Displaying items by tag: kerke

 

Jammer, maar dit is die reine waarheid!

Dit waaraan ek en jy gewoond geraak het, selfs in ʼn baie godsdienstige land soos Suid-Afrika, waar ons ʼn “kerk” van die een of ander aard op feitelik elke hoek kry, is glad nie die Bybelse ekklesia nie!

Die Nuwe Testamentiese gemeentes waarvan ons lees in Handelinge, en in die res van die Nuwe Testament, het glad nie geboue van hulle eie gehad nie. Die meeste van hulle het glad nie hulle “eie leraars” gehad nie. Nie een het ʼn “worship” span gehad nie. Hulle het ook nie eers normale, gereelde “eredienste” gehad nie!

Nou waarmee het ons dan vandag te doen as ons kyk na die meer as 30 000 “verskillende kerke of kerkdenominasies” hier in Suid-Afrika?

Besef jy dat elkeen van hulle “mensgemaakte”, mens geïnisieerde, mens-gestruktureerde en georganiseerde strukture en organisasies is!

God het beslis nie een van hulle”gestig” nie en ook nie vir hulle elkeen hulle eie name gegee nie! God het ook nie vir elkeen van hulle ʼn eie geloofbelydenis, ʼn kerkorde en kerklike tradisies gegee nie! Dit is alles mense-werk!

Nie dat ek daarmee sê dat alles sleg en leuens is nie. Ek sê nie daarmee dat die Almagtige, genadige, liefdevolle God nie ook deur hulle kan werk en selfs mense kan seën en bedien nie. Ek wil net vir jou ʼn bietjie Bybelse perspektief gee – al beteken dit dat ek jou dalk eers ʼn bietjie moet skok!

Dit gesê, kom ons gesels verder oor wat God self in Sy Woord sê oor hoe lyk Koninkryk van God en hoe lyk Bybelse ekklesia waar die Koninkryk van God deurgebreek het.

Laat ons dadelik vir mekaar sê dat die begrip en woord “koninkryk” al klaar vir die meeste Westerlinge ʼn lewensvreemde begrip is. Ons glo mos in demokrasie, met ander woorde, die regering van die “demo”, of volk!

Ons hoef egter maar net na die opdrag van ons Koning te luister daar in Matteus 28:19 om te verstaan dat waar Sy Koninkryk deurgebreek het onder mense, gaan dit oor iets totaal anders wat onder hierdie mense gebeur het: Elkeen wat werklik Koning Jesus in geloof herken as God self wat mens terwille van ons geword het, se hele lewe verander!

Die woorde wat die Bybel gebruik om hierdie verandering te beskryf, is “bekering” en “wedergeboorte” (= jy word as’t ware weer ʼn keer gebore deur die werking van die Heilige Gees in jou).

Ja, sê 2 Kor. 5:17, jy is deel van ʼn nuwe “skepping” wat hier op aarde besig is om te gebeur, waar God se Koninkryk, sigbaar deurbreek hier op aarde en ook in mense se lewens.

Jesus is van daardie oomblik die Koning in jou lewe; Hy is die Enigste Een wat sê het in jou lewe en wat sê wat reg en verkeerd is. Sy Wil is wet en Hy het die laaste woord oor alles!

Jy hoor dit immers reeds in Mat. 28:19 as Hy sê: Gaan en maak die wêreld My dissipels (= leerlinge, volgelinge), doop hulle… (in die sin van Romeine 6). As ʼn sigbare teken van as’t ware ʼn begrafnis wat in elke mens se lewe plaasvind wat glo dat Jesus die Koning en Verlosser is, want dit ou jy moet nou eers begrawe word, sodat ʼn nuwe jy kan opstaan om daarbuite te leef as “nuwe mens”, as kind van God en deel van die ekklesia en familie van die Koning hier op aarde.

Daarom moet elkeen van hulle geleer word presies wat die wil is van die Koning, of soos Jesus dit beskryf het in hierdie vers, “alles wat Ek vir julle geleer het”.

Waar Jesus die Koning is in mense se lewens, verander alles. Hulle identiteit verander en hulle manier van lewe verander. Hulle ondergaan ʼn totale kultuurverandering. Hoe kan dit anders?

Hoor hoe sê Joh. 1:12,13 dit: “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ’n man nie, maar uit God gebore is.”

1 Pet. 2:9 en 10 sê dit so: Julle, daarenteen, is ʼn uitverkore volk, ʼn koninklike priesterdom, ʼn nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys.”

Published in Nuusbrief
Tagged under