Displaying items by tag: Waarheid

 

Die meeste volgelinge van Jesus dink dat bekering net behels dat ons vra dat God ons sal vergewe. Bekering beteken natuurlik baie meer as net dit.

As Koning Jesus Sy openbare bediening begin en sê waarom Hy as die Seun van God hier op aarde is, is Sy eerste woorde daar in Mat. 4:17: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

Hierdie “bekeer” beteken dieselfde as wat daar in Rom. 12:2 gesê word. Naamlik dat ons God sal toelaat om deur Sy Gees en Sy genade ons hele manier om oor dinge te dink en daarna te kyk, te verander.

Sien, om Jesus as Verlosser te ontmoet, is net die eerste tree in jou volg van Jesus. Daardie eerste bekering sit jou by die ingang van ʼn totaal nuwe manier van lewe neer waarin jy leer om Jesus te volg as die Nuwe Koning en Here wat die Koninkryk van die hemel en God se wil ook hier op aarde wil kom realiseer.

Ja, en Hy wil jou gebruik as Sy instrument en as Sy tuinslang. Hy wil jou gebruik as ambassadeur en as getuie van hoe hierdie nuwe werklikheid lyk en as iemand wat vir mense moet wys en vertel waar dit oral begin gebeur het.

Om dit te kan doen, moet jy “bekeer” en toelaat dat daar ook ʼn bekering in jou denke en verstand gebeur.

Dit vra dat God deur die werking van Sy Woord en Gees jou manier van kyk, dink en praat oor dinge, 180 grade sal omdraai en sal verander. Jy moet Hom toelaat om jou om te draai en oor te haal sodat jy in staat kan wees om vanuit hoe Hy oor alles dink en daarna kyk, na die realiteite hier op aarde kan kyk, dink en praat.

Jy moet, soos Hy, nie tevrede te wees voordat dinge hier rondom jou gebeur en lyk soos wat dit in die hemel lyk en gebeur nie.

Hiervoor het ons ʼn totaal nuwe perspektief nodig, ʼn transformasie en vernuwing wat ons gedagtes, emosies, waardes en wilskeuses, ja, eintlik elke deel van ons lewe gaan raak en 180 grade gaan verander.

Sonder hierdie diepgaande bekering, gaan ons heeltyd vassteek en vashaak in ons tipies menslike manier van dink, voel en besluit.

Dit gaan nie noodwendig “sondig” of totaal verkeerd wees nie. Dit gaan net nie deurbreek na daardie nuwe, hoër dimensie, of kom ons noem dit op sy naam, na daardie hemelse dimensie, waar dit wat God oorspronklik bedoel het en wat in Sy hart is, kan gebeur en verwag word om te gebeur nie. Ja, waar ons nie tevrede sal wees voordat die nuwe wêreld en ʼn stukkie hemel op aarde hier rondom ons begin deurbreek nie.

As jy werklik glo dat Jesus en die Gees van die Vader en die Seun werklik in jou is, dan moet jy besef dat hierdie selfde Jesus en die Gees van die Vader en die Seun wat in jou woon, ʼn hele, splinternuwe realiteit met hulle saamgebring het. Om ook in jou, in jou hele lewe, en deur jou, in alles waarmee jy besig is en in almal se lewens rondom jou, moet deurbreek.

Dit is waarom en waarvoor Jesus as die Doper met die Gees, jou met die krag en gawes van die Gees kom salf en toerus het. Sodat jy dieselfde dinge en selfs groter dinge kan doen as wat Koning Jesus hier op aarde gedoen het om die Koninkryk van die hemel ook stukkie vir stukkie hier te laat deurbreek.

Verstaan jy nou waarom ek en jy daaglikse bekering nodig het deur die werking van God se Gees?

Sodat ons heeltyd met hierdie verwagting kan rondloop, so kan dink oor dinge en ook kan besigheid doen daar waar ons in die markplein neergesit is deur God as getuies hiervan.

Published in Nuusbrief
Tagged under

Lees asseblief Joh. 1

Hoor jy, dit is wat mense, ongelowiges, gelowiges en diegene wat as deel van God se volk gereken is maar wat steeds aanhou sondig het, beleef het!

Almal van hulle, in al drie die groepe mense het beleef hoe dieselfde Jesus wat genade aan mense aangebied en bedien het, ook waarheid aan almal van hulle bedien het!

Die genade-kant verstaan almal en is vir almal aanvaarbaar, maar die oomblik wanneer ons oor die waarheid-kant begin praat, wat praat oor God se geregtigheid, oordeel en ja, die werklikheid van die hel, raak mense kriewelrig.

Maar, verstaan jy dan nie dit mooi nie?

Verstaan jy dan nie dat die God van die Bybel 'n heilige God is wat sonde haat, ja, haat, en dit nie voor Sy oë kan verdra nie!

Daarom moet Hy sonde straf.

Die enigste behoorlike straf vir sonde is die dood, soos die ewige dood, die hel. (Rom. 6:23; 2 Tess. 1:6-9; Op. 20:11-15)

Natuurlik is Hy ook 'n genadige, liefdevolle God. Wat elke mens, o, tog so liefhet! Hy wil nie dat enige mens verlore sal gaan nie, maar eerder dat elkeen gered sal word.

Dit is waarom Hy, reeds voor die grondlegging van die wêreld, die koms van Sy Seun, Sy vernederende menswording, Sy lyding Sy hele lewe lank, Sy kruisiging en verskriklike dood aan 'n kruis soos die ergste van misdadigers en dit terwyl Hy onskuldig was, en Sy helse smarte, alles, alles, reeds beplan het as deel van Sy versoenings- en herskeppingsplan.

Daarom moes Jesus, die Christus, ook hel toe gaan om ook daar die verlossings- en herskeppingsplan aan te kondig, maar om ook God se finale oordeelplan en oorwinning oor alle magte wat teen God in opstand gekom het, aan te kondig as die nuwe Koning van die nuwe Koninkryk wat nou ook hier op aarde aangebreek het.

Daarom moet hierdie boodskap deur my en jou verkondig word, naamlik dat Jesus die Here en Koning is van hierdie Koninkryk, wat nou ook hier op aarde aangebreek het.

Daarom moet elke knie buig en sal elke tong uiteindelik, selfs teen wil en dank, bely dat Jesus die Here is.

Daarom moet genade en waarheid aan al drie die groep mense oor wie ons die afgelope 3 kere gepraat het, bedien word soos Jesus mense bedien het terwyl Hy op aarde was.

Daarom moet die Evangelieboodskap oor God se genade-aanbod in Christus Jesus aan elke mens verkondig word.

Daarom moet ons wat aangeraak en verander is deur die verlossing in Jesus, en wat die Lewe en dit in oorvloed waarvoor Hy gekom het, geproe het, getuies daarvan wees in die hele wêreld, sodat elkeen die Goeie Nuus sal hoor oor Sy koms, Sy kruisiging, dood en opstanding.

Daarom moet, as deel van hierdie Evangelieboodskap, ook die waarheid van die noodsaak van bekering en wedergeboorte verkondig word.

Daarom moet daar aan elke mens gesê word: Bekeer jou van jou rebelsheid! Jy is totale verlore, onder God se oordeel en op pad hel toe!

Daarom moet daar ook vir die nuwe bekeerlinge geleentheid wees vir sondebelydenis en selfs vir bevryding by die bekering en doop in water, as deel van die normale Bybelse geboorte van elke nuwe lid van die ekklesia. Daarom ook het Jesus aan die prostituut van Joh 8 gesê: Ek veroordeel jou ook nie, maar gaan nou en sondig nie meer nie!

Net so, as deel van die normale bediening aan elke nuwe bekeerling, moet as deel van normale dissipelskap, aangedring word op heiligmaking en 'n aflê van die ou manier van lewe en ou sondige lewe.

Ons God en Vader haat immers sonde en kan dit nie voor Sy oë verdra nie. Veral nie in die lewe van Sy kinders nie. Dit is waarom Jesus aan 'n Petrus gesê het: Gaan weg agter My, Satan! Dit is ook waarom, as deel van die genade en waarheid waarmee Jesus mense bedien het, Jesus ook aan dieselfde Petrus gesê het dat hy Hom 3 maal gaan verloën, maar ook dat Hy vir Petrus se bekering gaan bid en dat hy daarna sal opstaan om sy plek in te neem as leier onder die dissipels.

Dit is ook waarom Jesus so vel in Sy bediening van genade en waarheid was teenoor die sogenaamde geestelike leiers, die Fariseers en Saduseers.

Uit hulle optrede en leringe het dit duidelik geblyk dat hulle nie werklik God se genade en waarheid verstaan en geproe het nie.

Daarom ook die opdrag aan die ekklesia om met strengheid en "tough love" elkeen te hanteer wat steeds bly volhard het in sonde en wat aangehou het om leuens en dwalinge te verkondig wat duidelik in stryd was met die kernwaarhede van God se Woord.

Die oogmerk daaragter was dus niks anders nie as om mense met genade en waarheid te bedien, net soos Jesus dit eens gedoen het.

Ons God en Vader het steeds elkeen lief wat bly volhard in hulle sonde, en wat bly volhard om dinge, in stryd met die waarheid van die Woord, te verkondig. God se hart is ook wat hulle betref, dat hulle weer tot bekering sal kom, want Hy wil nie dat enigeen van hulle uiteindelik verlore sal gaan nie, maar eerder gered sal word.

Published in Nuusbrief
Tagged under