Displaying items by tag: WWJD

Sunday, 25 October 2020 10:14

Wat sou Jesus gedoen of gesê het... (Deel 1)

 

Ons is besig om met mekaar vir reeds meer as vier jaar, week na week, te gesels oor hoe dit sou lyk of beteken as iets van die hemel hier tussen ons, nou, op aarde ʼn werklikheid sou word.

Ons kon dit ook dit so gestel het: Wat sou Koning Jesus as ons Koning en Here, in hierdie situasie wou hê ons moet doen of sê as ambassadeurs van Sy Koninkryk hier op aarde?

ʼn Klompie jare gelede het elke gelowige wat gekies het om radikaal, sonder kompromie, Koning Jesus te volg as hulle Here en Koning, sulke bandjies om hulle arm gedra waarop die afkorting, WWJD, “What would Jesus do?”, gestaan het.

Het jy ook een van hulle gedra?

Ek het.

Vannag het die Koning Jesus met my daaroor begin praat in die lig van soveel vrae en kwessies wat tans oral tussen gelowiges bespreek en oor gewonder word.

Hier rondom my in Suid-Afrika is dit die woelinge in die NG Kerk tans, asook in ander dele van die Kerk, maar ook ander dringende kwessies soos gelowiges se rol op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak in die politiek en daar waar besluite geneem word wat ons almal se lewens elke dag raak.

Kom ek kom terug na dit wat ek beleef het die Here vir my gesê het.

Jy weet dat ek hierdie “prentjies” sien. Wel, so het ek gesien hoe Koning Jesus vir my drie groepe mense teken.

Links van my het mense wat nog, in die Bybel se taal, “verlore”, “sonder God”, “buitekant die Koninkryk”, en “in sonde” was, en hulle het hulle lewe maar soos gewoonlik gelewe. In hierdie groep was daar diegene wat niks van die God van die Bybel en van Jesus geweet het nie, maar ook diegene wat maar te bewus was van die inhoud en boodskap van die Bybel.

Hoe dit ook al sy, ek het Koning Jesus na hulle, geweldig emosioneel en in groot liefde, sien kyk. Ek het Hom hoor sê:

Vir hulle is die Goeie Nuus, die Evangelie oor My koms na hierdie wêreld bedoel.

My Vader het hulle so liefgehad dat Hy My, as Sy Enige Seun, na hierdie wêreld gestuur het, sodat diégene van hulle wat kies om in My en die rede waarom Ek gekom het, te glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. (Soos in Johannes 3 staan).

Daarom is dit na hulle wie Ek julle gestuur het. Hulle is die oes wat ryp op die lande staan.

Gaan die hele wêreld in en maak hulle ook My dissipels, doop hulle dan en leer hulle alles wat Ek vir julle geleer het.

Sien, Ek het My lewe gegee en My bloed het gevloei sodat Vader hulle genadig kan wees as hulle leë hande in geloof uitsteek en dit wat Vader hulle in My Naam aanbied, aanvaar en aanneem.

Vir hulle het Ek gekom sodat hulle lewe kan hê en dit in oorvloed.

Staan daar dan nie in My Woord die volgende nie...

Johannes 3:16 tot 18

“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.

Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.”

Johannes 1:12-14

“Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van 'n mens of die besluit van 'n man nie, maar hulle is uit God gebore.

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.”

Romeine 3:21-25

“Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo.

Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.

Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.”

Volgende week vertel ek verder wat ek gehoor het by Koning Jesus in hierdie verband.

Published in Nuusbrief
Tagged under