Maak die mense My dissipels (Deel 4)

 

Vriende, God praat op baie maniere met ons.

Natuurlik praat Hy deur mense met ons, en veral deur ander gelowige volgelinge van Jesus. Dit is hier waar die gawes van die Gees inpas (waarvan ons lees in Rom. 12:6-8 en 1 Kor.12:7-10) en ook die vyfvoudige bedieninge, soos dié van die apostel, profeet, leraar, pastor en evangelis (Ef. 4:11-16). Dit is dan ook hier waar hierdie briefie van my aan jou inpas.

Natuurlik praat Hy ook deur die natuur, die skepping en dinge wat met ons gebeur. Af en toe praat Hy selfs deur ʼn donkie met jou, soos met Bileam die profeet gebeur het! Dit is ook dié dat ek vir my vrou sê: Jy moet selfs af en toe na my, as die donkie in jou lewe, luister! (Grappie!)

Die belangrikste en mees algemene manier hoe God met mense praat, is deur Sy Woord, die Bybel!

Daarom bly die Bybel en dit wat daarin staan – noukeurig en so letterlik as moontlik vertaal, binne die konteks van tyd en verband waarin dit staan en afspeel – ons uiteindelike en finale toets vir wat waarheid is en vir wat werklik van God af is.

Daarom is die hart van die baie suksesvolle Discovery Bybelstudie-metode, wat ook in hierdie Toepassing, JOURNEY OF DISCOVERY, gebruik word, om mense geleentheid te gee om na God se stem uit die Woord te gaan luister en so by Hom self te hoor wat Hy te sê het.

Al die vrae wat gebruik word in hierdie metode, is daarop gemik om God self aan die woord te stel en om presies te hoor wat Hy in ʼn betrokke gedeelte vir ons elkeen wil sê.

As elkeen so geleentheid gegee is om mooi te lees en mooi te hoor presies wat in ʼn betrokke gedeelte staan, word die lesers dan uitgedaag om daardie woord toe te pas en te verstaan in die lig van wat in hulle eie lewe aan die gang is.

God en dit wat Hy self in Sy Woord, die Bybel, aan ons sê en openbaar, het dus ook so die laaste en finale woord in elke leser se lewe!

Hoeveel keer sê die Here nie self dit vir ons in Sy Woord nie! Dink maar aan wat Hy self in die volgende Skrifgedeeltes vir ons hieroor sê:

2 Tim. 3:14 tot 16

“Maar jy, bly by dit wat jy geleer het en waarvan jy vas oortuig is, omdat jy weet by wie jy dit geleer het en omdat jy van kleins af die Heilige Skrifte ken wat jou die wysheid kan gee tot verlossing deur die geloof in Christus Jesus. Elke Skrifdeel is deur God geïnspireer en is nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam sodat die mens wat aan God behoort bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak.”

Heb. 4:12

“Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur selfs tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes.”