In die teenwoordigheid van God hoor ons: “Vrede vir julle!” (“Sh-a-l-o-m-e-g-a”, in die Hebreeus).
Alles wat ons verlede keer vir mekaar vertel het oor wat “jubilee” alles inhou, ontdek ions n die Bybelse begrip “vrede”, of “shalom” in die Hebreeus.
Kom ek neem jou terug na daardie dag, drie dae na die kruisiging van Jesus, Aprilmaand, 30 na Christus (volgens ons beste berekenings).
Ons lees dit in al vier die Evangelies, soos daar in Matteus 27:45 e.v.; Markus 15: 21 e.v.; Lukas 23:26 e.v.; en dan ook in Johannes 19:17 e.v.
Net ʼn bietjie agtergrond: Die dissipels het daardie Sondag van verskeie mense gehoor, kan jy glo, Jesus het uit die dood opgestaan en Hy lewe!
Dan vertel Johannes vir ons die volgende verder daar in hoofstuk 20:19 e.v., onder die inspirasie van die Heilige Gees:
“Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”
Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.
“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”
Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”
Het jy gehoor? Die Opgestane Jesus, sê vir elkeen van ons wat in Hom glo: “Vrede vir julle!”
“Eirene humin”, in die Grieks.
Die Hebreeus se woord wat ons met “vrede” in Afrikaans vertaal het, is die bekende woord “SHALOM”.
Jy sal dadelik snap dat “eirene” in die Grieks, en “shalom” in Hebreeus, in hierdie konteks baie meer behels as wat ons in Afrikaans as “vrede” probeer vertaal. Kom ek probeer kortliks opsom wat hierdie “eirene” en “shalom” vir my en jou in Jesus alles behels.
Ek wil hê jy moet verstaan dat wat ek hiervan praat nie net ʼn kop-ding is nie. Ek en jy moet as’t ware saam met die dissipels van ouds daardie Sondagaand na Sy opstanding uit die dood, hoor hoe Jesus vir ons sê: Vrede vir jou!
Beleef daar waar jy jou bevind hoe die Opgestane Jesus, die Koning van alle konings, selfs voor jou staan!
Onthou net weer vir ʼn oomblik alles wat Hy ook vir jou gedoen het omdat Hy jou so liefhet!
Proe en ervaar dit in jou hele wese, in jou gees, siel en fisies-chemiese liggaam! Proe al die dimensies van hierdie “vrede” waarmee Hy jou opnuut wil bedien!
Hoor hoe God die Gees vir jou sê: “Omdat jy glo dat Jesus ook vir jou gesterf het aan die kruis, en die volle straf vir en namens jou gedra het…
· Is daar nou “vrede” tussen jou en God! Ervaar hoe God se arms van liefde jou toevou en Hy jou styf teen Sy hart vasdruk.
· Al jou skuld is betaal. Jou sondes is vergewe, skoongewas, verwyder, en weggeneem uit God se geheue en teenwoordigheid, so ver as wat die Ooste weg is van die Weste!
· Jou verhouding met God is totaal herstel. Daar is niks meer tussen julle wat afstand, verwydering, skuld, skaamte, of ʼn gevoel van veroordeling hoef te veroorsaak nie.
· Jy is in Jesus met God versoen! Niks kan jou skei van die liefde van God nie. Kies weer om dit ten volle te glo! Kom tot rus in daardie wete!
· Jy is God se kind.
· God se Gees self woon in jou, in jou lyf, om jou elke dag te herinner dat God self jou Hemelse Pappa is. Hy herinner jou ook aan alles wat Jesus self ons kom leer en belowe het. Hy herinner jou ook daaraan dat jy nou in Christus Jesus erfgenaam is van al die genadegawes, voorregte, en voordele wat Jesus vir en namens jou deur Sy lewe, Sy woorde, Sy dood, en Sy opstanding bewerk het.
· In Jesus, omdat jy Hom aangeneem het en in Hom glo, het jy 100% deel gekry aan die Lewe en dit in Oorvloed wat Hy ook vir jou kom bewerk het. Laat toe dat Hy jou oorspoel met hierdie lewe in oorvloed; totdat dit vir jou so ʼn voelbare werklikheid is soos wat jy die klere aan jou lyf kan voel!
· In Jesus, deur die werking van God se Gees in jou, is jy ook deel van ʼn nuwe skepping waarmee God hier op aarde besig is. Dit is immers wat 2 Kor. 5:17 ook sê.
· God se genade is daarom elke dag vir jou genoeg! Want jy het in Jesus toegang gekry tot al God se genade wat altyd, in alles, ook vir jou en jou geliefdes nie net genoeg is nie, maar meer as genoeg is!