Ja, dit is wat eintlik daar in Hebreërs 10:25 staan. Maar kom ek haal vir jou dit in konteks direk uit die Grieks aan. “Laat ons stewig vashou aan die belydenis van die hoop, want Hy wat die belofte gemaak het, is getrou. Laat ons noukeurig op mekaar let om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade, En laat ons ons saam-kom nie agterweë laat nie (soos die gebruik by sommige is), maar mekaar aanmoedig – en soveel meer namate julle die dag sien naderkom.” (Heb. 10:23-25) Ja, ek weet hierdie gedeelte word gereeld aangehaal om mense aan te spoor om die Sondag-eredienste by te woon. Maar dit is eintlik nie waaroor dit in hierdie gedeelte gaan nie. Dit gaan hier oor die gereelde saam-kom van families gelowiges. Waar ons mekaar op die naam ken, persoonlike liefdesverhoudinge bestaan, ons in mekaar se lewens kan inspreek en mekaar persoonlik selfs kan aanspreek waar en wanneer dit nodig is. Dit gaan beslis nie hier oor daardie geleenthede wat ons reël en inkleë op so ʼn manier dat dit groot groepe mense kan te trek nie. Nie dat daar enigiets verkeerd is om hierdie soort byeenkomste te reël nie. Inteendeel, vandag weet ons uit die sosiologie hoe noodsaaklik dit is vir die mens se geestelike welwese om op verskillende tye en wyses betrokke en deel te wees van verskillende groepe mense, soos... • Om op ʼn baie persoonlike vlak ʼn groepie mense om jou te hê wat jy persoonlik ken en weet hulle ken jou. Dit is daardie klein, baie persoonlike, informele, saam-lewe en saam-wees met ʼn klein groepie mense (soos wat ons in die ekklesia van Jesus sien gebeur, waar gelowiges gereeld daagliks en weekliks saamkom, saam lewe en dinge doen soos saam eet (daardie “M-eatings” waarvan ons veral in die boek, Handelinge, van lees). Dit is die tipiese verhoudinge waarvan ek praat as jou lokale “naby-familie van families gelowiges”, waar julle mekaar dissipel en na mekaar omsien, 24/7. • Dan het ons ook almal ander behoeftes wat nie in hierdie klein groepie “familielede” bevredig kan word nie. Dit is daardie behoeftes om deel te wees van ʼn groot groep of byeenkoms van mense. Soos wanneer ons in ʼn groep van honderde, of selfs duisende mense, saam die Here kan aanbid en kan loof en prys. Of wanneer ons die dinamiek beleef van wanneer ons toegespreek word deur ʼn goeie, passievolle spreker. (Die van julle wat al by die Mighty Men-byeenkomste was, weet presies waarvan ek hier praat!) En natuurlik die dinamiek om saam met duisende ander ʼn groot sportbyeenkoms by te woon. Hier gaan dit oor daardie saam-wees en saam ʼn pad stap soos wat in ʼn dissipelskap-groep gebeur, of wat daar in ʼn familie van families plaasvind, waar mense mekaar werklik ken en 24/7 daar vir mekaar wil wees en mekaar baie prakties liefhet. As jy nie met my saamstem dat dit in hierdie verse hieroor gaan nie, kyk net weer na die vorige verse en hoor hoe daar gepraat word van: “Laat ons (ja, ons, moet dus mekaar aanmoedig om…) stewig vashou aan die belydenis van die hoop”; “Laat ons noukeurig op mekaar let om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade...”; “En laat ons ons saam-kom nie agterweë laat nie...” Dit gaan hier oor daardie saam-wees, saam-lewe, saam-kom en saam-eet, van so om en by 12 mense plus. Waar almal mekaar ken en waar daar geleentheid is vir hierdie hegte, persoonlike liefdesverhoudinge om te ontstaan. As ons dus ekklesia, Bybelse Nuwe Testamentiese ekklesia, wil ervaar en beleef, dan gaan dit hieroor. Dan gaan dit oor wat in hierdie groepe “familie van families” gebeur en wat ons hier leer. Dit gaan oor die praktiese leer-om-mekaar-onvoorwaardelik lief te kry en lief te hê. As jy nog nie mooi weet wat hierdie soort liefkry en liefhê beteken nie, gaan lees maar net weer ʼn keer dit wat ek met jou gedeel het in die vorige gedeeltes oor die sogenaamde “mekaar tekse”. |
Moenie die saam-kom van gelowiges agterweë laat nie
Nuusbrief
Hits: 1357