Die genesende krag van Bybelse vergifnis (Deel 1)

 

Waar mense hulle vasloop teen ʼn Lewende Jesus, gebeur soveel wonderlike dinge!

In Joh. 3 beskryf Jesus dit as ʼn tweede geboorte wat in so ʼn mens se lewe gebeur. Die oomblik wat jy opkyk in geloof na die Een wat hang aan die kruis en Hom aanneem in geloof as jou Verlosser, word jy letterlik deur die werk van die Heilige Gees weer gebore! Die Here God kom woon in jou en maak jou gees lewend en nuut, en begin dan om jou van binne-af te verander.

Rom. 12:2 en 2 Kor. 10:3 tot 5 beskryf dit as dat God jou totale brein deeltjie vir deeltjie kom verander en kom genees. En as jy Hom toelaat, wil Hy jou leer om anders te dink en anders te voel oor dinge, sodat jy uiteindelik ander keuses kan maak en anders kan optree.

Die Bybel beskryf hierdie proses ook as genesing. Of as bevryding, want jy word letterlik bevry van leuens en paradigmas en instinktiewe reaksies wat tot nou toe jou lewe beheer en regeer het.

Deel van hierdie genesing in die lewe van ʼn mens van God gebeur wanneer ons die krag van ware Bybelse vergifnis ontdek. Daar waar ek en jy kies om elke mens vir elke wond of onreg wat hulle ons aangedoen het, te vergewe, gebeur die mees merkwaardige dinge in ons lewens.

Ek sien dit elke dag in my bediening gebeur wanneer God se mense kies om te doen wat Hy deur Sy Woord en Gees aan hulle hieroor openbaar.

Daarom wil ek jou uitdaag om erns te maak met hierdie Woord hieroor wat ek in die volgende weke aan jou gaan bedien.

Kom ek begin deur vir jou te sê wat Jesus, ons Koning en Here, hieroor sê.

In Mat. 6:9 tot 13 leer Hy ons as Sy volgelinge om te bid. So leer Hy ons om elke dag ook die volgende te bid:

“En vergeef ons ons sondes soos ons ook die vergewe wat teen ons sondig...”

As ek dit in my eie woorde moet oor vertaal: Vader, vergewe my my sondes soos wat ek ook dié vergewe wat my verwond of verontreg het.

Kom ons omkring die “soos” in hierdie gebed. Want dit help ons om die erns van wat ons hier bid werklik te verstaan! Ons bid dus elke dag in hierdie bede dat God ons sal vergewe soos en hoe ons gekies het om ander wat ons verwond of verontreg het, te vergewe!

Is daar iemand in jou lewe wat jou langs die pad verwond of verontreg het, wat jy nog nooit vergewe het nie?

Is daar iets wat iemand jou aangedoen het, wat jy gekies het om nooit te vergeet nie?

Besef jy dat van daardie dag af wat jy gekies het om daardie mens nie te vergewe nie, het hierdie hoop sondes tussen jou en God begin ophoop!

En jy weet wat die gevolg daarvan is!

Sondes tussen jou en God, maak deure vir die vyand en sy magte oop om in te kom en om totale chaos in jou lewe te kom veroorsaak!

En dit gaan so bly, al bid jy kliphard en tot jou blou in jou gesig is dat God jou moet vergewe!

Dit gaan eers begin verander wanneer jy kies en besluit om daardie persoon vir daardie wond of onreg te vergewe soos God vir ons aansê om dit te doen!

Ek weet nie van jou nie, maar hierdie besef het my geruk tot in my skoene!

En dit is nie eens die ergste wat gebeur as daar onvergifnis in ons hart is nie. Gaan lees maar self solank Mat. 18:21 tot 35, en fokus dan veral op dit wat Jesus, ons Koning, self vir jou sê daar in vers 34 en 35.

Volgende keer gesels ek hieroor met jou.