Displaying items by tag: pandemie

 

In die lig van gedeeltes in God se Woord soos 2 Kor. 5 en 6, en die bekende 2 Kron. 7:13-16 (lees dit asseblief!), kom ek vandag as ambassadeur van die Koninkryk van die Hemel en sit ek die volgende in groot erns op jou tafel neer vandag:

Ek glo dat hierdie tyd van afsondering wat ons die afgelope paar maande dwarsoor die wêreld beleef het, ook ʼn ernstige aanmaning uit die hemel aan elkeen van ons was!

Let dus op, asseblief! Word wakker en dink asseblief na oor wat ek hierbo geskryf het!

Besef jy, dat as ons God en Vader in die hemel besluit het om ʼn wêreldwye “pandemie” – wat nog nooit in die geskiedenis gebeur het nie – te “gebruik” om elke mens op aarde in afsondering te dwing, dan lyk dit vir my ons moet met groot erns na ons eie lewe en wat rondom ons aan die gang is, gaan kyk!

Dan moet ons dit nie sommer net aflag of probeer afmaak as “deel van ʼn sinistere plan!”, of sommer net ons eie regering se doen en late nie!

Nee, dan lyk dit vir my ons God en Vader wil hê ons moet elkeen stil word en mooi gaan nadink oor ons eie lewe, ons eie prioriteite, oor die voorreg om te lewe en gesond te wees, en wat ons maak met daardie voorregte.

Dan moet ons ook erns maak met die chaos en boosheid wat rondom ons en selfs in ons eie lewe aan die gang is.

Besef jy dat die Enigste ware God in die wêreld rondom ons en selfs in ons eie lewe in ʼn minder of meerdere mate...

• Verwerp word as Koning en Here, al is Sy Woord die enigste ware wet en pad na ware lewe

• Dat Sy reëls en beginsels vir lewe en dit in oorvloed, oral en in almal van ons se lewens op die een of ander manier geïgnoreer of verbreek word

• Dat Sy leiding deur Sy Gees geïgnoreer en afgemaak word as irrelevant

• Dat Hy en Sy ware dienaars gespot en as bespotlik afgemaak word

• Dat geld en genot die gode is van ons tyd

• Dat die grootste deel van die wêreld teen God se Woord en wat daarin staan, rebelleer

• Dat selfs daar waar mense mekaar “God se mense” en “deel van Sy kerk” noem, word “kerk” gespeel

• Ja, selfs onder ons is sonde nie meer sonde nie

• Die mens en ons wêreld het hulle eie god geword. Elkeen werk aan ʼn lewe en ʼn toekoms waarin hulle nie vir God nodig het nie.

Gaan lees ʼn bietjie weer Ps. 2 en dan vra jy jouself af ons ons nie in hierdie psalm het goeie beskrywing het van ons moderne wêreld en sy mense nie?

Ek wil afsluit. Ek sit en wonder die afgelope tyd baie daaroor oor hoekom, as gevolg van die beperkings op byeenkomste, God se mense, tot nou toe, verhoed word om, soos hulle bykans vir 2 eeue gewoond was om te doen, in “spesiale geboue”, op ʼn “spesiale dag”, vir ʼn uur of twee, bymekaar te kom?

Dink jy dat God dalk daardeur iets vir ons wat “kerk” is, wou sê?

Dit het beslis baie hard en duidelik met my gepraat!

Ek het in hierdie tyd God hard en duidelik hoor praat oor…

• Die demoniese verdeeltheid in die Kerk van die Here Jesus

• Hoe ver ons weggedwaal het in ons praktyke en strukture van ware Bybelse Ekklesia-wees

• Die hou-vas van Mammon in soveel gemeenteleiers en lidmate se lewens

• Die geweldig oppervlakkige en ja, selfs onskriftuurlike lering

• Die liefdeloosheid onder mekaar en harteloosheid teenoor nood in die midde van gemeentes, wat nog te praat van daar buite!

• Hoe min Sy teenwoordigheid werklik gemis en gesoek word.

Daarom hoor ek Jesus, die Koning, sê: Bekeer julle, want die Koninkryk van die hemel is oral besig om deur te breek en sigbaar te word rondom julle!

In die volgende vier nuusbriefies gesels ek oor 4 belangrike implikasies hiervan.

Published in Nuusbrief
Tagged under