Displaying items by tag: dwaalleringe in die NG Kerk

Saturday, 17 July 2021 11:35

ʼn Vervolg oor hoe lyk die nuwe wynsak

As deel van ons geestelike detoks en soeke na geestelike “vestings” in ons lewe, glo ek, is dit vir elke volgeling van Jesus nodig, ongeag in watter deel van die Liggaam van Jesus jy aanbid, om net weer krities te gaan kyk na wat ons glo... oor die Ekklesia of Kerk van Jesus, oor God, oor die Bybel, oor die doop, oor die Heilige Gees, oor die gawes van die Gees, ens.

Besef jy, as dit wat ons glo nie in lyn is met wat God in Sy Woord sê nie, is ons êrens langs die pad deur die vyand belieg en bedrieg en gaan hierdie onwaarheid of dwaling die een of ander tyd, ons geestelike lewe ernstig beïnvloed en benadeel!

Daarom is my gebed vir elkeen van julle, en myself, dat ons weer ʼn slag aan die voete van Koning Jesus, met net die Bybel in ons hande, dit wat ons werklik van harte glo, nuut sal ondersoek en bedink.

Ja, en daarom, as deel van hierdie ondersoek, gaan ek met jou tussen-deur met jou bly gesels oor wat ons in God se Woord in die verband lees en ontdek, en, ja, as dit nodig is, jou selfs ʼn bietjie uitdaag om ʼn slag met ander oë daarna te kyk.

My gebed is dat hierdie gesprek met jou, jou sal lus maak om as ʼn gesonde, radikale volgeling van Jesus, miskien vir die eerste keer in jou lewe, dit wat jy glo noukeurig te ondersoek in die lig van die Woord.

Laat toe dat God se Gees jou oortuig van wat werklik Sy wil en waarheid in die verband is.

Dit is wat tans besig is om plaas te vind in die NG Kerk, hier in Suider Afrika, waarin die meeste van ons seker groot geword het.

Ek wil nou nie die hele storie hieroor hier vertel nie. Jy kan my nuwe boek, KYK, DIE SKIP IS BESIG OM TE SINK, hieroor lees. (Gaan laai dit af op my webblad, www.nuwewyn.co.za, terwyl dit nog gratis beskikbaar is.)

Maar kom ek sê net dit. Nadat ek en Hetta in 1993 deur die Here beveel is om te bedank as NG-dominee’s-egpaar, het die Here hierdie geestelike “detoks-program” oor wat ons glo en dit wat werklik in Sy Woord staan, met ons begin stap. En dit wat ons ontdek het, het ons aan derduisende ander begin vertel en leer.

In 2013 moes ek selfs dit, soos ʼn Luther vanouds, teenoor 3300 dominees en professors van al 5 die gereformeerde kerke in Suider Afrika persoonlik in ʼn profetiese woord gaan bely.

Ek het gedog ek was toe klaar met my roeping teenoor die amptelike NG Kerk, maar in 2019 het die Here my en Hetta “teruggestuur” na die amptelike NG Kerk, om by die Moreleta Park-Kairos kongres, en daarna in die Kairos Netwerk se gesprekke, die sowat een miljoen belydende lidmate wat uit die NG Kerk gestap het sedert 1993, te verteenwoordig.

Tussen hierdie gelowiges wat gekies het om hulle band met die Algemene Sinode en die besluite van die NG Kerk los te maak, moes ek en Hetta gaan sit en moes ons vir hulle vertel wat die Here vir ons (en ʼn miljoen ander) geleer het oor wat werklik in Sy Woord staan.

Ek wil afsluit met ʼn Whatsapp wat ek van my ou klasmaats wat nog in bediening in Harare is, wat saam met my in 1978 klaar gemaak het op Stellenbosch se Kweekskool, hierdie afgelope week (Julie 2021) vir my gestuur het.

Hy stuur vir my die berig in DIE BURGER oor die NG Strand Moedergemeente wat ook deel is van die “dolerende” of treurende gemeentes in die Kairos Netwerk.

“Verbaas” haal hy toe die lysie aan van al die dwaalleringe waaroor hulle treur, wat as besluite in die NG Kerk vasgelê is die afgelope jare.

Ja, selfs dominees in die NG Kerk het nie eers besef hoeveel absolute dwaalleringe in die kerk waarin hulle bedien, geleer word as “waarheid” nie!

Daarom wil ek afsluit met ʼn persoonlike oproep, ongeag in watter deel van die Liggaam van Jesus jy “behoort”, gaan maak weer seker aan die voete van Jesus, met net die Bybel in jou hande, oor of dit wat daar geglo en geleer word, werklik klop met die Woord van God en werklik “waarheid is wat jou vry kan maak”.

Published in Nuusbrief