Gids om Journey of Discovery te gebruik

’n Gids om die JOURNEY OF DISCOVERY – app te gebruik om mense dissipels van Jesus te maak.

In hierdie aflewerings gaan ek jou leer hoe om die Toepassing, JOURNEY OF DISCOVERY, te gebruik om mense dissipels van Jesus te maak.

 

Inhoudsopgawe

Maak die mense My dissipels (Deel 1). 1

Maak die mense My dissipels (Deel 2). 3

Maak die mense My dissipels (Deel 3). 4

Maak die mense My dissipels (Deel 4). 5

Maak die mense My dissipels (Deel 5). 7

Maak die mense My dissipels (Deel 6). 8

Maak die mense My dissipels (Deel 7). 9

Maak die mense My dissipels (Deel 8). 11

Maak die mense My dissipels (Deel 9). 13

Maak die mense My dissipels (Deel 10). 14

 

 

Maak die mense My dissipels (Deel 1)

In hierdie en die volgende aflewerings gaan ek jou leer hoe om die Toepassing, JOURNEY OF DISCOVERY, te gebruik om mense dissipels van Jesus te maak.

Die afgelope 23 jaar, week na week, het ek deur hierdie nuusbriefie, NOG ’N SLUKKIE NUWE WYN, die waarheid van God se Woord aan derduisende in meer as 1150 aflewerings oopgebreek! Maar dit wat ek in die volgende paar aflewerings aan jou gaan bedien, gaan jou in staat stel om self die Hemel vir een of twee of drie mense oop te sluit!

Ek wil begin deur jou te herinner aan daardie eerste dag in jou lewe wat jy die Stem van die Lewende God gehoor praat het met jou! Onthou jy nog daardie dag?

Ek het nou die dag beleef hoe die Here my herinner het aan 5 sulke dae in my lewe wat ALLES in my lewe verander het! Dit wat ek daardie 5 dae uit die mond van God self gehoor het, het ALLES IN MY LEWE VERANDER! En dit het gemaak dat ek vandag is waar ek is en besig is waarmee ek besig is!

Maar dit is ook die dinge wat maak dat ek vandag gereed is as ek vandag moet sterf!

Dit is ook die dinge wat maak dat ek met tevredenheid kan terugkyk oor my lewe van sowat 70 jaar en kan sê: Ja, dit was nie alles volmaak en perfek nie, maar dit was goed genoeg! Dit maak dat my lewe tot hier werklik die moeite werd was!

In die volgende aflewerings wil ek jou help om vir ten minste een ander mens die hemel oop te sluit en om daardie mens te help om self, met net die Bybel op hulle skoot, die stem van die enigste ware God te hoor praat met hulle!

Ja, ek weet dat daar van julle is wat al iemand anders na Jesus toe gelei het. Maar kan ek jou vra: Het jy daardie mens ’n dissipel van Jesus gemaak?

Dink net ’n bietjie hieroor na.

Om iemand anders ’n dissipel van Jesus te maak, beteken immers om aan iemand die Evangelieboodskap oor Jesus te vertel op so ’n wyse dat hulle werklik beleef dat God self met hulle praat en dat hulle ’n persoonlike ontmoeting met hierdie God van die Bybel self het.

Daarom moet hulle ontdek dat hulle verlore sondaars is wat op pad is hel toe.

Hulle het ook nodig om die Goeie Nuus te hoor oor God wat hulle so liefgehad het dat Hy Sy Enigste Seun, Jesus Christus, gestuur het aarde toe om in hulle plek, vir hulle sonde, Sy lewe te gee, sodat hulle, as hulle kies om dit te glo, die Ewige Lewe kan hê en nie verlore sal gaan nie.

Dan moet daardie geestelik nuutgebore babas, op dieselfde dag van hulle bekering, gedoop word met water, en gedoop word met die Gees.

En dan moet hulle aan die hand geneem word en geleer word wat Jesus ons alles geleer het.

Sodat God hulle ook kan gebruik om weer op hulle beurt, ander mense dissipels van Jesus te maak. Wat weer, op hulle beurt, van ander dissipels kan maak.

Dit is waarom die Here my 5 jaar gelede opdrag gegee het om  hierdie Toepassing, JOURNEY OF DISCOVERY, vir jou te bou en vir jou VERNIET beskikbaar te stel.

 

 

Maak die mense My dissipels (Deel 2)

Elkeen van ons se Groot Opdrag is dit wat Jesus daar in Mat. 28:19 gesê het:

"Gaan dan en maak die mense My dissipels, doop hulle en leer hulle alles wat Ek julle geleer het."

Hier is 'n treffende kort 4-minute YOUTUBE-video hieroor.

https://youtu.be/pJq1N4PiH28

In die JOURNEY OF DISCOVERY-toep, neem ons mense na die Bybel toe, want ons glo immers dat die Bybel God se Woord is!

* Die God van die Bybel praat immers deur Sy Woord, die Bybel, en openbaar Homself en Sy wil op baie maniere daardeur.

* Al praat God op baie ander maniere ook met mense, bly die Bybel die belangrikste manier hoe die Here self met mense praat en hoe hulle elke keer as hulle daaruit lees, letterlik Sy Stem kan hoor praat met hulle. En as God op enige ander manier met mense praat, is en bly die Bybel en dit wat Hy daardeur gesê het, ons finale toets om seker te weet of dit werklik Hy was wat met ons gepraat het.

Daarom is hierdie toep, JOURNEY OF DISCOVERY, eerstens gebou om mense met verskillende roetes langs met net die Bybel op hulle skoot te neem om self te beleef hoe God met hulle praat.

Hierdie toep is dus nie bedoel om jou, as gelowige, te help met jou daaglikse Bybelstudie of Stiltetyd nie! Nee, daar is soveel ander toepassings wat daarvoor gebou is, soos YOUVERSION of  BIBLEGATEWAY!

Die JOURNEY OF DISCOVERY-toep is gebou om jou te help om mense te dissipel, soos Jesus ons opdrag gegee het. Hierdie toepassing is ’n eenvoudige instrument in jou hand om op die wyse die Evangelie aan ander te vertel en om hulle te help om via verskillende roetes te ontdek dat God ook met hulle elkeen persoonlik wil praat.

Jy kan dus hierdie toep vir mense gee wat jy weet nie die Here ken nie, om op hulle fone af te laai en dan wys jy hulle hoe hulle dit kan gebruik.

Natuurlik is hierdie toep nie die Alfa en Omega nie! Nee, dit is net bedoel om 'n eenvoudige stukkie gereedskap te wees om mense te help om ander dissipels van Jesus te maak! En die wonder is dat dit op enige slimfoon verniet afgelaai kan word.

 

Maak die mense My dissipels (Deel 3)

Kom ek vertel jou kortliks wat jy kan verwag om te vind op hierdie toep, en hoe enigiemand die toep kan aflaai op hulle selfoon.

Die hart van hierdie Toep, JOURNEY OF DISCOVERY, is dat dit die wêreldbekende DISSIPEL-BYBELSTUDIE-METODE en die materiaal wat daar gebruik word, op jou en ander se tafel kom neersit.

Ek weet nie of jy weet nie, maar hierdie Bybelstudie-metode is die mees effektiewe en suksesvolle metode ter wêreld wat die Here gebruik het om meer as 260 herlewings in die wêreld mee te begin en aan die gang te hou tot nou toe!

Hoe kan jy hierdie Toep gebruik om van mense dissipels van Jesus te maak?

Jy kan hierdie Toep op verskillende maniere gebruik:

* Jy kan dit gebruik as jy daardie “man (of vrou) van vrede”, waarvan Lukas 10 praat, ontmoet in wie se lewe jy daardie belangstelling of honger sien na geestelike dinge en na die vrede wat net Jesus kan bring. Jy kan hulle dan wys hoe hulle die verskillende ROETES van hierdie Toep kan gebruik saam met een of twee ander vriende of lede van hulle familie wat ook graag meer wil weet.

* En dan kan jy hulle, na hulle bekering, weer help om hierdie selfde Toep te gebruik om ander mense op dieselfde manier te dissipel en hulle weer leer om ander te dissipel soos Jesus ons geleer het.

KOM ONS LAAI DIE TOEP AF OP ONS EIE FOON!

Tik https://journey.beezer.com/ op jou Selfoon se Internet Blaaier (“internet browser”).

Kliek dan op die AFLAAI-teken en blaai af in die lys op jou selfoon se skerm na “ADD TO HOME SCREEN”.

Klik daarop!

Daar is die Toep nou afgelaai op die skerm van jou foon.

Ek wil afsluit.

Die JOURNEY OF DISCOVERY-toep wil mense na die Bybel as die Woord van God toe neem en hulle die geleentheid bied om self God se stem te hoor praat met hulle.

Dit gaan hulle die geleentheid gee om, saam met een of twee of drie ander mense, via verskillende ROETES, te hoor hoe God met hulle deur die Bybel praat wat hulle saam lees!

Op hierdie roetes, gaan hulle ontdek…

* Wie God is en wat Sy hart vir hulle is

* Wie Jesus van Nasaret regtig is

* Wat die hart en boodskap van die Evangelie van die Koninkryk is

* Hoe hierdie God hulle lewe kan RED, VERANDER en ook weer hulle kan GEBRUIK in die lewens van ander

* Hoe om mense dissipels van Jesus te maak.

 

Maak die mense My dissipels (Deel 4)

Vriende, God praat op baie maniere met ons.

Natuurlik praat Hy deur mense met ons, en veral deur ander gelowige volgelinge van Jesus. Dit is hier waar die gawes van die Gees inpas (waarvan ons lees in Rom. 12:6-8 en 1 Kor.12:7-10) en ook die vyfvoudige bedieninge, soos dié van die apostel, profeet, leraar, pastor en evangelis (Ef. 4:11-16). Dit is dan ook hier waar hierdie briefie van my aan jou inpas.

Natuurlik praat Hy ook deur die natuur, die skepping en dinge wat met ons gebeur. Af en toe praat Hy selfs deur ʼn donkie met jou, soos met Bileam die profeet gebeur het! Dit is ook dié dat ek vir my vrou sê: Jy moet selfs af en toe na my, as die donkie in jou lewe, luister! (Grappie!)

Die belangrikste en mees algemene manier hoe God met mense praat, is deur Sy Woord, die Bybel!

Daarom bly die Bybel en dit wat daarin staan – noukeurig en so letterlik as moontlik vertaal, binne die konteks van tyd en verband waarin dit staan en afspeel – ons uiteindelike en finale toets vir wat waarheid is en vir wat werklik van God af is.

Daarom is die hart van die baie suksesvolle Discovery Bybelstudie-metode, wat ook in hierdie Toepassing, JOURNEY OF DISCOVERY, gebruik word, om mense geleentheid te gee om na God se stem uit die Woord te gaan luister en so by Hom self te hoor wat Hy te sê het.

Al die vrae wat gebruik word in hierdie metode, is daarop gemik om God self aan die woord te stel en om presies te hoor wat Hy in ʼn betrokke gedeelte vir ons elkeen wil sê.

As elkeen so geleentheid gegee is om mooi te lees en mooi te hoor presies wat in ʼn betrokke gedeelte staan, word die lesers dan uitgedaag om daardie woord toe te pas en te verstaan in die lig van wat in hulle eie lewe aan die gang is.

God en dit wat Hy self in Sy Woord, die Bybel, aan ons sê en openbaar, het dus ook so die laaste en finale woord in elke leser se lewe!

Hoeveel keer sê die Here nie self dit vir ons in Sy Woord nie! Dink maar aan wat Hy self in die volgende Skrifgedeeltes vir ons hieroor sê:

2 Tim. 3:14 tot 16

“Maar jy, bly by dit wat jy geleer het en waarvan jy vas oortuig is, omdat jy weet by wie jy dit geleer het en omdat jy van kleins af die Heilige Skrifte ken wat jou die wysheid kan gee tot verlossing deur die geloof in Christus Jesus. Elke Skrifdeel is deur God geïnspireer en is nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam sodat die mens wat aan God behoort bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak.”

Heb. 4:12

“Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur selfs tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes.”

 

Maak die mense My dissipels (Deel 5)

Ek wil graag nou die Toep, JOURNEY OF DISCOVERY, stap vir stap met jou deurgaan om vir jou te wys hoe jy die inhoud van hierdie toep kan gebruik om elke dag daar waar God jou geposisioneer het tussen mense in jou gemeenskap en by die werk, ʼn getuie van Jesus te wees elke dag.

Die toep, JOURNEY OF DISCOVERY, is immers bedoel as ʼn stukkie gereedskap wat jy kan gebruik in diens van die Koning daar waar Hy jou geleenthede gee as Sy ambassadeur en getuie.

Sodra jy klik op die Toep op jou selfoon, wag ’n oomblik dat al die nuutste veranderinge kan aflaai. Klik dan op “START YOUR JOURNEY”.

Op hierdie bladsy word mense verwelkom en gewys hoe dit wat ons met hierdie Toep kan doen, eintlik ’n soortgelyke reis is as wat Jesus met Sy dissipels, en hulle weer op hulle beurt met ander, onderneem het.

(Dit sien en hoor elkeen dan wat kliek op die video-skakel wat ek daar ingebou het).

Dan verduidelik die toep verder waarom al die roetes op hierdie toepassing mense neem na sekere gedeeltes in die Bybel wat hulle dan moet lees en na moet luister om self God te hoor praat met hulle.

Om te help dat dit elke keer gebeur, word voorgestel dat elkeen die volgende vrae probeer antwoord terwyl hulle ’n bepaalde gedeelte lees of daarna luister:

* Wat sê hierdie gedeelte werklik vir ons?

* Wat beteken dit wat hier staan werklik?

* Hoe gaan ek reageer in die lig van wat hier staan?

* Vir wie kan ek gaan vertel wat God vir my gesê het?

Omdat die Bybel so sentraal deel is van hierdie proses, gee die Toep elkeen ’n geleentheid om, as hulle nie reeds self ’n eie fisiese Bybel het wat hulle kan gebruik nie, om via die YOUVERSION- of die BIBLEGATEWAY-toep, dan vir hulle ’n Bybelvertaling van hulle eie keuse te kies wat hulle op die verskillende ROETES op hierdie toep kan gebruik.

Kliek vervolgens op INTRODUCING THE APP.

In ’n kort inleiding word mense daarop gewys dat alles op hierdie toep die eindresultaat is van meer as 5 jaar se navorsing van materiaal wat die Here oor die wêreld al vir jare gebruik het om ongelowiges bekend te stel aan die boodskap van die Evangelie van die Koninkryk.

Natuurlik is die hart hiervan die Evangelieboodskap of Goeie Nuus oor Jesus Christus wat hier op aarde in die land Israel gewoon het in die jare 3 v.C. tot 30 n.C. Hy, Sy Lewe en die boodskap hieroor, is natuurlik ook die goue draad wat dwarsdeur die hele Bybel met sy 66 boeke loop.

Volgende keer gesels ons verder.

 

Maak die mense My dissipels (Deel 6)

Om mense wat nog nooit die Bybel gelees het of nog nooit die God van die Bybel ontmoet of self met hulle hoor praat het nie, te help en voor te berei om Sy Stem te hoor, is nie so ingewikkeld as wat mense dit baie keer maak nie.

Wat ’n mens nodig het, is soms net ’n paar vrae wat as’t ware die brug kan wees om hulle voor te berei en gereed kan maak hiervoor.

Die MENU wat elke gebruiker van die toep dan gevra word om af te laai (en wat hulle dan in die een of ander vorm kan uitdruk sodat hulle dit by elke geleentheid kan gebruik), is presies hiervoor bedoel en ook hiervoor geformuleer.

Onthou, as mense werklik die Lewende God met hulle hoor praat het by ‘n vorige keer, dan kan jy mos nie net sê: Ek het verlede keer dit of dat gelees, en nou weet ek nog iets nie! Nee, want as jy werklik God met jou hoor praat het, gaan dit jou verander of ten minste maak dat jy iets daarmee wil doen of dit vir iemand anders wil vertel!

Die tweede vraag van die MENU is bedoel om die gesprek aan die gang te kry oor geestelike dinge, op so ’n manier wat vir die meeste mense maklik maak om daaroor te gesels.

Vraag 3 en 4 is bedoel om mense geleentheid te gee om ’n bietjie oop te maak oor die persoonlike dinge waarmee hulle tans worstel, en om ook ’n geleentheid te kry om na te dink oor wie daar rondom hulle is wat dalk ook voor een of ander uitdaging tans staan.

Dan neem Vraag 5 en 6 hulle na die betrokke Skrifgedeelte toe en gee hulle geleentheid om erns te maak met wat daar staan en wat hulle hoor die God van die Bybel self sê. Hulle kry ook ’n geleentheid om te sê wat hulle gaan maak met dit wat hulle by Hom gehoor het.

Vraag 6 gaan jou help om nie net ’n hoorder van die Woord te wees nie, maar om werklik oor te gaan tot aksie en om dit wat jy dan gehoor het wat God vir jou gesê het, te gaan toepas en te gehoorsaam in jou lewe!

Vraag 7 gee dan vir elkeen wat werklik gehoor het hoe God self met jou gepraat het, kan besluit oor wie rondom hom of haar dalk nodig het om te hoor wat jy vandag gehoor het.

So leer die Toep van die begin af elkeen om te begin gesels oor wat hulle nuut ontdek en gehoor het. Dit is immers mos ‘n bekende leerbeginsel: As jy werklik iets gesnap en verstaan het, begin om dit ook met ander te deel, en maak dit so vir altyd deel van jouself en jou manier van doen!

 

Maak die mense My dissipels (Deel 7)

Wanneer ek en jy mense wil “dissipel” soos Jesus ons geleer het in Mat. 28:19, kan ons ’n paar roetes (ROUTES op die toep, JOURNEY OF DISCOVERY) gebruik om dit te doen.

Maak die Toep, JOURNEY OF DISCOVERY, oop en dan verduidelik ek hoekom ek juis hierdie Roetes gekies het as opsies.

ROETE 1

Om iemand anders te “dissipel” soos Jesus ons opdrag gegee het om te doen, beteken heel eerste dat ons met hulle begin gesels oor wat God deur Sy Woord, die Bybel, aan ons sê oor Jesus.

As iemand vir jou sou vra om in ʼn sin of twee op te som waaroor die inhoud van die hele Bybel, Ou en Nuwe Testament, handel, dan is die antwoord baie eenvoudig: Die hele Bybel gaan uiteindelik oor Jesus.

In die Ou Testament lees ons oor hoe die God van die Bybel Homself bekend gemaak het aan mense en met hulle ʼn pad begin stap het, alles ter voorbereiding vir die koms van die Messias, God self, wat as ʼn mens na hierdie aarde toe gaan kom.

In die Nuwe Testament, veral in die eerste vier boeke genaamd Evangelies, lees ons dan oor die koms van hierdie Messias, in die persoon van Jesus van Nasaret, wat tussen 3 v.C. en 30 n.C. in Israel gelewe het, gekruisig is, begrawe is, en na 3 dae uit die dood opgestaan het om vir 40 dae daarna Homself lewend te vertoon aan meer as 5000 mense.

Die res van die Nuwe Testament handel dan oor hoe die Persoon, Lewe en Woorde van Jesus, en ʼn daaglikse liefdesverhouding met Hom, die lewe van Sy volgelinge dramaties verander het, en hoe die God van die Bybel Homself as Vader, Seun en Heilige Gees geopenbaar het aan mense en letterlik met hulle op baie wyses gepraat het.

Daarom bestaan ROETE 1 uit ʼn begeleide toer om die kern evangelieboodskap oor hierdie Jesus met elke mens te deel vanuit die Bybel.

In ROETE 2 word mense geleentheid gebied om meer as 20 verskillende Skrifgedeeltes te gaan lees en te luister wat God self in die Ou Testament en in die Nuwe Testament oor Homself as die Messias en dan in die persoon van Jesus van Nasaret aan ons gesê het.

Omdat ons immers glo dat God self aan die woord kom wanneer mense die Bybel met ʼn openheid lees, gaan die wonder gebeur dat hulle God in die Persoon van die Messias, Jesus Christus, gaan ontmoet en dit kan hulle hele lewe verander!

Om dit wat in hierdie meer as 20 gedeeltes in die Bybel staan, opsommend saam te vat, eindig ROETE 2 weer met die samevatting van die Evangelieboodskap oor Jesus.

 

Maak die mense My dissipels (Deel 8)

As ek en jy vandag, in die 20ste eeu, met mense oor Jesus en oor God en selfs oor die kerk praat, moet ons altyd ʼn paar belangrike dinge in gedagte hou.

Dit is belangrik om te onthou dat Jesus self hier op aarde geleef het van 3 v.C. tot 30 n.C. en dat alles wat God verskillende mense geïnspireer het om oor Hom te skryf in die Nuwe Testament, om en by reeds in die jare 50 tot 70 n.C. geskryf is.

Met ander woorde, tussen my en jou en hierdie gebeure in die Nuwe Testament, lê reeds meer as 1900 jaar.

Hoekom dit vir ons belangrik is om te onthou, is om mooi te dink oor wat sê ʼn mens vir iemand wat so pas die eerste keer in hulle lewe werklik van Jesus Christus en die kern evangelieboodskap oor Hom gehoor het. Hoe nou verder? Wat is belangrik om te onthou wanneer ons teenoor so iemand getuig oor Jesus? Wat moet ons sê?

Jesus self het aan ons gesê dat as iemand Hom as Verlosser en Here aanneem in geloof, is dit in werklikheid soos ʼn wedergeboorte wat hier voor ons oë plaasvind. (Kyk maar hoe sê Jesus dit daar in Johannes 3.)

Dit maak van my en jou as’t ware soos die destydse “vroedvroue” wat bygestaan het as ʼn nuwe baba gebore word (want dit het meestal nie in hospitale waar daar dokters was, gebeur nie).

Die logiese vraag in die lig hiervan is dus of daar iets is wat ons moet doen om te sorg dat hierdie “geestelike geboorteproses” so natuurlik en kort moontlik kan plaasvind terwille van die geestelike gesondheid van die nuwe geestelike baba?

Daarom is dit so belangrik om weer te gaan kyk hoe dit in die Vroeg-Christelike gemeentes gebeur het en wat hulle gedoen en gesê het, alles in gehoorsaamheid aan wat hulle by Jesus geleer het om te doen.

ROETE 3

Daarom word elke gebruiker van hierdie Toep, JOURNEY OF DISCOVERY, in ROETE 3, geleentheid gegee om te gaan kyk hoe die gelowiges in die Vroeg-Christelike gemeentes daar in die begin dinge gedoen en gesê het.

In ROETE 3 word dit opgesom in 7 “STOPS” of bestemmings waar elkeen geleentheid kry om na God te luister en by Hom te hoor wat Hy hieroor sê in Sy Woord.

Kan ek ʼn stukkie persoonlike getuienis in die verband vir jou vertel?

Soos jy weet het ek en my vrou, Hetta, die voorreg om vanjaar, 2023, reeds vir 45 jaar voltyds in diens van Koning Jesus, in Sy Ekklesia of Kerk te wees.

Toe die Here my 5 jaar gelede opdrag gee om Sy opdrag in Mat. 28:19 te gehoorsaam om mense Sy dissipels te maak, hulle te doop en dan alles te leer wat Hy ons geleer het, het ek my hele bediening van die vorige 40 jaar (op daardie stadium) in heroorweging geneem en baie krities ondersoek of ek werklik in die tyd gedoen het wat Hy ons opdrag gegee het om te doen.

Jy ken reeds die storie oor my skokkende ontdekking in 1993, toe ek reeds amper 15 jaar ʼn NG Kerk-dominee was. Ja, hoe ek ontdek het dat die “doop” wat ek aan babas van gelowiges bedien het, glad nie ʼn Bybelse doop was nie!

Tot my verbasing het ek ontdek dat die Bybelse doop die doop van gelowige mense wat as  kinders of volwassenes gekies het om in Jesus as Verlosser te glo.

ʼn Volgende ontdekking was dat Jesus, my Verlosser en Here, ook die Doper met die Gees was.

Wat gevolg is deur my eie “herontdekking” van die gawes van die Gees!

Seker een van die mees ingrypende openbarings was toe God self, deur Sy Woord, vir my wys dat ʼn normale geestelike geboorte (wat Jesus “wedergeboorte” genoem het), in die Vroeg-Christelike gemeentes, volgens God se Woord, uit vier dinge bestaan het wat alles op Dag 1 in so ʼn nuwe bekeerling se lewe normaalweg plaasgevind het!

Dit alles het ek in ROETE 3 ingebou sodat elkeen wat die Toep gebruik, geleentheid kan hê om net met God se Woord op hulle skoot, self hierdie dinge uit die mond van die Lewende God te hoor!

O, hoe begeer ek dat iemand dit vir my gesê en geleer het toe ek daardie dag, 10 Oktober 1969, tot bekering gekom het! Watter verskil sou dit nie aan my geestelike groei veroorsaak het nie as ek daardie dag reeds gedoop is in water en ook gedoop is met die Gees en Sy gawes!

 

Maak die mense My dissipels (Deel 9)

Op die fondasie van ʼn Bybelse verstaan van wie jy as nuutgebore mens in Christus Jesus is, skoon gewas deur die bloed van Christus (soos gesimboliseer deur die onderdompeling in die water van die doop), maar ook nou gedoop met die Heilige Gees, en dus toegerus met die gawes van die Gees, word elke gebruiker van die Toep, JOURNEY OF DISCOVERY, in ROETE 3, verder begelei in die Skrif om te sien hoe lyk die ware Bybelse kerk en wat beteken dit nou om deel te wees van God se familie hier op aarde.

Van die een stop na die ander, word gebruikers dan begelei om werklik Ekklesia of die ware Bybelse Kerk te beleef soos destyds in die vroeg-Christelike gemeentes, wat die boek, Handelinge, en ander gedeeltes in die Nuwe Testament, vir ons teken.

Dit alles hoor en lees elke gebruiker van die Toep self uit die Woord van God, en hoor hulle uit die mond van God self wat die waarheid hieroor is.

Dit is geweldig belangrik dat mense weer die kans kry om by God self te hoor wat die waarheid is. As hulle rondom hulle kyk, na dit wat ons vandag kerk van Jesus noem, en hoe ons vandag kerk hou en doen, dan kan ons so maklik dink dit is wat kerk werklik is en beteken. En hoe geskok is ons nie soms oor wat ons beleef en hoor in wat in gemeentes gepredik en gedoen word nie!

Daarom neem ROETE 3 mense op hierdie Bybelse reis en wys en leer hulle wat die dissipels destyds by Jesus as die Koning self, geleer het, wat dit beteken om deel te wees van die Familie van God op aarde.

Hoe gaan dit wat Jesus ons geleer het ons hele lewe raak?

Hoe moet dit ons manier van lewe raak en verander?

Hoe gaan dit byvoorbeeld, hoe ons geld en goed in ons lewe hanteer, verander?

As ons werklik glo dat Jesus Christus werklik God is wat mens geword het en wat Sy lewe gegee het sodat ons die Lewe kan ken en dit in oorvloed kan belewe, hoe gaan dit wat ons sê en doen daar by die werk en tussen ander mense beïnvloed?

Kan ons dan enigsins stilbly oor wat Hy in ons lewe gedoen het en hoe Hy ons kom verander het?

En as ons dan oor Hom moet getuig en ander Sy dissipels moet maak, hoe doen ons dit?

Dit alles is wat elke gebruiker van die Toep, JOURNEY OF DISCOVERY, vir hulleself ontdek met die Bybel op hulle skoot, in ROETE 3.

 

Maak die mense My dissipels (Deel 10)

Met die toep, JOURNEY OF DISCOVERY, in hulle hand, begelei ROETES 4 en 5 dan mense om via verskillende Bybelgedeeltes oor verskillende temas, antwoorde op verskillende vrae te kry, soos:

Hoe hanteer ek mense wat nog verlore is en nie vir Jesus ken nie?

Hoe verander dit ʼn mens se lewe as jy Jesus aangeneem het as Verlosser en Here?

Hoe lyk die lewe van ʼn volgeling van Jesus?

As die Here jou as ʼn leier geroep het of vir jou ʼn posisie van outoriteit êrens gegee het, hoe dan gemaak as jy ʼn volgeling van Jesus is?

ROETE 5 op die toep gee gebruikers geleentheid om 7 roetes saam te stap om te kan luister hoe God deur verskillende Skrifgedeeltes vir hulle wys hoe ʼn ontmoeting met ʼn lewende God in Jesus Christus, jou lewe radikaal kan verander.

  • Hoe dit jou verander van iemand wat probeer om God se genade te verdien, na iemand wat ontdek dat jy nou ʼn erfgenaam is van alles wat aan God behoort
  • Hoe God ʼn mens kan verander van iemand wat net vir homself lewe, na iemand met ʼn hart vir ander mense
  • Hoe God jou kan verander van iemand wat net heeltyd wil hê, na iemand met ʼn oop hand en oop hart
  • God verander ʼn alleen-mens in iemand wat ontdek jy het soveel wonderlike familie in Jesus rondom jou
  • Dit is net God wat mense verander wat eens net ander mense gebruik het, na iemand wat ontdek het hoe wonderlik is dit om ander om jou te begin bedien met wat jy het
  • God verander ʼn mens om te ontdek dat jy nie regtig “so arm is as wat jy gedink het nie”, maar dat jy kan waag om te begin gee uit “die oorvloed en rykdom” waarmee die Here jou seën elke dag
  • En dan neem die 7de reis mense om te ontdek dat jy nie net ʼn reisiger op aarde is nie, maar dat God jou kan gebruik as ʼn gids in ander se lewe.

So kom ons aan die einde van hierdie kort gebruikersgids oor hoe jy die Toep, JOURNEY OF DISCOVERY, kan gebruik om ander mense rondom jou te dissipel en te leer alles wat Jesus jou geleer het.

Nou kan jy weer op jou beurt, hierdie toep gebruik om vir ander te leer hoe om mense rondom hulle te dissipel en te leer soos Jesus ook vir hulle beveel om te doen.

So kan God dan ook my en jou gebruik om Sy Koninkryk te laat kom en uit te brei daar waar ons woon, leef en werk elke dag!