“Ewige lewe” beteken nie net om hemel toe te gaan nie! (Deel 10)

Kom ons dink ʼn bietjie na oor die plek van die wet (verstaan dit in die sin van waarvan ons praat as die “tien gebooie”) in hierdie nuwe seisoen wat aangebreek het met die koms van die Heilige Gees.

Kom ons gesels oor die rol van die Heilige Gees in die lewe van elke gelowige volgeling van Jesus.

Hoe beskryf Jesus dit vir ons daar in Johannes 10: Hy gaan ons lei met Sy stem.

Kom ons begin by dit wat daar in Matt. 19 staan.

“Daar het iemand na Hom toe gekom en gesê: "Meneer, watter goeie daad moet ek doen om die ewige lewe te verkry?"

Hy het vir hom gesê: "Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is. Maar as jy die ewige lewe wil ingaan, onderhou die gebooie."

"Watter gebooie bedoel u?" het hy vir Hom gevra. Jesus het gesê: "Dit: Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie, eer jou vader en jou moeder en: jy moet jou naaste liefhê soos jouself."

"Dit alles het ek nagekom," het die jongman gesê. "In watter opsig skiet ek nog te kort?"

Jesus het hom geantwoord: "As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My."

Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.”

Sien jy raak dat hierdie jongman gedink dat hy die hele wet, alles wat daar staan in die “tien gebooie”, nagekom het. Tog wys Jesus hom dat hy inderwaarheid, glad nie die hart van waaroor dit eintlik in die “gebooie” gaan nie, verstaan het nie, naamlik om God bo alles lief te hê!

Kom ek vra jou ’n paar vrae in die verband:

Het jy al in jou studie van God se Woord, en spesifiek wat in die Nuwe Testament staan oor die Heilige Gees, ontdek hoe daar nou oor die Heilige Gees nou as die “Wet” gepraat word in jou lewe ias gelowige?

Het jy bv., ook al ontdek dat dit wat ons as die “tien gebooie” ken, in hierdie nuwe seisoen, byvoorbeeld daar in Galasiërs 3, as die “tugmeester na Christus toe” beskryf word?

Maar dan spesifiek in die lewens van ongelowige mense!

Die Heilige Gees gaan dus die “wet” of “tien gebooie”, soos ons dit ken, in die lewens van ongelowige mense gebruik om hulle bewus te maak van hulle sonde en hulle as’t ware so lei na Jesus as die Verlosser toe!

Verstaan jy wat dit beteken?

Dit beteken dat God die Gees dit wat daar in die “tien gebooie” staan, gebruik om elke mens wat nog nie Jesus ken en verstaan wat Hy vir ons kom doen het, bewus  te maak dat hy of sy totaal verlore en sondig is. Ja, dat ons as mens, nie God op enige manier kan tevrede stel nie.

Die wet (in die sin van die “tien gebooie”) gaan verlore mense juis bewus maak dat hulle Jesus nodig het as Verlosser! Ja, dat Hy ook vir hulle en hulle sonde gesterf het, en dat slegs diegene wat in Hom glo en vertrou op wat Hy ook vir hulle gedoen het, gered sal word en nie verlore en hel toe sal gaan nie!

Wanneer mense dan Jesus aanneem as Verlosser en Here en glo dat Hy ook vir hulle en hulle sonde kom sterf het, kom woon God se Gees in hulle lewe, om elke dag in en by hulle te wees as God se Gees. Ja, dan sal Hy self, as God die Gees, hulle lei en leer presies wat God se wil en hart vir hulle lewens en vir elke dag is.

So word God die Gees, dan self “die Wet” in die lewe van elke gelowige in hierdie nuwe seisoen.

Dit is mos wat God reeds daar in die Ou Testament, in gedeeltes soos Eseg. 36, belowe het gaan gebeur.

Luister dan met hierdie “nuwe” verstaan na hierdie bekende profetiese woorde:

“Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee.

Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.”

Daarom skryf Paulus daar in Romeine 7:6 die volgende:  “Maar nou is ons vrygemaak van die wet, want ons het gesterf en staan nie meer onder die wet waardeur ons gebind was nie. Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.”

Kan ek jou, ten slotte, uitdaag om ’n bietjie hieroor te gaan nadink in die Here se teenwoordigheid?