“Ewige lewe” beteken nie net om hemel toe te gaan nie! (Deel 8)

Vandag wil ek met jou vanuit die Here se Woord gesels oor hoe God die Heilige Gees, na Sy uitstorting, in elke gelowige volgeling van Jesus, se lewe hierdie sleutelrol kom speel.

Jesus praat daaroor in gedeeltes soos Johannes 14 tot 16. Kan ek vir jou’n paar belangrike dinge hieroor noem.

Ons verhouding met Jesus self, en alles wat Hy gesê en gedoen het, en steeds vir ons sê en in ons doen, is die essensie van hierdie “lewe” en “ewige lewe” waaroor ons tans gesels.

Dit sluit ook in wat Jesus daar in Johannes 14, van vers 6 af, vir ons sê.

“Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”

Daarom gaan Jesus voort en sê die volgende oor die Heilige Gees en wanneer Hy kom om in elke gelowige volgeling se liggaam en lewe te kom woon:

“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.” (Vers 18)

Dan vervolg Jesus daar in vers 25: “...wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”

Hoe meer ek oor God die Gees en Sy rol 24/7 in die lewe van elke gelowige lees en mediteer, besef ek dat ...

Ons in die “gereformeerde” tradisie waaruit ek kom, sukkel om alles wat God in Sy Woord oor die Heilige Gees en Sy rol in ons lewe sê, prakties deel te maak van ons geloof en lewe as volgelinge van Jesus.

Besef jy, bv., dat Jesus self sê, in my eie woorde, dat mense maar enigiets oor Hom kan sê, maar dat dit letterlik dodelik is, en selfs “onvergeefbaar” kan wees wat hulle oor die Heilige Gees en oor Sy werk sê!

Gaan lees maar self wat daar in Mrk 3:28,29 staan:

“Dit verseker Ek julle: Alles sal die mense vergewe kan word, al die sondige lastertaal wat hulle praat.

Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die sonde.”

Daarom is dit van lewensbelang dat ons mooi luister na wat Jesus self, en die res van die Nuwe Testament, alles oor die Heilige Gees en wat Hy in ons as gelowige volgelinge van Jesus gaan doen.

Dit is ook belangrik om te hoor dat alles wat die Gees in ons gaan doen en vir ons sê, altyd, gaan fokus op Jesus, alles wat Hy gedoen het, en wat Hy gesê het!

Omdat God die Gees, in hierdie nuwe seisoen, na die uitstorting van die Heilige Gees, waarvan Handelinge 2 ons vertel, in ons woon, maar ook “op ons is” om ons toe te rus met “krag van bo”, toerus met die gawes van die Gees, daarom hoor ons hoe Jesus daar in vers 12 tot 14 van Johannes 14, die volgende aan ons belowe:

“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”

Snap jy nou waarom ek gesê het dat ons in baie kerklike tradisies nog nie mooi alles wat oor die Heilige Gees en Sy werk staan, vir onsself verwerk en ons eie gemaak het nie!