Displaying items by tag: gehoorsaamheid

Thursday, 10 March 2022 10:59

In die Ekklesia het God altyd die laaste woord

 

In die ekklesia kan mense ʼn eie opinie hê, maar uiteindelik is net wat God sê belangrik en het Hy altyd die laaste woord.

As gelowige volgelinge van Jesus en as familie van die Koning luister ons graag en geduldig na mekaar en na mekaar se opinies, maar die feit dat God se Woord en wat Sy wil is ononderhandelbaar is, maak dat dit altyd ons finale toets en die laaste woord daaroor is.

Almal van ons se verhouding met God en met mekaar is hierdie mengsel van geloof en vasklou aan die Woord. Tog is daar ook altyd emosie en ʼn klomp jarelange, intieme geestelike ervarings ook hierby betrokke.

Uiteindelik, soos ons daar in Jesus se lewe in die tuin van Getsemane sien gebeur het, daardie aand van Sy gevangeneming, is die ware toets vir die diepte van ons verhouding en ons liefde, die vraag of ons bereid is om te buig en gehoorsaam te wees aan God se wil.

Is ek bereid om te buig voor die Koning?

Is ek bereid om te sê: Maar nie my wil nie, maar U wil!

Waar die Koninkryk van God gekom het en waar Jesus die Koning en Here is, geld net die wil en wens van die Koning.

Hier gaan dit nie meer oor “ons regte” nie.

Natuurlik het ons as mense regte, maar waar die Koninkryk van God heers, daar kan ons die Koning vertrou om vir ons en ons “regte” te sorg.

Terwyl ons nou oor “regte” praat, kom ons kry net eers weer ons koppe en harte hieroor reg.

Maar voordat ons begin gesels oor ons “regte” as mens, kom ons gesels net weer kortliks oor wat ons bedoel met “koninkryk van God”.

Dit gaan hier oor God, die Koning van konings, wat in Sy groot genade en liefde in Christus Jesus alles, alles, alles, doen wat nodig is om gewone mense Sy kinders in elke sin van die woord te maak. Deur die werking van Sy Gees, gebeur iets bonatuurliks in elke mens wat Jesus Christus as Verlosser en Koning in geloof aanvaar en kies om Hom lewenslank in gehoorsaamheid te volg.

Die Bybel beskryf hierdie bonatuurlike gebeure as “bekering”; ʼn 180 grade omdraai; letterlik ʼn weer-gebore-word; ʼn lewendig word van jou gees; en as ʼn lewenslange veranderingproses van jou “mind”, wat “heiligmaking” genoem word.

So word gewone mense, kinders van die lewende God en Koning. Hulle word dus “koningskinders” met al die regte en alles wat nodig is om te kan regeer saam met die Koning, Jesus Christus, in hierdie Koninkryk wat ook nou hier op die aarde aan die deurbreek is.

Hoor hoe sê God deur Sy Gees dit in Sy Woord.

Rom. 8:32

“Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?”

Rom. 8:13-17

As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ʼn einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.

Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.

Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: "Abba!" Dit beteken Vader.

Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.

En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.”

Ef. 2:4-10

“Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief.

Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!

Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ʼn plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ʼn gawe van God.

Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.

Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Het jy dit raak gelees? Ek en jy, as kinders van God, sit as’t ware reeds “in die hemel”, saam met Christus Jesus as die Koning, en ons regeer, ja, REGEER”, nou al reeds saam met Hom.

Wat vir my, in gewone Afrikaans, beteken dat God ons wil gebruik as Sy tuinslange en Sy hande en voete, en as Sy ambassadeurs en bedienaars, van alles wat nodig het om hier op hierdie stukkende, sterwende aarde iets te laat gebeur om in elke sin van die woord, werklik hemel, en iets van die hemel se realiteit, te laat deurbreek.

Daarom glo ek, gaan God ons gebruik presies soos wat Jesaja 61 dit beskryf het.

Ek glo ons gaan oral gemeenskappe, besighede, fabrieke, plase, boerdery-gemeenskappe, skole, hospitale, versorgings- en restourasie klinieke oprig waar en waardeur God die hemel en sy lewensgewende kultuur kan bedien.

Published in Nuusbrief
Tagged under

 

Omdat die nadruk op gehoorsaamheid in die lewe van die ekklesia so min gehoor het, wil ek dit weer ʼn keer beklemtoon.

Kom ek haal vir jou God se Woord verder hieroor aan. Onthou, dit is nie wat ek sê nie, dit is wat God self, Koning Jesus self, vir ons hieroor sê. Hoor dit dan en wees gehoorsaam. Ons het hier te make met ʼn keuse tussen lewe en dood!

Mat. 6:9-10

“So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.”

Mat. 7:21

“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.

Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’

Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.

Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ʼn verstandige man wat sy huis op rots gebou het.”

Joh. 14:21

“Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.”

Joh. 15:10

“As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.”

1 Joh. 2:3-11

“As ons die gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan dat ons Hom ken.

Iemand wat sê: "Ek ken Hom," maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is ʼn leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie.

Wie sy woord egter gehoorsaam – in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik. Hieraan weet ons dat ons in Hom is.

Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.

Geliefdes, dit is nie ʼn nuwe gebod wat ek aan julle voorskrywe nie, maar ʼn ou gebod wat julle van die begin af gehad het. Die ou gebod is die boodskap wat julle gehoor het.

Tog is dit ook ʼn nuwe gebod wat ek aan julle voorskrywe. Dat dit werklik so is, is te sien in Jesus en ook in julle, want die duisternis is aan die verbygaan, en die ware lig skyn alreeds.

As iemand beweer dat hy in die lig is, maar hy haat sy broer, is hy nog steeds in die duisternis.

Wie sy broer liefhet, bly in die lig, en daar is niks wat hom laat struikel nie.

Maar wie sy broer haat, is in die duisternis en lewe in die duisternis en weet nie waar hy gaan uitkom nie, omdat die duisternis hom blind gemaak het.”

1 Joh. 5:2-4

“Hiéraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie onderhou.

Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, want enigeen wat ʼn kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof.”

Sien jy, gehoorsaamheid aan die Koning se woord en wil is ononderhandelbaar!

Published in Nuusbrief
Tagged under

 

Die God van die Bybel is ʼn heilige God, wat sonde haat!

Hy haat sonde soveel dat, omdat Hy die mens wat Hy geskape het, so lief het en nie wil hê dat een verlore gaan nie, Hy hulle moes loskoop met die bloed van Sy Seun, Sy enigste, wie self God is!

Die enigste manier hoe Hy as ʼn Heilige, Regverdige God mense kan genadig wees, was as hulle Sy genadegeskenk, Sy oplossing, Sy weg na Redding en Verlossing uit die hel waarheen hulle almal op pad was, sou aanvaar in geloof en daaraan sou vashou.

Slegs hulle wat in geloof aan Jesus as Verlosser, maar ook Hom as die Here en Koning van hulle hele lewe sou vashou tot die einde van hulle lewe, word geregverdig of totaal vrygespreek van die skuld en straf wat hulle eintlik verdien as gevolg van hulle sonde.

Daarom het God die Tora, die Wet, gegee as die Tugmeester na die Christus toe, sê die Gees deur ʼn Paulus daar in Galasiërs. Om elkeen van ons, as ons onsself daaraan toets, te help ontdek ons is totaal verlore en op pad hel toe.

Dit is waarom Christus Jesus ook vir elkeen van ons gekom het; om my te kom red; om ook my Verlosser te wees en met Sy Bloed die skuldrekening as gevolg van my sonde te kom betaal.

Daarom was dit nodig, voor my redding en bekering, dat iemand die wet moes gebruik om my te oortuig dat ek ʼn sondaar en op pad hel toe is. Iemand moes my vra: Het jy al ooit die Naam van God gebruik as ʼn vloekwoord of ʼn stopwoord? Het jy al ooit êrens, die een of ander tyd, iemand gehaat of selfs dood gewens? Het jy al ooit na iemand van die teenoorgestelde geslag begeerlik gekyk? Het jy al ooit êrens, die een of ander tyd, iets gevat, iets gesteel, wat nie joune was nie?

As jy net een van hierdie vrae met ʼn ja beantwoord, sê die Heilige God vir jou, jy is ʼn sondaar, totaal verlore en verdien die hel met al sy smarte.

Daarom het ook jy Jesus as Verlosser nodig. Om gered te word. Om deur God begenadig te word. Om deur God vergewe te word. Om kind van God en deel van God se familie op aarde te word.

Miskien kan jy ook, soos ek, vandag in sekerheid sê, ja, ek het hierdie pad in my lewe gestap. Ek het op daardie dag besef ek is totaal verlore en op pad hel toe. Toe het ek die Evangelieboodskap oor Jesus gehoor en Hom aanvaar in die geloof as my Verlosser.

Dan moet ek vandag ook jou daaraan herinner dat Hy ook jou Here en die Koning is. Sy woord is en bly die wet in jou lewe. Reg bly reg en verkeerd bly verkeerd. Sonde bly dit wat Hy sê sonde is.

Daarom leer Hy jou en my om as ons mense dissipel en leer om Hom te volg as hulle Verlosser en Koning, dat ons hulle sal leer om alles te onderhou, met ander woorde, alles gehoorsaam te doen, wat Hy ons geleer het om te doen!

Daarom kan jy, nou dat jy Sy kind is, na jou bekering, nie doen soos en wat jy wil nie. Daarom kan jy nie met sonde speel en dink jy gaan daarmee wegkom nie. Reg bly steeds reg, en sonde bly sonde!

Toe Jesus my en jou gered en wederbaar het, het Hy ons uit die mag van sonde gered. Hy het die mag van sonde in ons lewens gebreek en ons vry gemaak om te kan nee sê vir sonde, vir ons vlees en al sy begeertes.

Daarom is ons nie meer sondaars en magtelose gevangenes van sonde en ons sondige natuur nie. Nee, ons kan nou nee sê vir sonde. As ons nou sondig, dan is dit nou ons keuse. Dan het ons nou self gekies om, teen ons beterwete in, teen God en teen die Heilige Gees hier binne in ons, se leiding en se pleit in, tog te doen wat God duidelik in Sy Woord sê sonde is!

Dit is dan wanneer God se Gees by ons kom pleit en ons kom waarsku dat ons, as ons dit doen, as ons teen ons eie beterwete, as verloste mense, steeds sondig en aanhou daarmee, ons op die mees gevaarlike plek is waar ʼn mens kan wees!

Gaan lees asseblief maar self wat staan hieroor daar in Hebreërs 6:4 tot 8, en Hebreërs 10:26 tot 31, en Hebreërs 12:15 tot 29!

Sien, jou lewe, jou ewige bestemming, is hier op die spel! Ek pleit by jou!
Gehoorsaamheid in die lewens van die kinders van God se lewe is ononderhandelbaar!

As jy, soos ek, nadat jy dit gelees het, net weer deur God se Gees herinner word aan dinge in jou lewe wat jy weet nie reg is nie, of waar jy ongehoorsaam was aan die stem en die leiding van die Heilige Gees, bely dit onmiddellik en vra God se vergifnis daarvoor. Aanvaar dan Sy vergifnis, soos Hy immers belowe daar in 1 Joh. 1:9.

Staan dan op en gaan doen wat jy moet doen. Gaan maak reg waar jy moet reg maak.

Published in Nuusbrief
Tagged under