“Ewige lewe” beteken nie net om hemel toe te gaan nie! (Deel 15)

Wonder jy soms of daar regtig lewe na die dood is?

Soms is dit by die meeste van ons net ʼn vlietende gedagte wat by ʼn mens opkom. Natuurlik nie vir lank nie, want eintlik weet jy hier diep binne… Ja, dat daar beslis lewe wat ewig aanhou ook aan die anderkant van hierdie lewe, na die dood, gaan wees!

Vanoggend in my gefokusde stil tyd voor die Here, lees ek vir die hoeveelste keer dit wat daar in Filippense 1 staan. Luister net na wat hier staan! Onthou egter ook dat Paulus al hier ʼn redelike ou man is! Ons weet nie presies hoe oud hy hier was nie, maar uit wat hy hier onder die inspirasie van die Gees skryf, hoor ons dit! Kom ek haal vir jou ʼn paar verse aan.

“Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.

As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie. Ek is in 'n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe. Omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek sal bly, ja, vir julle almal behoue sal bly, sodat julle kan toeneem in geloof, en blydskap in julle geloof kan hê.”

Hoor jy dit ook?

Dit is die woorde van iemand wat weet dat hy weet dat daar beslis lewe na hierdie lewe op aarde gaan wees!

Ja, dat ons as gelowiges die een oomblik nog hier op aarde sal wees, en dan, die volgende oomblik, na ons dood, by Christus, “in die hemel”, sal wees!

Ja, dit is ook wat Jesus daar in Lukas 23:43, vir die moordenaar aan die kruis belowe het…  Wat daar in sy laaste oomblikke hier op aarde gekies het om in Jesus te glo:

“Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

As jy dit regtig, regtig… glo, maak dit alles anders! Dit maak dat jy heeltemal anders na dinge kyk en oor dinge dink! Dit trek net alles reg en bring dinge net weer in perspektief! Dan besef jy waaroor die lewe en elke dag hier op aarde eintlik gaan en wat regtig belangrik is!

Hoor jy dit ook in wat Paulus sê?

“Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.”

Wanneer jy ʼn bietjie tyd het, gaan sit ʼn bietjie daar êrens buite in die natuur, of langs die see, en gaan dink ʼn bietjie hieroor.

Wat gebeur hier binne in jou as jy jouself herinner dat daar meer aan die lewe is as net dit wat ek en jy elke dag belewe en waarvoor ons soms ons so afsloof en so bekommer?

Kan ek jou, ten slotte, vra: Hoe sal hierdie wete enigsins jou lewe van dag tot dag en dit waarop jy fokus verander?