Met Jesus se koms het die Koninkryk hier op aarde gekom

 

Ons is besig om met mekaar te gesels oor hoe dit prakties hier tussen ons op aarde lyk of moet lyk wanneer iets van die Koninkryk van die hemel hier op aarde begin deurbreek.

Heel aan die einde van Sy drie-jaar bediening op aarde, net voor Sy kruisiging, sterwe en opstanding, kry ons twee merkwaardige vertellinge oor Jesus se lering oor daardie gebeure aan die einde, net voor en tydens die wederkoms.

Ons kry die vertellinge in Matteus 24 en 25.

Kom ek probeer ʼn bietjie om op ʼn ander manier veral die laaste gedeelte van hoofstuk 25, se inhoud te beskryf.

Hier gee Jesus as die nuwe Koning van planeet aarde, as’t ware vir die mensdom insae in wat die vrae gaan wees in die laaste Eksamenvraestel wat God as die Finale Regter en Eksaminator op ons tafel gaan neersit om te bepaal wie deel is van die “skape”, wat die hemele gaan beërwe, en wie hel toe gestuur gaan word as deel van die ”bokke”.

Net voor hierdie deel van Sy boodskap, profeteer Hy dan die volgende in Mat. 24:12-14:

“Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde by baie verkoel.

Maar wie tot die einde volhard, sal gered word.

En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.”

Het jy gehoor wat sê die Koning? Die Evangelie van die Koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis daaroor kan hoor! Eers dan sal die einde kom.

Met ander woorde, die een ding wat gaan bepaal wanneer die finale einde en wederkoms van Christus gaan gebeur, gaan juis dit wees: Wanneer al die nasies die kans gehad het om oral rondom hulle bewyse en getuienis te hoor en te sien van die goeie nuus dat die Koninkryk van die hemel hier tussen ons deurgebreek het!

My vraag is net: Aan watter bewyse en goeie nuus-stories kan jy dink wat jy kan gebruik om teenoor die ongelowige wêreld te getuig dat daar sedert Jesus se koms iets van die Koninkryk van die hemel hier op aarde begin deurbreek het?

Ek hoop hierdie laaste twee paragrawe het jou ʼn bietjie laat dink, want ek het dit aspris vir die rede so probeer formuleer dat hierdie waarheid ook vir jou, soos vir my die afgelope tyd, ʼn bietjie sal skud.

Kom ek wees ʼn slag eerlik hieroor.

Ek word by die dag meer en meer gefrustreerd en geskok oor hoe maklik ons as Bybel-gelowige mense oor die koms van die Koninkryk van die hemel hier op aarde kan praat asof dit hierdie fantasie-verhaal is, wat eers eendag, na die wederkoms van Christus Jesus, hierdie tussen ons ʼn werklikheid gaan begin word.

Terwyl dit vir my meer en meer duidelik word dat dit nie vir Jesus self hier gegaan het oor goeie nuus wat eers na Sy wederkoms gaan waar word nie.

Hoe meer ek die Bybel en veral die Nuwe Testament lees en sien wat Jesus hier op aarde kom sê en doen het, besef ek dat ons hantering van die hele boodskap oor die koms van die Koninkryk eintlik hiervan ʼn bespotting maak.

Dit is asof ons dit nie werklik ernstig opneem nie!

Daarom maak dit natuurlik ook geen indruk op die ongelowige wêreld daar buite nie, want hulle kan nêrens enige bewyse of voorbeelde sien van die verskil wat hierdie “goeie nuus oor die koms van die Koninkryk” hier op aarde maak nie.

Die ding wat my aan die hart gegryp het, was om te ontdek dat God as die Finale Regter en Eksaminator, elkeen van ons in die finale eksamen aan die volgende gaan toets, volgens Mat. 25:32-37:

“Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei soos ʼn wagter die skape van die bokke skei.

Die skape sal Hy regs en die bokke links van Hom laat staan.

Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ʼn vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.’

Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons…”

Om die Koninkryk van God en Sy wil te soek (volgens Mat. 6:33), is om jou lewe daaraan te wy om ʼn verskil te maak. Met ander woorde, om nood te bedien sal so ʼn deel wees van jou daaglikse asemhaling en lewe as kind van die Koning wees dat jy nie eers altyd bewus daarvan gaan wees nie!

Volgende keer begin gesels ons ʼn bietjie hieroor: oor hoe lyk dit dan waar ons hierdie nood prakties begin bedien.