suksesvolle besigheid wat genoeg geld maak en wins oplewer.

Ja, dat wat God beskryf as sukses in die besigheid, baie meer is as dit.

Ja, as jy steeds op die mense wat vir jou werk, trap en hulle soos slawe behandel, dan moet jy leer dat daar nog soveel meer is wat in jou en jou besigheid moet gebeur, voor God dit gaan beskryf as suksesvol.

Regerings moet leer dat jy nie kan dink dat as jy vir almal huise gegee het en genoeg toelaes gegee het, en as almal ewe veel geld het, of werk het, dat jy werklik armoede uitgewis het en dat jy ʼn suksesvolle regering is nie.

Daar is soveel meer as dit.

Sien, as jy werklik die boodskap van die Koninkryk van God begin verstaan, en begin verstaan wie jy in Jesus Christus en in Sy Koninkryk is en het, en watter outoriteit jy in die Naam van Jesus Christus het, dan gaan die wêreld rondom jou en die mense rondom jou, dit weet en begin verander!

Dan gaan die impak wat jy op mense het, begin verander!

Sien, daar is iets in die Naam van Jesus Christus, die Koning! Daar is krag in daardie Naam! Daar gebeur dinge as ons begin optree en bid en praat in daardie Naam!

Want om in daardie Naam te begin optree, moet jy by die Een met daardie Naam, gehoor het wat Sy wil is vir daardie situasie! Wat Hy wil doen en wil sê in daardie situasie!

Want daar gaan niks gebeur as jy nie presies in lyn is met Sy hart en Sy wil nie!

Hy is immers die Koning en dit is Sy Koninkryk wat hier moet deurbreek en realiseer! Dit is Sy wil wat hier moet geskied!

Sien, as die Koninkryk daar deurbreek, gaan jou lewe verander, gaan jou huwelik verander, gaan jou geldsake verander, gaan jou besigheid verander, gaan dit waarvoor jy jou lewe en jou tyd gee, verander.

Staan op en begin hierin loop!

Ja, ek weet dit is nie vir jou maklik om dit te doen as jy gewoond geraak het aan die “nuwe normaal” nie!

As jy werklik bonatuurlike openbaring ontvang het, van wat God se wil en hart is in hierdie situasie, as jy by God self gehoor het, dan sal jy nie tevrede daarmee wees om een sekonde langer in hierdie situasie of toestand of verhouding te bly wat jy, midde jou staat van oorlewing, as die “nuwe normaal” begin aanvaar het nie.

Dan sal jy toelaat dat ek jou aan die hand gryp en jou optrek en uittrek uit daardie situasie!

Dan sal jy daardie een vir wie die Here jou ʼn woord gegee het, vir wie die Here jou gevra het om voor te bid, by die hand gryp en hulle met verwagting, met geloof en met vertroue, optrek uit daardie situasie.

Dan sal jy, soos Jesus, vir mense uit Jesaja 61 begin voorlees en sê: Die Here het my gesalf en opdrag gegee om …

Behalwe as jy dit kan aanhaal, maak My Woord oop, sê die Here vandag vir jou, en lees alles wat Ek deur Jesaja profeties in die verband vir jou in Jes. 61 wou sê!

Published in Nuusbrief

 

Die Here sê: Roep die Hemel aarde toe!

Die Here het my die afgelope tyd bemoedig toe Hy die volgende vir my gesê het: Mense beleef tans situasies op aarde, wat hulle werklik nie kan hanteer sonder My hulp nie! Daarom wil Ek hulle daaraan herinner dat Ek juis hulle geleer het om die volgende te bid: Laat U Koninkryk kom. Laat U wil op aarde geskied, soos in die hemel.Onthou, sê die Here, moenie wees soos die mense rondom julle nie, want Ek as julle Vader weet reeds wat julle nodig het, nog voordat julle dit vir My gevra het.Daarom het Ek julle geleer om so te bid:“Ons Vader in die Hemel,
Laat U Naam geheilig word.
Laat U Koninkryk kom.
Laat U wil op aarde geskied, soos in die hemel.” (Mat. 6:8-10)Bid hierdie gebed soos mense wat weet wat dit beteken en bedoel wat hulle bid!Begin om uit te roep dat die Hemel ook daar waar jy is en leef en werk hier op aarde, sal kom!

Rom. 12:2

“Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die wil van God is – wat goed en aanneemlik en volmaak is.”Om anders te dink en te doen en te praat as die mense om hulle, moet My mense, sê die Here, leer om tyd by My te kom spandeer. Hier moet hulle kom sit met net My Woord, die Bybel, op hulle skoot, sodat hulle uit My mond kan hoor hoe dit regtig in die Hemel lyk, en wat My wil in elke saak en situasie is, sodat hulle presies kan weet wat daar rondom hulle hier op aarde moet gebeur.Wees egter vooraf gewaarsku: Julle besef nie hoe julle reeds beïnvloed en gebreinspoel is deur die propaganda-masjien uit die hel nie!Dit is eers as julle lank genoeg tyd spandeer het in My teenwoordigheid en My Gees ten volle beheer gegee het om julle te lei in die volle waarheid, dat julle weer My vrede sal beleef en letterlik My goedheid sal proe!Julle sal weer duidelike prentjies hê van hoe dit lyk as My Koninkryk kom en die geluide van die Hemel weer hoor!

Ps. 24:3-10

“Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom gaan staan?Dié een wie se hande rein en wie se hart suiwer is, wat alle bedrog vermy en geen vals eed aflê nie.So iemand sal van die Here seën ontvang, en God, sy Redder, sal reg aan hom laat geskied.Die mense wat na Sy wil vra en Hom dien, is die geslag van Jakob. SelaVerbly julle, poorte, wees bly, eeue-oue deure, want die magtige Koning wil ingaan!Wie is hierdie magtige Koning? Die Here, sterk en geweldig, die Here, oorwinnaar in elke stryd.Verbly julle, poorte, wees bly, eeue-oue deure, want die magtige Koning wil ingaan!Wie is Hy, hierdie magtige Koning? Die Here, die Almagtige, Hy is die magtige Koning. Sela”Daar in My teenwoordigheid sal julle sien en hoor presies wat My wil is en hoe dit moet lyk as My Koninkryk kom.Eers as julle die detail hiervan gesien het, kan julle as ambassadeurs van die Koninkryk van die hemel, hier op aarde ʼn uitdruklike verskil maak! Anders gaan julle maar net soos skape dit wat julle hoor en sien, agterna praat en net soos al die ander doen en dink.Wat geen oog tot nou nog gesien het nie, en wat geen oor tot nou toe nog gehoor het nie, is die dinge wat Ek beplan het vir diegene wat begin opkyk boontoe en begin uitroep dat die Hemel tog op aarde sal kom!Vra dit en dit sal vir julle gegee word.Glo, en soos Ek belowe het, is alles moontlik vir diegene wat glo wat Ek sê en belowe!
Published in Nuusbrief