Ek en jy het die dag toe ons Jesus as Verlosser en Here aangeneem het, ’n splinternuwe lewe deur die werking van God se Gees ontvang. Ons het in ’n oomblik splinternuwe mense geword, asof ons pas gebore is!
Dit is waarom Jesus dit “wedergeboorte” genoem het daar in Johannes 3.
Kom ons dink ’n bietjie hieroor na.
Ek en jy kan seker baie “slim dinge” hieroor vir mekaar sê, maar kom ons laat toe dat die Here self met ons oor hierdie “nuwe lewe” praat.
Voordat ek ’n paar Skrifgedeeltes hieroor vir jou aanhaal, wil ek jou net daaraan herinner dat die Lewende God self met jou deur elke vers in Sy Woord, die Bybel, praat! Om Skrifgedeeltes hier vir jou aan te haal, is soos om jou in te nooi in die teenwoordigheid van die Lewende God wat ons dien en Hom toe te laat om self met jou te praat!
Daarom wil ek jou help om werklik Sy stem te hoor wanneer ons dit saam lees.
Een van die vrae wat ek gewoonlik gebruik om my te help om meer sensitief te wees en werklik te hoor wat die Here vir my wil sê vandag, is om die volgende vraag vir myself te vra:
Is daar dalk een of twee van hierdie verse wat hier aangehaal word wat as’t ware na my toe “uitgespring het” toe ek dit gelees het?
Ek glo dat die Here daardeur spesifiek met jou wil gesels en vir jou iets wil sê wat jy vandag en in hierdie tyd nodig het om te hoor.
Raak ’n bietjie stil genoeg voor die Here om te hoor wat Hy vir jou wil sê. En as jy gehoor het hoe Hy met jou praat, vra dan jouself af: Wat hoor ek moet ek in die lig hiervan doen, verander, of aan werk, sodat dit nie net woorde sal wees wat ek hoor nie, maar ook geloof sal wees wat oorgaan tot dade?
So sê die Here, Here!
2 Kor. 5:17 sê dit so: Die oue het verbygegaan en die nuwe het gekom.
Ef. 4:24 sê: Lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.
Kol. 3:10 sê: En leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.
Tit. 3:5 verduidelik dit so: Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee.
In 1 Pet. 1:3 staan die volgende: Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop
’n Paar ander Skrifgedeeltes verduidelik dat daar nog “nuwe” dinge deel hiervan is. Kom ek haal so ’n paar daarvan vir jou hier aan:
2 Pet. 3:13 - Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.
1 Joh. 2:7 - Geliefdes, dit is nie ‘n nuwe gebod wat ek aan julle voorskrywe nie, maar ‘n ou gebod wat julle van die begin af gehad het. Die ou gebod is die boodskap wat julle gehoor het.
1 Joh. 2:8 - Tog is dit ook ‘n nuwe gebod wat ek aan julle voorskrywe. Dat dit werklik so is, is te sien in Jesus en ook in julle, want die duisternis is aan die verbygaan, en die ware lig skyn alreeds.
Op. 2:17 - Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek van die verborge manna gee, en daarby sal Ek vir hom ‘n wit steentjie gee met ‘n nuwe naam daarop gegraveer, wat niemand anders ken nie, net hy wat dit kry.
Op. 3:12 - Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe.
Op. 5:9 - Toe sing hulle ‘n nuwe lied: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.
Op. 14:3 - Hierdie mense sing ‘n nuwe lied daar voor die troon en voor die vier lewende wesens en die ouderlinge. Niemand anders as net hierdie honderd vier en veertig duisend mense, wat van die aarde af losgekoop is, kon hierdie lied leer nie.
Op. 21:1 - Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie.
Op. 21:2 - En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.