Ek het ’n volgeling van Jesus geword en gekies om dit alles te glo omdat die bewyse daarvoor onmoontlik was om te ontken.
Saam hiermee, het ek ’n Christen geword omdat ek glo dat alles wat oor Jesus in die Bybel geskryf is, waar is.
Ja, natuurlik het ek ook ’n gelowige volgeling van Hom geword omdat ek vergifnis nodig het. Ek het gekies om op grond van al die feite, te glo dat Jesus ook vir my gesterf het sodat my sondes van die verlede ten volle vergewe kon word.
Daarom weet en glo ek iets nuuts in my gebeur het, ja, dat ek as’t ware, soos Jesus daar in Johannes 3 dit verduidelik, “weer gebore is”! Daarom beleef ek hierdie nuwe lewe vandag in my lewe, en weet en glo ek dat daar ook genoeg hoop vir môre sal wees.
Om ’n Christen te wees, beteken om aan Christus te behoort.
Sonder Christus, sonder Jesus, is daar niks nie.
Ja, ek weet baie mense beskryf dit waaraan ons vashou as Christene, asof dit maar net nog een van so baie godsdienste in die wêreld is.
Tog glo en weet ek dat dit nie werklik ’n godsdiens is nie. Dit is immers nie iets wat ons doen, of probeer doen om God daarmee te dien of gelukkig te maak of te hou nie.
Die hart van ons geloof as volgelinge van Jesus is immers juis dat ʼn mens op geen manier iets kan doen wat ooit “goed genoeg” vir die enigste ware God kan wees nie. Dit is juis die rede waarom Jesus, God die Seun, ʼn mens moes word om in ons plek, te kom doen wat nodig is sodat God ons kan vergewe, vryspreek en volkome kan herstel om Sy familie te wees.
Dink aan jou lewe soos 'n motor. Om 'n Christen te wees beteken Jesus, deur die Heilige Gees, is nou in jou motor. Ek gaan jou nou-nou vra dat as Hy nog nie in jou motor is nie, om Hom in te nooi.
Baie van julle het Hom reeds in jou motor in genooi, Dalk is hier tog iemand wat nog nie daardie keuse gemaak nie. Vandag het jy weer ’n geleentheid om Hom in te nooi in “jou motor” in.
Onthou wat daar in Openbaring 3:20 staan: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.”
Johannes 1:12 praat van “Hom aanneem”, kies om in Hom te glo.
Kan ek jou vra: Het jy vir Jesus in geloof aangeneem as jou Verlosser en Here?
Asseblief, gebruik dit geleentheid en doen dit vandag!
Vir diegene wat Hom wel in hulle lewens-motor ingenooi het êrens in die verlede, is my vraag: Waar in die motor sit Hy?
Klim Hy net in jou motor as jy Sondae erediens toe gaan om saam met julle vir daardie uur of wat op ’n Sondag te wees?
Natuurlik is dit nie hoe dit werk nie!
Goed, maar waar in jou motor is Hy dan? Op die agtersitplek? Is Hy net ’n Passasier? Of sit Hy in die voorste passasiersitplek? Is Hy ʼn metgesel, maar steeds nie in beheer nie.
Ja, ek weet! Jy wag dat ek gaan vra of Jesus die Bestuurder van jou motor is?
Selfs as jy “Ja” sou sê, gaan ek onmiddellik ook jou vra: Is jy ’n “back-seat driver”?
Dalk bestuur Jesus jou motor, maar as Hy êrens wil afdraai of ry waar jy nie verwag of nie doen wat jy wil hê nie, hoor ek jou van agter af vra: “Waarheen gaan ons dan nou?”.
Kom ek gebruik ʼn voorbeeld.
Miskien is Jesus besig om jou te leer hoe om meer gereeld en meer vrygewig te gee.
Soveel van ons sê dan: “Nee, Here, ek kan nie nou of ook hier gee nie. Daar is nie eers genoeg vir my en my geliefdes nie!”
Of miskien wil die Here jou op die pad van vergifnis neem.
Ek hoor hoe baie van ons sê: Nee, ek wil hulle nie vergewe nie.
My geloof in Jesus moet my gedrag beïnvloed. Dit moet wat ek doen, sê en dink, beïnvloed.
Daarom is vandag weer ʼn geleentheid vir my en jou om weer te kies om soos Gal. 5:16 sê, die Gees van God toe te laat om jou hele lewe te beheer.
Dan sal Sy Gees die karaktertrekke van Jesus in ons lewe laat sigbaar word: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, sagmoedigheid, getrouheid en selfbeheersing.
So, of jy nou al vyf maande of vyftien jaar 'n Christen is – hoe lyk die vrug in jou lewe?
As jy van daardie karaktertrekke kortkom, is dit 'n waarskuwingslig op jou paneelbord wat vir jou sê, dis tyd om Jesus te herposisioneer.
Sommige van julle het vandag weer ʼn geleentheid om te kies en te sê: “Ek wil Hom in my lewe hê. Ek wil Hom as de Bestuurder van my lewe hê.”
Ander sal sê: “Ek moet Hom herposisioneer.”
Vandag is weer ’n kans wat jy het om te kies. Gebruik dit omdat jy nou sekerder as vantevore is oor wat die volle waarheid oor Hom is.