Jesus in ons (Deel 2)

 

Miskien moet jy net weer verlede keer se Woord daar uit Kol 1 en hoofstuk 3 gaan lees.

Vriende, vandag skryf ek as iemand wat in 1969 (55 jaar gelede) my teen ʼn Lewende, Opgestane Jesus vasgeloop het en wie se lewe onbeskryflik wonderlik daardeur verander is.

Sedertdien het ek ook groot erns daarmee gemaak om net hierdie Jesus en Hom as Verlosser, Here, en as die Weg, die Waarheid en die Lewe, aan mense te verkondig.

Ek het ook opnuut ontdek dat Hy in ons as Sy gelowige volgelinge is en lewe. Dit is ook wat hier in Kol. 1 en Kol. 3, in ons gelese gedeeltes, beklemtoon word.

Kom ek vertel julle so iets oor die agtergrond van die Nuwe Testamentiese brief, Kolossense.

Toe God deur die werking van Sy Gees, Paulus geïnspireer het om hierdie brief aan die gelowiges in die stad, Kolossense, te skryf, was hierdie gemeente van Jesus in daardie stad so 4 jaar oud. Paulus self was reeds ʼn ou man en aan die einde van sy lewe. Die rede waarom Paulus hierdie brief aan hierdie gelowiges geskryf het, was omdat die gemeente in Kolossense op hierdie stadium, ernstig verward was in die lig van dwaalleringe wat aan hulle verkondig is.

Die hart van hierdie dwaalleringe was dat dit die gelowiges laat dink en glo het dat daar belangriker dinge vir ons as gelowiges is as net om te weet van Jesus.

Ja, ons almal weet reeds dat Jesus Christus gekom het om Verlosser en Here in ons lewe te wees. Ja, dat Hy Sy lewe vir ons gegee het aan die kruis. Almal van ons weet tog dat dit die hart van die Evangelieboodskap is, maar nou dat ons dit weet en glo, so het hierdie dwaalleraars verkondig, nou kan ons aangaan en mekaar se aandag vra vir belangriker dinge!

Volgens hierdie valse leraars, was daar selfs meer belangrike dinge as net dit! As ons met die wêreld daar buite wil gesels en wil sin maak, dan moet ons dit anders vertel en ander dinge beklemtoon!

Klink dit vir jou bekend? Klink dit dalk soos iets wat jy dalk ook daarrondom jou hoor?

Hoor jy ook dat ons tog nie vir mense moet vertel dat hulle sondaars en totaal verlore is nie? Ja, dat al hierdie gepraat oor die kruis van Jesus tog nou moet ophou! Ons moet mense eerder van God se genade wat alles en almal insluit, vertel!

Of hoor jy dalk dat die goeie nuus van die Evangelie daarin sou bestaan naamlik dat Christus vir alle mense, ja, alle mense, gesterf het en daarom is almal van hulle reeds aan die kruis geregverdig en reeds deur God vrygespreek?!

Klink dit dalk vir jou bekend en iets wat jy daar rondom jou in gemeentes hoor?

Is dit nodig dat ek jou hoef te vertel dat dit alles bog en onsin en ʼn totale verdraaiing van die ware Evangelieboodskap is!

Hierteenoor kom Paulus dan, onder die inspirasie van die Gees, in hierdie brief, en sê, nee, dit is nie die antwoord nie. Dit is nie die oplossing nie.

Die oplossing is dat mense Jesus as Verlosser en Here moet ontdek en moet raaksien wie Hy werklik is. Dit gaan alles verander!

Daar aan die voet van die kruis, moet hulle ontdek dat Jesus daar gehang en Sy lewe gegee het ook vir hulle sonde. Alleen diegene wat Hom as Verlosser en Here aangeneem het en dit van Hom glo, alleen hulle word kinders van God en hulle word vrygespreek deur God se genade.

Hierdie mense, wat wederbaar en deur God nuutgemaak is, omdat hulle in Jesus as Verlosser glo, hulle is deel van Sy Ekklesia en dit is aan hulle wat ons hierdie “geheim” kan vertel waarvan Paulus hier in Kol. 1:27 skryf, naamlik dat hierdie Jesus nou in ons as wedergebore mense woon deur die inwoning van Sy Gees.

As ons oë oopgaan vir hierdie onverstaanbaar, wonderlike Jesus, gaan iets merkwaardig hier in ons gebeur.

Dan gaan dit hierdie liefde, bewondering, eerbied en hartstogtelike aanbidding in ons aansteek en ons help om net oë vir Hom en Hom alleen te hê.

Dan gaan ons weet dat Jesus Christus die hart van alles is!

Alles gaan net oor Hom! Hy is die Kern. Hy is die Antwoord!

Dit is wat Paulus onder die inspirasie van die Gees vir ons hier in Kol 1, en ja, eintlik in die hele boek van Kolossense probeer sê. Alles gaan net oor Hom, oor hierdie Jesus, wat nou ook in elkeen van ons deur die werking van die Gees woon.

Daarom wil ek ook in hierdie reeks oor die Evangelie van die Koninkryk net weer beklemtoon dat hierdie Jesus die Koning van hierdie koninkryk is.
Kyk mooi en sien net weer hierdie Jesus in jou raak.