Deel 2 – God is besig om Sy Koninkryk hier op aarde te laat kom

 

God wil jou ook in 2024 en volgende jare daaraan herinner dat Jesus die Koning van alle konings hier op Aarde is!

Sy Woord is hier wet.

Sy Woord trek hier die strepe wat saak maak.

Hy maak sekere deure oop en sekere deure bot toe.

Hy sê: Dit is reg en dit is verkeerd. Dit is aanvaarbaar. Dit is onaanvaarbaar.

Ja, natuurlik is en bly Sy karakter suiwer Liefde. Maar Hy is ook ’n heilige God.

Natuurlik is daar by Hom oorvloedige genade. Maar Hy is ook die Enigste Weg, die Enigste en Volledige Waarheid.

Elkeen wat Hom sou aanvaar as Verlosser, gaan ook ontdek dat Hy die Here en Koning is.

En alleenlik hy of sy wat dit glo en aanvaar, ontdek dat daar in hierdie Jesus en in ’n verhouding met Hom Lewe en dit in oorvloed is!

Waar Hy Koning is, is Sy Woord die Aller- en Volle waarheid. Hy het dus altyd die laaste woord!

Daarom was Jesus se boodskap hieroor van die begin af (kyk maar in Mat. 3:14): Bekeer julle. Die Koninkryk van die Hemel is nou ook hier op aarde.

Daarom leer Hy Sy volgelinge om elke dag die volgende te bid:

Ons Vader wat in die Hemel is.
Laat hier op aarde waar word wat reeds in die hemel waar is, soos...
Laat U Naam ook hier geheilig word!
Laat U koninkryk ook hier kom!
Laat U wil ook hier geskied!

Jesus onderhandel nooit met ons hieroor nie!

Daarom het Jesus tydens Sy lewe hier op aarde, nooit mense hiervan probeer oortuig dat Hy die nuwe Koning was nie.

Daarom kan die ware Kerk van Jesus nooit 'n plek wees waar almal welkom is soos wat hulle is nie.

Daarom kan die ware Kerk nooit 'n “ruim huis” wees waar daar ruimte vir almal se menings is nie.

Nee, hier word jy selfs dood uitgedra as die Koning midde ’n herlewing die erns van sonde en die gevolge van sonde wil beklemtoon in die midde van die ware Bybelse Ekklesia. (Hand. 5)

Sien, Jesus se koms as die Nuwe Koning, het alles hier kom verander op aarde!

Ja, selfs die ou verbond en ou testament, moes verander en plek maak vir 'n Nuwe Verbond en 'n Nuwe Testament met nuwe bepalings wat nou geldig is, want die Koning het so gesê.

Daarom het die Wet en Tien gebooie, ja, die hele Tora, nou slegs ‘n Tugmeester na Christus, die nuwe Koning, toe geword!

Nou was die Wet en die Tien gebooie daar om ons te oortuig van sonde en hoe vasgevang ons elkeen in sonde is, sodat ons kan verstaan en kan insien hoe nodig ons juis Jesus as Verlosser, maar ook as Koning in ons eie lewe het!

Jesus Christus is die nuwe Koning, wat nou aan die regterhand van die Vader sit en regeer.

Hy is ook die Salwer met die Gees, wat die Gees van die Vader en die Seun gestuur het om nou in elkeen van Sy mense te kom woon om hulle te lei en te leer. Maar ook om hulle bonatuurlik te salf en toe te rus met die gawes van die Gees wat hulle in staat stel om te doen wat Jesus gedoen het, in Sy Naam, as Sy getuies, as ambassadeurs van Sy koninkryk en koningskap.