Daar aan die voet van die kruis (deel 2)

 

Wil jy nie asseblief weer my artikel op die Net getiteld, gaan lees nie?

Hier is die skakel daarheen: My artikel op die Net oor die Kruisgebeure

Nou kan jy verder lees.

Ek wil jou weer herinner aan wat in Gal. 2:19,20 staan:

“… ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.”

Daar aan die voet van die kruis hoor ek hoe God self vir my sê dat in Sy oë is elkeen wat gekies het om in Jesus as Gekruisigde te glo, as’t ware saam met Christus gekruisig.

Ek weet nie of jy dit weet of besef nie, maar daar is net een rede waarom ʼn mens gekruisig word en dit is om jou dood te maak. Met ander woorde, as die Lewende God vir jou in Sy Woord sê dat jy saam met Christus gekruisig is, sê Hy vir jou dat jy na jou bekering dood is. Die ou jy, wat nog ʼn slaaf van sonde was en totaal onder die beheer van Satan was, is nou dood!

Hoor jy wat God sê? Terwille van wat God verder in jou lewe wil doen, en terwille van die heil en geluk van almal rondom jou, moet jy, die ou vlees-jy, as saam met Christus gekruisig, gereken word in geloof!

Jy moet as’t ware sien hoe Jesus daar aan die kruis hang en agteraan die kruis hang jy!

Jy hang net vir een rede daar: Om daar dood te gaan, want die ou jy moet doodgaan!

Dit is waarom, daardie dag toe jy tot bekering gekom het, volgens die Bybel, as deel van ʼn normale geestelike geboorte wat daardie dag gebeur het, ander gelowiges wat rondom jou gestaan het en gehoor het hoe jy met jou mond bely het dat jy glo dat Jesus ook vir jou gesterf het, jou daar gevat het en na water toe geneem het waar hulle jou in daardie water onderdompel en gedoop het!

Rom. 6 sê immers, dit is wat die doop in water simboliseer. Dit is waar die ou mens van elke nuwe bekeerling begrawe word! Want God sê: In Sy oë is elke persoon wat Jesus as Verlosser en Here aangeneem het in geloof, saam met Christus gekruisig en het hulle saam met Hom gesterf!

Daarom vertaal die MESSAGE-vertaling Ef. 4:22-24 so: “Since, then, we do not have the excuse of ignorance, everything—and I do mean everything—connected with that old way of life has to go. It’s rotten through and through. Get rid of it! And then take on an entirely new way of life—a God-fashioned life, a life renewed from the inside, and working itself into your conduct as God accurately reproduces his character in you.”

Lê daarom, daar aan die voet van die kruis, omdat jy hoor wat God oor jou as gelowige sê, al daardie ou stukke vlees en sondes en sondige optrede en woorde, voor God neer! Bely dit as sonde, waarvoor Jesus ook Sy lewe gegee het en vra God om jou te vergewe.

Daar aan die voet van die kruis, moet jy net weer sensitief wees vir die stem van die Heilige Gees in jou. Vra dat Hy jou bewus maak van enigiets wat jy nog nie bely het nie. En soos jy dan daarvan bewus word, doen daarmee wat die Here daar in 1 Joh. 1:9 sê:

“Maar as ons ons sondes bely-Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.”

Volgende keer gesels ek met jou verder hieroor.