Die Bybelse Ekklesia lyk anders as wat ons tans rondom ons sien

 

Ons het so gewoond geraak aan die prentjie van “die kerk” wat ons rondom ons sien dat ons die fout kan maak om te dink dit is hoe dit moet lyk.

As ons wil weet wat sê Koning Jesus hieroor, hoef ons maar net weer onbevange te gaan luister na wat Hy hieroor in Sy Woord deur die werking van die Gees geopenbaar het.

Ek het bykans 3 jaar lank hieroor in vorige nuusbriefies jare gelede geskryf wat uiteindelik gepubliseer is in my kommentaar oor die hele Nuwe Testament met die titel, DIE STORIE AGTER DIE STORIE. (Jy kan die boek by my of op my webblad bestel.) Hier is die skakel daarheen:

https://nuwewyn.co.za/index.php/component/j2store/products/storie-agter-die-storie

Kom ek wys jou sommer net een of twee belangrike dinge hieroor in die Woord.

Blaai saam met my na die boek, Handelinge, waar ons binne die eerste paar hoofstukke lees oor hoe God die Heilige Gees die jong Ekklesia vinnig ʼn paar dinge geleer het oor wat die hart en wil van Koning Jesus, die Hoof van die Ekklesia, hieroor is.

Kom ons begin by wat ʼn mens seker die geboortedag van die Nuwe Testamentiese Ekklesia kan noem. Handelinge 2 vertel vir ons van daardie Pinksterfees-gebeure daar in Jerusalem, toe dit wat Jesus belowe het, gebeur het.

God, die Heilige Gees, is vir die eerste keer, soos Ou Testamentiese profete reeds oor geprofeteer het, op gelowiges uitgestort. Vir die eerste keer het die Heilige Gees in God se mense kom woon, en het Hy hulle elkeen bonatuurlik toegerus met gawes van die Gees sodat God hulle bonatuurlik kon gebruik om ander te bedien deur hierdie gawes. Die Bybel noem dit “die Heilige Gees het hulle gesalf” of “op hulle” gekom.

Die gevolg hiervan was dat meer as 3000 mense tot bekering gekom het, gedoop is in water en gedoop is met die Gees, alles op daardie eerste dag.
Met ander woorde, sommer van die eerste dag af was die Ekklesia daar in Jerusalem baie meer as 3000 gelowiges wat van daardie dag af bymekaar gekom het, mekaar bedien en versorg het, en teenoor die ongelowige gemeenskap rondom hulle getuig het oor wat Jesus in hulle lewens gedoen het.

Kom ek haal vir jou Hand. 2:45 tot 47 hieroor aan:

“Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel.

Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte.

Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.”

Die Ekklesia daar in Jerusalem het binne die volgende vier jaar reeds na meer as 10 000 gelowiges daar in Jerusalem gegroei, sonder enige formele “kerkgeboue” en sonder enige formele eredienste soos ons dit vandag ken.
Wat vir ons verder van belang is, is dat daar geen “nuwe kerkgroepe of kerkverbande”, met ander name, met ʼn eie leer of belydenis, eie geboue, ens., ontstaan het nie!

Ja, selfs toe die grootste deel van die Ekklesia so 5 jaar na daardie eerste Pinksterdag, uit Jerusalem moes wegvlug (lees daaroor in Handelinge 8) na Judea, Galilea en Samaria, en ander streke en lande selfs, was die Kerk van Jesus so bewus daarvan dat die Koning gesê het hulle is EEN!

Enige poging of groep wat anders wou neig, is onmiddellik vermaan en berispe. Ja, selfs nie eers ernstige dwalinge, soos toe ʼn groep gelowiges weer wou begin om al die Joodse feeste te vier en selfs weer nuwe gelowiges wou besny, het God die Gees Paulus gebruik om in die eerste briewe van die Nuwe Testament, wat ons vandag ken as Galasiërs, vir hulle te bedien met wat Koning Jesus hieroor sê.

Het jy geweet dat ons tot en met ongeveer in die begin van die vierde een, glad nie enige ander groep, wat ons vandag as ʼn nuwe “kerk” sou kon beskryf, geken het nie?

Ek dink dit is nodig dat jy weer jou gaan vergewis oor hierdie storie agter die “Storie” wat vir ons in die Nuwe Testament vasgepen is!

Om te weet wat is waarheid en wat is leuen hieroor, en om werklik weer jou prentjie oor hoe lyk die Bybelse Ekklesia te gaan toets, vat weer ʼn slag die Bybel en begin lees weer die Nuwe Testament, en veral al die Nuwe Testamentiese boeke van Handelinge af.

En asseblief, waar nodig, bekeer jou, want die Koninkryk van die hemel moet hier op aarde, ook daar rondom jou kom!