Word 'n deur of ʼn sluis wat God kan gebruik om hemel te laat gebeur in mense se lewens en in situasies

 

Gen. 28:10-13,16-17,19

“Jakob is van Berseba af weg na Haran toe.

Teen sononder het hy by ʼn plek gekom waar hy kon oornag. Hy het daar ʼn klip vir ʼn kopkussing gebruik en gaan lê en slaap.

Hy het gedroom: ʼn leer staan op die aarde en die punt van die leer raak aan die hemel, en engele van God klim op en af met die leer.

Toe kom staan die Here by Jakob en sê: "Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee.

... Jakob het wakker geskrik en gesê: "Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie."

Jakob het bang geword en gesê: "Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel."

Hy het die plek Bet-El genoem. Die stad was voorheen bekend as Lus.”

Soms beleef ons soos Jakob: God is hier en ek het dit nie geweet nie of ek was te blind om dit raak te sien! Veral daar in ons besig-wees op die markplein, maar natuurlik ook elders in ons eie lewe en in ander se lewens.

Rom. 12:2

Dit is juis om hierdie rede wat die Here ons deur Sy Gees uitnooi in die woorde van Rom. 12:2: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Deel van hierdie verandering is dan ook om te bid: Here, maak my oë oop hiervoor in my eie lewe, in ander se lewens, in situasies! Sodat ek U engele kan sien beweeg en werk, soos wat Heb. 1:14 vir ons leer!

As ʼn mens weer na die lewe en bediening van Jesus hier op aarde kyk, is dit immers presies wat Hy hier kom doen het. Kom ek haal vir jou ʼn paar gedeeltes hieroor aan daar uit die Evangelie van Johannes.

Joh. 1:1-4

“In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.

Hy was reeds in die begin by God.

Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ʼn enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.

In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.”

Joh. 1:14

“Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.”

Joh. 1:49-51

“Toe roep Natanael uit: "Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!"

Daarop sê Jesus vir hom: "Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge as dit sien."

Verder sê Jesus vir hom: "Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op-en afklim na die Seun van die mens toe."

Sien jy, Jesus was letterlik hierdie deur of sluis wat die Vader kon ooptrek sodat die heerlike realiteite van die hemel, hier tussen ons op aarde begin gebeur!

Nou ja, net so wil die Vader ons ook gebruik. Dit is waarom Jesus die volgende gesê het:

Joh. 14:16,17

“Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ʼn ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”

1 Kor. 3:16

“Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie?”

Ek en jy, ons besighede, waar ons is, moet die adres word waar mense hulle kan vasloop teen ons God en Sy genade. Daar moet hulle iets beleef van hemel wat hier op aarde deurbreek!

Ef. 2:19-22

“Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God.

Julle is ʼn gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ʼn gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is.

In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ʼn heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as ʼn geestelike huis waarin God woon.”

1 Pet. 2:4-5

Dan sê God se Gees: “Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is.

Laat julle as lewende stene opbou tot ʼn geestelike huis, om ʼn heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.”

Kom ons bid saam: Dankie, Here, vir U Gees wat in ons lywe woon om ons U adres, die hemel se adres en die deur na hemelse realiteite toe, te maak!