Laat Jesus as die Geneesheer, elke wond bedien! (Deel 4)

 

Waar ek en jy verwond word deur mense, of verontreg word, en nie dadelik dit hanteer soos God in Sy Woord ons leer nie, begin daardie wond sweer en word dit soos ʼn kanker wat al groter en erger word en net meer en meer ook die res van ons lewe, ja, elke deel van ons lewe, ontsteek en siek maak!

Daarom wil ek weer dat jy kyk na al daardie gesigte van die mense wat jou êrens langs die pad van jou lewe tot hier, gewond of verontreg het.

Wat gebeur hier binne-in jou as jy aan daardie mens dink?

Watter emosies kom daar by jou op? Waar voel jy dit selfs in en aan jou lyf? Hoe erg is dit?

Kom ons probeer om daardie emosie wat by jou opgekom het ʼn naam te gee.

Is daardie gevoel bloot ʼn gevoel of wete “ek gaan nooit hierdie persoon dit wat hulle aan my gedoen het, vergewe nie!”

Of is dit ʼn gevoel van woede?

Of het dit selfs al ʼn bitterheid teenoor daardie persoon geword?

Of het dit gegroei na waar ek vir mense kwaad begin vertel het wat daardie mens aan my gedoen het!

Of het dit al ʼn diepliggende gevoel geword van gegrief-wees of van “resentment”? Waar jy net nie meer enigiets goeds oor daardie mens kan sê nie.

Of is jy al daar waar deur net aan hulle te dink, iets hier binne in jou gebeur wat ʼn mens selfs ʼn gevoel van haat kan noem?

Of is jy daar waar jy hulle ten alle koste wil terugkry en wil wraak neem vir wat hulle aan jou gedoen het?

Ek hoop en vertrou dat jou antwoord op my vraag jou help om te sien hoe diep en erg ontsteek hierdie wond reeds in jou lewe geraak het.

Besef jy dat die rede waarom hierdie wond so erg ontsteek het, is omdat jy gekies het om nie hierdie persoon te vergewe soos God vir jou as Sy mens vra nie?

Ja, daarom het dit soos ʼn kanker hierbinne jou geword.

In werklikheid het dit soos gif in jou geword wat dag vir dag jou net verder en verder vergiftig!

Volgende keer gesels ons oor wat nog verder in jou lewe gebeur wanneer ons kies om nie mense te vergewe wat ons verontreg of verwond het nie.

(Hier is die skakel na 'n video op YOUTUBE waar ek in een sessie oor wat Bybelse vergifnis werklik behels, gesels het.

https://youtu.be/ITKgew8QYo4?si=0NTe8_YNiw3aY9v4 )