Wat glo jy is moontlik in jou lewe en rondom jou?

 

Dit wat ons glo moontlik is om gedurende ons lewe te gebeur, het ’n enorme effek op hoe ons oor die lewe in die algemeen dink.

Glo jy as ’n gelowige volgeling van Jesus werklik dat jy tot alles in staat is deur Christus wat jou die krag gee? Verwag jy werklik dat wat ook al in jou lewe gebeur, uiteindelik werklik tot jou beswil en goed sal wees? Het jy werklik daardie verwagting en hoop deurentyd dat dit wat God belowe het in Sy Woord aan jou, sal gebeur?

Luister net wat sê ’n sakeman nou die dag vir my terwyl ek met hom gesels oor wat werklik soms gebeur in my lewe en hoe ek soms wonder oor wat ek moet doen wanneer daar werklik te min geld is vir wat moet gebeur.

Hy herinner my toe aan iets wat die Here juis daardie oggend vir my in my stiltyd voor Hom gesê het, naamlik dat ek “man van God” is en wat Hy al vir 30 jaar (van 1993 af) vir my en my gesin, dag na dag, oor en oor, gewys en bewys het, naamlik dat Hy daar is en dat Hy in die detail van my lewe betrokke en besig is.

En ja, dat ek steeds kan bly vashou aan Sy beloftes aan my.

Daarom kan ek, soos wat Sy dissipels en Sy mense keer op keer beleef het, verwag dat juis op daardie dae wat dit lyk asof niks kan verander of gebeur nie, my God en Vader skielik en onverwags, in sekondes of minute alles kan verander, of kan Hy meer as wat ek nodig het, gee!

Terwyl hy dit vir my gesê het, het ek net beleef hoe hierdie vlam van hoop sommer net in my opvlam en het ek vir myself gesê: Ja, dit is wat dit beteken om God se kind te wees en om in ’n God te glo vir wie niks onmoontlik is nie!
Dan behoort jy mos elke dag die onmoontlike te verwag om te gebeur!

’n Mens besef egter nie altyd hoe dit wat jy hier diep binne om die een of ander rede begin glo het, werklik ‘n bril word waarmee jy na alles kyk en selfs hoe jy daaroor dink.

In die rekenaarwêreld word hiervan gepraat as daardie “default programme” of verstek-verstellings op jou rekenaar, waarheen hy altyd terugkeer.

Op my Apple Imac-rekenaar, het my WORD-program waarin ek woordprosessering doen en byvoorbeeld hierdie artikels skryf, reeds vooraf ’n lettertipe gekies, die grootte van die letter gekies, asook hoe die betrokke bladsy se uitleg moet lyk, ens.

In elkeen van ons se lewe het elkeen van ons ook so ’n stel voorafbepaalde waardes en dinge wat ons begin glo het om die een of ander rede en wat ’n enorme invloed het op ons onmiddellike reaksie op probleme of uitdagings.

So is daar onder ons diegene wat werklik glo en verwag dat dinge hier op aarde net nog donkerder en donkerder, en nog slegter en sondiger sal gaan, sonder dat hulle werklik ’n verwagting het dat God kan ingryp en dinge dramaties kan verander of oplossings onverwags op die tafel kan sit.

Dit veroorsaak natuurlik dat hierdie groep mense onder ons werklik nie hoop het dat enigiets dramaties rondom ons kan verander nie.

Besef jy dat ons in hierdie “Nog ’n Slukkie Nuwe wyn”-briefies van my aan jou, reeds drie jaar, week na week, gesels oor die boodskap van Jesus en van die Nuwe Testament, dat die Koninkryk van die hemel met die koms, lewe, dood en opstanding van Jesus, en met die koms en inwoning van God die Heilige Gees in God se mense, hier tussen ons op aarde begin deurbreek het?

Maar hierdie groep onder ons, lees dit alles, en sê selfs nou en dan amen daarop, maar hier diep binne sukkel hulle om dit werklik te glo. Want as hulle rondom hulle realisties rondkyk (want dit is wat hulle hulself noem: realiste!), dan sien hulle eerder hoe die kwaad en die sleg net meer en meer word, en dan word hulle selfs opgewonde daaroor, want dan weet en glo hulle: Die einde is naby! Die koms van Jesus is naby, soos die Woord sê!

Maar hulle besef nie dat juis hierdie manier om na die wêreld rondom hulle te kyk en hierdie bril wat hulle op het, maak dat hulle net raaksien wat hulle wil raaksien en glo wat hulle wil glo nie!

Vir hulle wil ek sê: Maar wat daarvan dat ons eerder op grond van wat in die Bybel en Nuwe Testament staan oor “Soek My Koninkryk en My wil!”, ons juis moet kies om te glo en te verwag dat die koms van die Koninkryk van die Hemel hier op aarde, ’n impak en ’n blywende verskil gaan maak in al die realiteite wat ons tans rondom ons sien!

Hoeveel mense hoop en verwag eerder ’n wegraping van God se mense uit al hierdie stukkendheid uit, eerder as om te glo in die krag van die Evangelie om in die hier en nou werklik ’n verskil te maak!

My vraag aan diegene is dan: Verstaan ons werklik die Goeie Nuus wat Jesus aangekondig het, en wat die dissipels oor en oor aan mense rondom hulle verkondig het, en wat God self deur wonders en tekens bevestig het?

Ek is van oortuiging dat ons geloof ’n effek moet hê op al die dood, verlies en vernietiging wat ons daagliks rondom ons sien en beleef!

Ja, hierdie tragiese, verskriklike realiteite van sonde en die dood, is die vyand uit die hel se handewerk en se vingerafdrukke!

Maar ons geloof as volgelinge van Jesus moet nou, midde hierdie realiteite en hierdie verskriklik tragiese vingerafdrukke van die duisternis, begin om God se hande, voete en mond te word sodat mense prakties ’n liefdevolle Vader in die Hemel sien werk, wat Sy Seun gestuur het om mense te verlos van sonde, duisternis, siekte en selfs die dood, en wat herstel, verlossing, heling, restourasie en vernuwing gebring het wat hier rondom ons moet deurbreek!

Hebreërs sê dat ons God soek en beantwoord hierdie soort geloof in mense se lewens! Dit is hierdie soort geloof wat dinge laat gebeur wat vir ander onmoontlik gelyk het!