Nog inkomste-strome na die tempel toe, word toegestop

Ons is besig om ons te sit en verwonder aan die doelbewuste strategie waarmee Jesus in daardie drie jaar van Sy openbare bediening, oral duidelike bewyse gelewer het dat hier Iemand nuut aan bewind was hier op aarde.

Mense kon dit duidelik sien en hoor oral waar Hy was en oral waar Hy beweeg en bedien het.

Verlede keer het ons mekaar begin vertel hoe Hy doelbewus die een inkomste-stroom na die ander na die tempel en die korrupte godsdienstige leiers daar begin toestop het!

Ek wil jou ʼn bietjie meer van hierdie doelbewuste strategie van Jesus wys.
Een van die belangrikste dinge wat Jesus begin doen het, was om mense se sondes te vergewe!

Onthou jy, daardie verlamde man wat deur sy vriende deur die dak voor Jesus neergelaat is toe daar net te veel mense rondom Hom was om hulle vriend by die deur in te kry?

Onthou jy wat Jesus vir hom gesê het net voordat Hy hom genees en laat opstaan het? Ja, Jesus het vir hom gesê: Jou sondes is vergewe!

En dit sonder dat die man eers vir Jesus daarvoor betaal het!

Ja, want dit is wat die mense moes doen as hulle na die godsdienstige leiers by die tempel toe gegaan het met die versoek om tog God te bid en te vra dat Hy tog hulle sondes moet vergewe! Daarvoor moes die reeds-verarmde Joodse gemeenskap sakke vol geld betaal het!

Jesus het ook baie verder gegaan as net dit! Hy het duisende en duisende mense verniet kos gegee en gevoed!

So, baie doelbewus en strategies, het Jesus die een na die ander van die inkomste-strome na die tempel en sy korrupte leiers toe afgesny en toegestop!

Kom ons dink net ʼn bietjie verder hieroor. Dink ook oor die manier hoe Jesus hierdie derduisende mense kos gegee het! Hoe Hy vir hulle, in die proses, gewys het dat as jy bereid was om jou klein porsie (soos jou padkos van ʼn paar broodjies of ʼn vissie of twee) vir die Koning van die nuwe Koninkryk te gee wanneer Hy dit vra, Hy dit bonatuurlik kan vermeerder en jou, saam met derduisende ander, kan voed. Maar op so ʼn merkwaardige wyse dat daar, selfs agterna, bonatuurlik, baie meer gaan oorbly as wat jy in die begin gegee het!

Kom stap saam met my verder, hierdie keer na die tempel toe, om te kom kyk hoe Jesus daar op die tempelterrein die hoof-inkomstestroom van die tempel, toemaak.

Dit is wat Hy in daardie laaste week voor Sy kruisiging gedoen het toe Hy die geldtafels omgegooi het. Hy het letterlik hulle tempel-bank laat bankkrot speel daardie dag!

Die godsdienstige leiers was immers besig was om naïewe tempelgangers te beroof van hulle geld deur die tempel-banksisteem wat hulle in plek gesit het.
In hulle naïwiteit het gewone mense geglo wat die leiers vir hulle gesê het, naamlik dat hulle gewone geld nie goed genoeg vir God was nie, en dat die diere en offers wat hulle saamgebring het van hulle plase af, ook nie goed genoeg was nie. Nee, dit moes alles geruil word vir dit wat beter is, naamlik dit wat hier by die tempel aan hulle in ruil daarvoor verkoop is.

Soos Lukas ons in sy vertelling van die gebeure vertel, het Jesus letterlik die tempel-“bank” daar toegemaak en bankrot gemaak toe Hy almal daar uit die tempelterrein uitgejaag het met ʼn sweep!

Dan, wat die finale spyker in die tempel se doodskis sou wees, drie-uur daardie Woensdagmiddag, 9 April 32 n.C., toe Jesus Sy laaste asem uitblaas en so Sy lewe as die finale offer vir sonde gegee het, is die dik gordyn wat tussen die Heilige en Heiligste in die tempel was van bo na onder stukkend geskeur deur God self.

Daardie Heilige skeiding waardeur die Hoëpriester net eenkeer ʼn jaar gewaag het om in te gaan na die Aller-heiligste toe, is letterlik uit die hemel uit, stukkend geskeur.

Nou was daar geen rede meer waar janalleman ooit weer in die toekoms na ʼn gewone tempelgebou toe met sy godsdienstige leiers toe hoef te kom, om so toegang te hê tot die enigste ware en lewende God nie! Elke mens kon nou self na hierdie God toe kom en self in Sy teenwoordigheid verskyn, sonder om in hierdie proses te sterf. Want Jesus het die weg hiervoor voorberei as ons elkeen se Finale Versoeningsoffer en Middelaar!

So is die heel laaste stukkie en laaste inkomste-stroom na die tempel en godsdienstige leiers toe finaal afgesny.

So is ʼn Nuwe Weg na die Vader voorberei en geskep, wat die hele bloedoffer-sisteem systap en totaal irrelevant en onnodig gemaak het.

So word die totaal korrupte tempelstelsel en offerstelsel van die Judaïsme, uit die pad van gewone mense gevee deur die Lewende God self, want nou was daar ʼn ander manier, ʼn nuwe Deur, waardeur enigeen kon ingaan met vrymoedigheid na ʼn Hemelse Vader toe wat nie wil hê dat enigiemand verlore sal gaan nie.