Displaying items by tag: Woon in julle

Jesus is ook die "Doper met die Gees"

Behalwe vir my radikale bekering en wedergeboorte in my Graad 10-jaar, was die “ontdekking” dat my Koning en Verlosser, Jesus Christus, ook die Doper met die Gees genoem word, lewens veranderend!

Vir meer as 3 maande, daar in 1992, dag na dag, het ek elke teksvers in die Bybel wat direk verwys of praat oor die Heilige Gees, 327 verse om presies te wees, gaan lees en oordink om presies te hoor wat sê die Lewende God self vir my daardeur.

Want, het Hy vir my belowe, “Ek gaan Myself op ʼn nuwe manier aan jou openbaar!”

Kan ek vir jou so ʼn paar van hierdie teksgedeeltes vandag gee om hardop te lees om te hoor wat die Here vir jou sê?

Ek het dit goed gedink om ook met jou elke keer iets te deel wat ek gehoor het toe ek dit gelees het.

Hier is die gedeeltes:

Handelinge 2: 14-24, 32-40 – Onthou, dit is Pinksterdag, 31 Mei 32 n.C., en die dag waarvan Jesus daar in Johannes 14 en Johannes 16 gepraat het, wat Hy en die Vader op ʼn nuwe manier, anders as ooit van te vore, self by en in God se mense gaan kom woon. Ja, wanneer Jesus, na Sy kruisiging, dood en opstanding, as “die Doper met die Gees” (soos Johannes die Doper oor Hom gepraat het daar in Joh. 1:32-34) self Sy mense wat in Hom glo, “met Sy Gees gaan doop”.

Hand. 1:4-8 – Om “gedoop te word met die Gees” beteken twee dinge: Dat God self, deur Sy Heilige Gees, dieselfde Gees wat in die Vader en die Seun woon, nou self IN elkeen van Sy mense se lywe kom woon. Maar ook dat hierdie selfde Gees ook OP elkeen van God se mense wil kom wees, om so hierdie mense bonatuurlik, met bonatuurlike krag en bonatuurlike vermoëns, toe te rus sodat God hulle kan gebruik om ... deur die verskillende gawes van die Gees (waarvan ons in gedeeltes soos Rom.12:6-8 en 1 Kor. 12:4-11 lees) self mense te bedien en bewus te maak dat God self daar is en self met hulle praat en dinge tussen hulle doen.

Johannes 14:16-21 en verse 23-28 – Hier vertel Jesus, voor Sy kruisiging en opstanding, dat nadat Hy Sy Bloed vir elkeen van hulle gestort het, die Heilige Gees gaan kom om in elkeen van God se kinders te kom woon.

Dink ʼn bietjie na hieroor en hoor self wat die Here vir jou verder wil sê.

Praat dan met Hom verder in gebed.

Published in Nuusbrief