In die Ekklesia het God altyd die laaste woord

 

In die ekklesia kan mense ʼn eie opinie hê, maar uiteindelik is net wat God sê belangrik en het Hy altyd die laaste woord.

As gelowige volgelinge van Jesus en as familie van die Koning luister ons graag en geduldig na mekaar en na mekaar se opinies, maar die feit dat God se Woord en wat Sy wil is ononderhandelbaar is, maak dat dit altyd ons finale toets en die laaste woord daaroor is.

Almal van ons se verhouding met God en met mekaar is hierdie mengsel van geloof en vasklou aan die Woord. Tog is daar ook altyd emosie en ʼn klomp jarelange, intieme geestelike ervarings ook hierby betrokke.

Uiteindelik, soos ons daar in Jesus se lewe in die tuin van Getsemane sien gebeur het, daardie aand van Sy gevangeneming, is die ware toets vir die diepte van ons verhouding en ons liefde, die vraag of ons bereid is om te buig en gehoorsaam te wees aan God se wil.

Is ek bereid om te buig voor die Koning?

Is ek bereid om te sê: Maar nie my wil nie, maar U wil!

Waar die Koninkryk van God gekom het en waar Jesus die Koning en Here is, geld net die wil en wens van die Koning.

Hier gaan dit nie meer oor “ons regte” nie.

Natuurlik het ons as mense regte, maar waar die Koninkryk van God heers, daar kan ons die Koning vertrou om vir ons en ons “regte” te sorg.

Terwyl ons nou oor “regte” praat, kom ons kry net eers weer ons koppe en harte hieroor reg.

Maar voordat ons begin gesels oor ons “regte” as mens, kom ons gesels net weer kortliks oor wat ons bedoel met “koninkryk van God”.

Dit gaan hier oor God, die Koning van konings, wat in Sy groot genade en liefde in Christus Jesus alles, alles, alles, doen wat nodig is om gewone mense Sy kinders in elke sin van die woord te maak. Deur die werking van Sy Gees, gebeur iets bonatuurliks in elke mens wat Jesus Christus as Verlosser en Koning in geloof aanvaar en kies om Hom lewenslank in gehoorsaamheid te volg.

Die Bybel beskryf hierdie bonatuurlike gebeure as “bekering”; ʼn 180 grade omdraai; letterlik ʼn weer-gebore-word; ʼn lewendig word van jou gees; en as ʼn lewenslange veranderingproses van jou “mind”, wat “heiligmaking” genoem word.

So word gewone mense, kinders van die lewende God en Koning. Hulle word dus “koningskinders” met al die regte en alles wat nodig is om te kan regeer saam met die Koning, Jesus Christus, in hierdie Koninkryk wat ook nou hier op die aarde aan die deurbreek is.

Hoor hoe sê God deur Sy Gees dit in Sy Woord.

Rom. 8:32

“Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?”

Rom. 8:13-17

As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ʼn einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.

Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.

Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: "Abba!" Dit beteken Vader.

Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.

En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.”

Ef. 2:4-10

“Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief.

Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!

Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ʼn plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ʼn gawe van God.

Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.

Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Het jy dit raak gelees? Ek en jy, as kinders van God, sit as’t ware reeds “in die hemel”, saam met Christus Jesus as die Koning, en ons regeer, ja, REGEER”, nou al reeds saam met Hom.

Wat vir my, in gewone Afrikaans, beteken dat God ons wil gebruik as Sy tuinslange en Sy hande en voete, en as Sy ambassadeurs en bedienaars, van alles wat nodig het om hier op hierdie stukkende, sterwende aarde iets te laat gebeur om in elke sin van die woord, werklik hemel, en iets van die hemel se realiteit, te laat deurbreek.

Daarom glo ek, gaan God ons gebruik presies soos wat Jesaja 61 dit beskryf het.

Ek glo ons gaan oral gemeenskappe, besighede, fabrieke, plase, boerdery-gemeenskappe, skole, hospitale, versorgings- en restourasie klinieke oprig waar en waardeur God die hemel en sy lewensgewende kultuur kan bedien.