Aksie twee: ʼn Uitnodiging na ʼn gesprek oor wat in Maleagi staan

Nee, nee, jy is verkeerd as jy dink hierdie gesprek gaan tipies die “gee jou tiende-gesprek” van baie pastore en dominees oor Maleagi wees!

Nee, dit gaan oor baie meer. Dit gaan oor daardie onvervulde profesieë in hierdie wonderlike profetiese boek.

Om regtig te verstaan wat in hierdie boek gebeur, kan ons dit vergelyk met 1 Kon. 18 se gebeure, waar Elia vir Koning Agab en vir ʼn hele volk, Israel, vra: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hom; maar as dit Baal is, volg hom.”

In die boek, Maleagi, gebeur hierdie drama in die hofsaal van die hemel.

Ons hoor hoe God self as Aanklaer en Sleutelgetuie optree en hoe Hy Sy mense - het jy gehoor, Sy mense! – aankla dat hulle teen Hom gerebelleer het.

Uiteindelik word die saak besleg wanneer ʼn klein groepie mense die volgende drie dinge besluit:

• Hulle kies net weer ʼn keer om hulle te bekeer van ʼn lewe van ongehoorsaamheid, wetteloosheid, nikswerd godsdiens. En omdat hulle glo dat God werklik God is en nie Mammon nie, kies hulle om Hom te dien met hulle lewens, tyd, geld en alles wat hulle het. Daarom begin hulle belê in die stoorkamer en bankrekening van die Hemel.

• Hulle kies ook om verder ʼn eerlike en openhartige gesprek met mekaar en ander mense te hê oor alles wat rondom hulle aangaan.

• Om uiteindelik almal te roep tot verantwoording en mekaar ʼn kans te gee om onvoorwaardelik aan God en Sy saak te “commit”. (Amper soos die “Return South Africa! Keer terug, Suid-Afrika”-veldtog en gebedstyd, wat dwarsoor Suid-Afrika aan die gebeur is).

Dit wat hier in Maleagi gebeur onder Sy mense, veroorsaak dan by God so ʼn oorweldigende reaksie wat uiteindelik die geskiedenis van die hele wêreld sou verander!

Ja, jy is reg! Die Here sou so 400 jaar na hierdie gebeure, eers die een wat daar in Mal. 4: 5 die profeet Elia genoem word, of daar in Mal. 3: 1 “die boodskapper”, stuur om die pad voor die Here reg te maak. Dan sou die lewende God self, na wie die mens sy hele lewe en dwarsdeur die geskiedenis nog soek, skielik self na Sy tempel, na hierdie aarde, toe kom!

Hy sal self kom en alles hier kom verander!

Hy gaan ook Sy lewe as offer gee, sodat ons lewens en ons offers voortaan vir Hom aanneemlik kan wees!

Ja, Hy gaan self terugkom na die mens wat Hy geskape het!

Elke mens wat Hom dan aanvaar as God en wat nie meer vir Mammon dien as god nie, maar hulle hele lewe as volle tiende gaan bring om in die Hemelse Bankrekening te belê elke dag en wat Hom so gaan dien in wat hulle eet of drink, of in alles wat hulle doen, gaan Sy seën beleef.

“Toets My hierin, sê die Here, of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak nie…”

Elkeen wat kies om met hulle alles Hom alleen te dien, sal Sy kosbare besitting word.

Mal. 3:17

Die lewende God belowe daar in Mal. 3:17: “Ek sal goed wees vir hulle soos iemand goed is vir sy seun wat vir hom werk. Dan sal julle weer die verskil sien tussen wie goed doen en wie goddeloos is, tussen wie My dien en wie My nie dien nie.”

Ja, ons sou sien hoe lyk die mens wat gekies het om God onvoorwaardelik as Verlosser en Koning te dien teenoor en te midde van die res van ʼn mensdom wat Mammon bly dien.

Natuurlik word hier gepraat van diegene wat werklik deel is van die ware Kerk van Jesus, die ware Ekklesia.

Dit is mense wat by mekaar kom en wat vir die eerste keer of opnuut weer aan mekaar sê: Ons kan nie anders nie. Ons moet hier ʼn streep in die grond trek en sê: Tot sover en nie verder nie. Ons kan nie maar net aangaan soos altyd nie. Ons en ons geliefdes het gekies om Jesus Christus as Verlosser en Koning te dien as burgers van Sy Koninkryk met alles wie ons het en met alles wat die Here aan ons gegee het.

Kom ons wees prakties: Ek glo dit is waar elke ware volgeling van Jesus nou is wat al die jare byvoorbeeld lidmate was van die NG Kerk, en wat sedert verlede jaar of selfs vroeër beleef het, hulle moet hierdie band met hierdie kerkstruktuur deursny, want die ware God en Sy Woord is nie meer hier die Alfa en Omega nie.

Dit is wat elke volgeling van Jesus Christus sal moet oor besluit ongeag in watter een van die sowat 30 000 en meer kerkgroepe en denominasies hulle hul bevind. Ons sal weer moet besluit wie is werklik ons God, Here en Koning. Wie dien ons werklik?