“Neos” wyn in “kainos” wynsakke

Hoeveel keer bid ons nie vir herlewing of ʼn nuwe beweging van God se Gees nie!

Ons besef egter nie dat waar God se Gees op ʼn nuwe manier tussen ons gaan begin werk, gaan dit dramatiese verandering beteken nie. Ja, in die bekende woord van Lukas 5 en Markus 2:22, gaan dit ook beteken dat die Heilige Gees as deel van die proses, “neos” wyn aan ons gaan bedien, wat “kainos” wynsakke nodig het!

Kom ek verduidelik wat ek bedoel.

Toe Jesus daar in Markus 2:22 hieroor met Sy dissipels gepraat het, het Hy gepraat het oor hierdie “nuut” of “nuwe” wat nodig is en twee verskillende woorde in die Grieks gebruik om te sê: “Nuwe” (neos in die Grieks) wyn hoort in “nuwe” (kainos in die Grieks) wynsakke!

Dit is dan ook waarom van die vertalings dit selfs vertaal het as: “Nuwe wyn moet in vars wynsakke gegooi word.”

“Neos” beteken nuut, maar dan nie verskillend in soort of kwaliteit nie. Dink eerder daaraan soos ʼn bepaalde model motor wat in ʼn motor-vervaardigingsaanleg vervaardig word. Dit kan dieselfde maak, model en kleur elkeen wees, maar tog is elke motor ʼn ander, nuwe motor.

Die Heilige Gees is die Een wat God se onveranderlike Woord, elke keer vars en nuut aan ons bedien. Hy bly dieselfde Gees, die Gees van die Lewende God, en die Woord bly dieselfde, onveranderlike Woord van die Lewende God, maar tog kan Hy in elke nuwe seisoen daardie selfde Woord vars en nuut aan ons bedien.

Dit gaan wees asof jy daardie Woord wat jy al soveel keer gelees het, vir die eerste keer “raak” lees!

Ek het dit soveel keer in my eie lewe al beleef!

Hoe goed onthou ek hoe God se Gees in 1992-1993, byvoorbeeld in die boek, Romeine, waaroor ek my doktorale mondeling in Nuwe Testament in 1988 gedoen het, soveel nuwe openbaringe oor God se Gees en die gawes van die Gees, en oor die doop in water, aan my openbaar het, dat ek oopmond en totaal verstom my verstaar het aan die “ou, bekende woorde” wat ek al soveel keer in Afrikaans, Engels en selfs in die Grieks gelees het, wat net skielik vars en nuut vir my geword het!

Dit was asof ek God se Gees aan my hoor sê het: Dit is nie Ek of My Woord wat verander en nuut is nie. Dit is jy, jou manier van dink en jou “teologie” wat moes verander en nuut word om te akkommodeer wat My wil en planne vir die nuwe seisoen is!

Dit is ook wat ek en miljoene gelowiges tans oor die wêreld beleef as ons oor “kerk” of die “ekklesia” dink en praat! Dit is asof ons skielik hoor en sien hoe God se Gees in dieselfde, onveranderlike Woord van God, die Bybel, dinge aan ons wys en openbaar wat ons, asof vir die eerstekeer werklik raaksien en nuut en vars begin verstaan!

Daar is natuurlik ook ʼn tragiese kant hieraan. Dit is ongelukkig ook so dat daar duisende gelowiges oor die wêreld is wat, ongeag hoeveel keer God se Gees hieroor met hulle praat, net weier om anders te dink hieroor of om te verander. Jy hoor hulle ook sag brom: As dit vir my pa en ma, oupa en ouma goedgenoeg was om dit so te doen of dit so te glo al die jare, hoekom nou verander of anders dink!

Daarom moet ons weer met groot erns die gebed daar in Efesiërs 1:17 tot 23 bid en vra dat God self, deur Sy Gees, ons in ons siel en gees, sag en soepel genoeg sal maak vir ʼn gewilligheid en openheid om presies te hoor en te verstaan wat God self aan ons wil openbaar in hierdie tyd. Ja, dat Hy ons bereid sal maak om te verander as en waar dit nodig is!

Daarom moet jy vir God genoeg tyd en geleentheid gee om jou lank genoeg te week in Sy Woord en om sommer jou weer opnuut te olie met Sy Gees!

Kom ons bid saam: Gees van God, maak ons sensitief vir U stem en gee aan ons harte wat U stem sal herken en sal gehoor gee as U nuwe dinge aan ons sê vir hierdie seisoen. (Jes. 50:4,5)