Wanneer die Koninkryk die markplek instap, moet daar ruimte gemaak word vir die bonatuurlike

 

Om Sy volgelinge se koppe reg te kry sodat hulle weet wat gaan “uit die hemel stroom” wanneer hulle die sluise moet ooptrek sodat iets van die hemel se realiteite hier rondom hulle – ook in die markplein – kan instroom hier op aarde, sê Jesus die volgende vir hulle:

Joh. 14:12-14

“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.

Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.

As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”

Mat.10:1

“Jesus het sy twaalf dissipels nader geroep en hulle mag gegee om onrein geeste uit te dryf en om elke soort siekte en kwaal gesond te maak.”

Mat.10:7,8

“Gaan verkondig: Die koninkryk van die hemel het naby gekom.

Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf bose geeste uit. Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet.”

Hand. 1:8

“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

In gedeeltes soos Rom. 12 en1 Kor. 12, kom God se Gees en leer ons dat ons as ambassadeurs van die Koninkryk, daarom, toegerus moet word met “bonatuurlike gawes”, vanuit die hemel. Soos die gawe van bonatuurlike wysheid en bonatuurlike kennis; ja, selfs bonatuurlike geloof om God in situasies te vertrou vir bonatuurlike wonderwerke om plaas te vind en vir bonatuurlike genesing om plaas te vind; die gawe van profesie, sodat God bonatuurlik aan die woord kan kom en met iemand kan praat of in die situasie kan inspreek, ens.

Verstaan jy wat dit prakties vir die markplek beteken as ons daar instap en begin optree as ambassadeurs van die Koninkryk van die hemel?

Dit sal beteken dat ons altyd in al ons besigheidstransaksies, beplanning- en begrotingsessies, of watter dienste ons ook al lewer, moet rekening hou, beplan of ten minste ruimte moet maak vir God en Sy Gees om bonatuurlike, wonderlike, onbeplande dinge te laat gebeur daar op die markplein.

Dit maak dat ʼn klompie broodjies en ʼn paar vissies, in die Naam van die Koning, en in die hande van Sy volgelinge, bonatuurlik kan vermeerder om vir 10 000 en 15 000 honger mense genoeg kos te gee, sodat daar 7 mandjies by een geleentheid en 12 mandjies vol brokstukke kan oorbly agterna.

Kan ek jou as sakeman of sakevrou daarom vra: Maak jy elke dag ruimte vir hierdie bonatuurlike element daar waar jy op die markplek besig is as ambassadeur van die Koning?