Hoe lyk vergifnis wat hou? (Vervolg) (Deel 7)

 

Die derde kenmerk of voorwaarde vir vergifnis wat hou, is die volgende:

Mat. 18:27 praat daaroor. Nadat stappe 1 en 2 in jou lewe gebeur het, kies jy doelbewus om hierdie persoon te laat gaan (te “release” in Engels).

Jy maak letterlik die tronkdeure van jou hart oop sodat daardie persoon kan uitstap. Want sien, tot nou toe was daardie persoon “toegesluit” in jou hart, en het jy as’t ware die sleutel diep gaan wegbêre.

Miskien het jy selfs gesê: Ek sal hierdie persoon nooit vergewe vir wat hulle aan my gedoen het nie.

Daarom is dit nodig om eers jou hart oop te maak en te verander teenoor daardie persoon. (= Om hulle jammer te kry en te kies om hulle genadig te wees.) Eers dan kan ek hulle vrylaat uit die tronksel in my hart waarin ek hulle gaan toesluit het. (Eers dan kan ek hulle vergewe.)

Kom ons skets dit sodat jy kan sien hoekom dit nodig is:

Aan die eenkant het ons die Persoon wat ons verwond het.

En aan die anderkant het ons die Wond of onreg wat die persoon aan my of teenoor my gedoen het.

Wat egter hier in ons hart gebeur is dat ons nou maak asof dit dieselfde ding is. In ons hart word die Persoon ook nou die Wond of Onreg wat hulle my aangedoen het. Hulle WORD DIT WAT HULLE AAN MY GEDOEN HET.

En omdat ons nou onsself moet beskerm teen hierdie mens, (want netnou doen hulle dit weer aan ons), sluit ons ons hart toe vir hierdie persoon. Ons sluit letterlik hierdie persoon toe in ʼn tronksel hier in my hart.

(Sommige van ons het sommer ʼn klomp mense in hierdie tronk in ons hart!)

Daarom is dit nou nodig om, voordat ek kan begin handel met die onreg of wond en iemand kan vergewe daarvoor, dat ek eers daardie Persoon moet losmaak van die Wond of Onreg wat hulle my aangedoen het.

Anders vergewe ons mense vir spesifieke wonde of onreg wat hulle aan ons gedoen het, maar intussen is daardie mens nog steeds opgesluit in ʼn tronksel in my hart.

Die Griekse woord, apeluso, word gebruik toe hulle Barabbas “vrygelaat het. Of toe die engel gekom het om die dissipels uit die tronk vry te laat waarin hulle opgesluit was deur die Joodse leiers.

As jy nie die Persoon en die Wond of Onreg van mekaar losmaak nie en jou hart teenoor daardie Persoon nie eers regkry nie, gaan jy, selfs nadat jy ʼn persoon vergewe het vir wat hulle teen jou gedoen het, elke keer “getrigger” word as jy daardie persoon sien!

Elke keer as daardie persoon naby jou kom, gaan jy net voel hoe die mure tussen jou en daardie persoon opgaan en hoe jy emosioneel net “toegaan” teenoor daardie persoon en hulle glad nie naby jou wil toelaat nie.

Wil jy nie jou lysie vat met die gesigte van die persone wat jou êrens langs die pad verontreg het, en net eers een van daardie persone kies om as’t ware op hulle te begin “oefen” oor hoe om iemand te vergewe sodat jy dit nooit weer hoef te doen nie?

Begin met stap 1 en 2, en dan doen jy stap 3 waaroor ons hier gepraat het.

Maak hulle los van al die onreg of wonde wat hulle in jou lewe veroorsaak het. En dan sluit jy die tronkdeure oop vir hulle.

Volgende keer gesels ons verder.

(Maar as jy nie kan wag tot dan nie, gaan luister weer na daardie YOUTUBE-boodskap wat ek hieroor bedien het: https://youtu.be/ITKgew8QYo4?si=0NTe8_YNiw3aY9v4