Ons is besig om te gesels oor wat God se Gees, die Heilige Gees, nuut aan die Ekklesia geopenbaar het daar in die begin van die Ekklesia. Die belangrikste manier hoe God se Gees met hulle gepraat het oor hierdie dinge, was deur die briewe en boeke wat ek en jy ken as die Nuwe Testament. Die brief wat ek en jy ken as Hebreërs, was een van hierdie “nuwe openbarings”. In my kommentaar op die Nuwe Testament, DIE STORIE AGTER DIE STORIE, skryf ek soos volg oor hierdie brief: Hebreërs is al die Nuwe Testament se “kommentaar op die Pentateug” (dit is nou die ander naam vir die eerste vyf boeke van die Ou Testament) en spesifiek op Levitikus genoem. Daar word nie minder as 86 keer direk verwys na Ou Testamentiese teksverse nie. Die brief verduidelik vir ons wat die betekenis is van die Ou Testamentiese rituele in die lig van Christus se koms. Al die seremoniële wette, offerandes en die hoëpriesteramp word beskryf as niks meer as “skaduwees” van Christus nie en dit wat Hy kom doen het hier op aarde. Hy het ʼn nuwe verbond daar kom stel, met Homself as die enigste en laaste Offerhande; met Hom as die laaste, finale Hoëpriester, en as die enigste ware Tussenganger tussen God en mens, wat uiteindelik volkome versoening tussen ʼn heilige God en ʼn sondige mensdom kom bewerk het vir dié wat dit glo. G’n wonder die brief, Hebreërs, word in sommige kringe selfs die “vyfde evangelie” genoem nie! Dit vertel ons van die afgehandelde werk van Jesus op aarde en die werk waarmee Hy tans in die hemel besig is. Matteus, Markus, Lukas en Johannes, het ons vertel van die lewe van Jesus, van Sy geboorte as baba, tot en met Sy opstanding uit die dode. In Handelinge sien ons Hom opvaar na die hemel. Saam met die briewe van Paulus vertel dit ons verder dat Hy nou in ons woon deur Sy Gees, en dat ons letterlik Sy nuwe liggaam hier op aarde is, deur wie Hy Sy werk voortsit deur die gawes van die Gees. Die brief, Hebreërs, fokus dan op die lewe van Jesus na Sy hemelvaart. Ons ontdek Hom waar Hy sit aan die regterhand van die Vader (soos Efesiërs ook vir ons dit teken), maar ook dat ons “in Hom” is, waar ons as’t ware saam met Hom sit en heers in die hemel. Ja, die Jesus wat ek en jy aanbid, is nie meer ʼn Jood wat gebore is in Israel nie. Hy is Verlosser en Koning van ʼn hele wêreld. God die Vader het in Sy alwysheid ʼn man, Abraham en sy familie, wat nie eers Jode was nie, doer uit die Midde-ooste, êrens uit die moderne Iran, gaan roep en hulle gelei na ʼn gebied en ʼn land wat hulle nie geken het nie, om daar ʼn nuwe volk tot stand te bring, wat die Moeder sou wees waaruit Sy Seun, as Mens, gebore sou word om die beloofde Messias-Koning en Verlosser van ʼn hele wêreld te wees. Met daardie volk sou God ʼn merkwaardige pad loop en alles wat Hy vir hulle gesê het en gevra het om te doen, sou padtekens en profeties vertel van hierdie groter verlossingsplan met ʼn hele wêreld waarmee Hy as God besig was. Ja, dit sou deel wees van Sy eerste, ou verbond, as ons nou, in die nuwe seisoen, terugkyk daarna. Dit was dus alles deel van die ou paradigma. Ons is nou in ʼn nuwe seisoen, die seisoen waarin die nuwe ooreenkoms en sy bepalinge geld wat God deur Sy Gees in Christus en deur Christus Jesus aan ons openbaar het. Gesels ʼn bietjie hieroor met die Here in jou gebedsgesprek met Hom. As daar dinge is wat jy nie heeltemal nog snap in die verband nie, vra vir Hom om deur Sy Gees dit aan jou te openbaar. |
Die boek, Hebreërs, is die Nuwe Testament se kommentaar op die Pentateug
Nuusbrief
Hits: 1998