Die Seisoen van die Gees is ʼn totaal nuwe paradigma

 

Terwyl ons oor die Heilige Gees, as Persoon, en Sy werk praat, wil ek ʼn bietjie “nuwe wyn” aan jou bedien oor die nuwe seisoen wat na 31 Mei 32 nC, en die eerste uitstorting van die Heilige Gees aangebreek het.

Dit is die seisoen waarin ons Jesus Christus ons Koning en Here, as Doper met die Gees sien opereer.

Kom ons lees wat daar in Handelinge 2 in die verband staan.
En dan ook in Johannes 14 en 16.

Koning Jesus en Vader woon deur die Heilige Gees in elkeen van Sy gelowige volgelinge.

In hierdie nuwe seisoen word mense deel van die Bybelse Ekklesia of Kerk van die Here Jesus deur ʼn normale geestelike geboorte waaroor ons reeds gesels het toe ons geluister het na wat die Here self vir ons in Handelinge 2:36 tot 39 gesê het.

Kom ek gee vir jou ʼn slukkie “sterk” nuwe wyn, en asseblief, moenie verstik nie!

Sit jy stewig op jou stoel en is jy gereed vir ʼn skokkende stelling?

Hier kom dit:

Dit is ʼn ou Roomse leuen dat ʼn baba deur besprenkling met water, of deur ʼn seremonie wat die “suigelingdoop” genoem word, deel kan word van die ware Bybelse Ekklesia of Kerk van die Here Jesus!

Ja, ek weet, dit was vir my as ʼn NG dominee net so ʼn skok toe ek dit die eerste keer gehoor en ontdek het!

Gaan dink ʼn bietjie mooi hieroor na.

Stel jou voor dat jy nooit in ʼn gereformeerde gemeente of kerk groot geword het nie. Al wat jy gehad het, was die Bybel.

Besef jy dat jy nooit, ooit, sou dink dat enigiemand op enige ander manier deel kon word van die ware Kerk van Jesus Christus anders as om Jesus Christus as Verlosser aan te neem in geloof nie!

Dit sou vir jou so duidelik soos daglig gewees het dat iemand eers moes besef dat hy/sy totaal verlore is as gevolg van al die sonde in hulle lewens.

Daarom is die Evangelieboodskap dat God Sy eie Seun gestuur het om in jou plek te kom sterf, om die volle straf ook vir jou sondes te dra deur Sy lewe te gee, wonderlike Goeie Nuus!

Ja, eers nadat jy Hom aangeneem het in geloof as Verlosser, word jy kind van die lewende God en word jy deel van die ware Ekkklesia of Ware Kerk van Jesus.

As teken hiervan word jy dan gedoop in water as gelowige, soos Jesus self vir ons opdrag gegee het om te doen, in Matt. 28:18 en 19, en in Rom. 6.

Dan word jy, volgens Handelinge 2:36-39; 8:4-17; en 19:1-7, sommer daar by die water waar jy gedoop is, die hande opgelê deur ander gelowiges, terwyl hulle bid dat Jesus, ons Koning en Here, nou as die Doper met die Gees, self jou sal kom salf en toerus met Sy Gees en die gawes van die Gees.

Het jy geweet dat ʼn Martin Luther en ʼn Calvyn geweet het dat dit is wat die Bybel leer, en tog was hulle nie bereid om dit deel te maak van die boodskap van die Reformasie nie?

Kom ek vertel vir jou waarom hulle dit nie deel gemaak het van die boodskap van die Refromasie nie!

Omdat hulle geglo het dat jan alleman op straat, wat al die jare gewoond was en in die Roomse Kerk groot geword het, geleer het om te glo dat babas gedoop mag word, nie sommer maklik sou kon aanvaar dat nie is wat die Bybel vir ons leer nie!

Daarom besluit drie van die vyf leiers in die Reformasie destyds om eerder nie die doop van gelowiges deel te maak van die boodskap van die Reformasie nie.

Die tragiese gevolg hiervan is dat miljoene goeie gelowige mense in gereformeerde kerke sederdien nogsteeds hierdie Roomse leuen glo!

Ja, ek weet, jy het nou seker nodig om met ʼn klam doekie op jou voorkop op die bed te gaan lê om te herstel na hierdie slukkie nuwe wyn!

 

Wees geseënd in die Naam van Jesus Christus, ons Koning,
Christo en Hetta Nel