Displaying items by tag: Verander

 

Een van die mooiste sê-goed oor wat dit beteken om ʼn kind van die Koning van alle konings te wees, is die volgende:

Hy het ons wat bergies was, daar tussen die asgate waar ons probeer oorleef het, gaan uit-red, maar nou moet Hy die gemors en stank van die asgate uit ons uit kry!

Of: Hy het ons uit Egipte uit gered, maar nou moet Hy Egipte uit ons uit kry!

Sien, dit is waarom Hebreërs sê: Sonder heiligmaking gaan niemand God sien nie!

Of waaroor Romeine 12:2 en 2 Kor. 10:3 tot 5 praat.

God se Gees moet elkeen wat deel geword het van die Ekklesia, stelselmatig detoks van al die gemors en gif wat ons vir soveel jare ingekry het en wat nou ons “siel”, ons denke, ons emosie-wêreld en ons wil besoedel en vergiftig het.

In die taal van Efesiërs 4:22-24:

“Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word.

Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.”

Weet jy waar gaan dit gebeur?

Op twee plekke:

Daar waar jy met God se Woord, die Bybel, elke dag, lank genoeg stil word en luister na wat God self vir jou daardeur wil sê en as jy dan gaan doen wat jy moet doen om gehoor te gee aan wat Hy vir jou gesê het.

Maar ook daar waar jy tussen ander familielede in die ekklesia tyd deurbring en leer om eerlik en oop te wees, terwyl Jesus tussen julle, deur Sy Woord en Sy Gees, jou en hulle leer wat dit regtig beteken om Hom lief te hê en te gehoorsaam bo alles, maar ook hoe om mekaar en jouself lief te hê.

Ek is so bang jy hoor nie mooi wat ek hier vir jou sê nie. Daarom wil ek ʼn bietjie tot stilstand ruk om jou te dwing om ʼn slag nuut te dink hieroor.

So, wees sterk, gordel vas en luister mooi wat ek nou gaan sê:

Ek het ontdek dat die byeenkoms van gelowiges, daar waar ons as familie van Jesus bymekaar is, in die eersteplek, bo alles, ʼn plek moet wees waar net gelowige volgelinge van Jesus byeen moet wees.

Dit is nie die plek waarheen ons ongelowiges moet uitnooi nie. Dit is net vir ons bedoel.

Is jy nou wakker?

Dit moet die sagte plek wees waar dit veilig vir ons as weergebore mense is om te val of waar ons kan kom lê as ons seer gekry het.

Dit moet die plek wees waar ons eerlik kan wees en waar ons kan vertel van ons innerlike worstelinge en pyn. En waar ons kan beleef hoe ander ons liefhet en versorg ten spyte hiervan.

Die byeenkoms van die ekklesia is in die eersteplek bedoel waar ons Jesus kan ontdek as Immanuel, God by en tussen ons.

Volgende keer gesels ek in meer detail oor hoe ons mekaar kan help verander daar in die byeenkoms van die ekklesia.

Published in Nuusbrief
Tagged under