Inleiding
Op 1 Augustes 2026, die eerste van die agste maand van hierdie jaar, glo ek, het ’n nuwe seisoen waarin ons mense nog meer effektief as in die verlede, begin.
Nie dat ons nie reeds ’n groot verskil gemaak het die afgelope 48 jaar wat ons voltyds in diens van Koning Jesus binne Sy Ekklesia/Kerk was nie! Nee, ek sê altyd, omdat ek vandag BETER WEET, DOEN EK BETER!
Ja, ek het gedurende hierdie 48 jaar elke dag die Here voluit en so goed ek kon gedien en dinge gedoen.
Maar oor die jare het ek telkens, deur goeie dinge wat gebeur het, maar veral deur bitter slegte dinge wat gebeur het, ontdek dat hoe ek dinge doen, wat ek glo in die verband, en hoe ek dit vir mense sê, nie altyd wys en die beste wyse was waarop ek dit kon doen nie.
Boonop was die Here so getrou en het Hy my geleer en gelei soos Hy in Sy Woord belowe. Ek het beleef hoe Hy my lei en leer elke dag deur Sy Woord en Sy Gees, en ook in my tyd saam met ander gelowiges binne die wêreldwye Ekklesia of Liggaam van Jesus.
So het ek deur al my foute oor die jare ontdek daar is beter maniere en daar is selfs meer Bybelse maniere, meer binne “die wil van die Here”-maniere van doen en dink.
Daarom my leuse in hierdie nuwe seisoen: OMDAT EK BETER WEET, DOEN EK BETER!
Behalwe dat ek oortuig is dat ons veral gelowiges oor die wêreld in hierdie nuwe seisoen beter en meer effektief gaan bedien, gaan ons ook die ekonomie van hierdie bediening beter bestuur!
Kom ek vertel ons storie in die verband
Tot en met einde Oktober 1993, na sowat 15 jaar as NG-dominee en leraar in die grootste Afrikaanse kerkdenominasie op daardie stadium – dit het intussen radikaal verander – het ek soos enige ander dominee en geestelike leier in enige van die ander kerke, ’n vaste salaris (of soos ons dit genoem het, ‘n “traktement”) ontvang.
Nadat die Here ons as gesin uitgedaag het om vir die eerste keer Bybels gedoop te word as gelowiges, het Hy op 10 Oktober 1993, vir ons gelei om te bedank as NG-leraar. Maar Hy het ook gesê: In die wêrld geld die beginsel: Wiens brood men eet, diens woord men spreekt. Dit gaan nooit die geval in julle lewe en bediening in die toekoms wees nie! Ek is julle totale Voorsiener en Ek gaan My mense (die gelowiges) gebruik om die kanale te wees wat deur hulle “gee vir My en My werk”, vir julle te gee wat julle nodig het!
Die Bybelgedeelte wat die Here veral gebruik het om dit oor die jare vir ons te leer,was 2Kor 9, en veral vers 6 tot 8, wat in die Afrikaanse 83-vertaling so vertaal is:
“Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.
Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.
En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.”
Hoor net hoe mooi word dit in THE VOICE vertaal:
“But I will say this to encourage your generosity: the one who plants little harvests little, and the one who plants plenty harvests plenty. Giving grows out of the heart—otherwise, you’ve reluctantly grumbled “yes” because you felt you had to or because you couldn’t say “no,” but this isn’t the way God wants it. For we know that “God loves a cheerful giver.” God is ready to overwhelm you with more blessings than you could ever imagine so that you’ll always be taken care of in every way and you’ll have more than enough to share.”
Kom ek wees eerlik: Hierdie nuwe fase van bediening in ons lewe as gesin sedert Oktober 1993, was die mees opwindende deel van ons bediening in diens van die Koning, maar dit was ook die mees uitdagende gedeelte, en veral om een rede: Om te ontdek hoe doen ’n mens as een van God se Efesiërs 4:11 tot 16-gawes aan die Here se Liggaam, dit dat dit ekonomies en finansieel sin maak en werk! Hoe maak jou geldsake op ’n verantwoordelike manier werk?
Dit raak praktiese sake soos: Ons het presies dieselfde finansiële behoeftes as enige ander gesin – en soms selfs nog meer geld nodig, want ons moet soms oorsee gaan, en het reuse uitgawes aan reiskostes en rekenaar en internetkostes.
En natuurlik, die feit dat die Here Sy mense gebruik om te sorg dat ons genoeg kan hê! Hoe werk dit? Veral as 95% van Sy kinders GEEN IDEE HET van wat ons nodig het nie, want hulle is selfs net elke dag besig met wat hulle nodig het!
En boonop moet ons dit wat ons doen binne ’n verskeurde en versnipperde Ekklesia of Liggaam van Jesus doen!
Het jy geweet dat daar tans net in Suid-Afrika meer as 30 000 verskillende kerke en kerkdenominasies is? En elkeen van hierdie 30 000 glo hulle is reg en doen dinge reg soos die Bybel ons leer! Daarom probeer hulle elkeen die gelowiges om hulle oorhaal om by hulle aan te sluit en om net daar “vir die Here” finansieel te gee!
Hoe gaan God se mense weet om ook vir ons te gee, wat nie meer deel van hierdie “verskeurde en versnipperde prentjie van die Liggaam” kan en mag wees nie?
Verstaan jy nou waarom ek gesê het, hierdie deel was die mees uitdagende gedeelte van die nuwe pad wat ons sedert 1993 stap?
Hoe ons geldsaake in die bediening gewerk?
Soos ek reeds gesê het, is "ons" verse in hierdie verband 2 Kor 9:6 tot 8.
Ons het daarom in geloof gekies om te glo dat God altyd ons totale Voorsiener sal wees. Natuurlik sal Hy mense as Sy voorsieningskanale gebruik.
Sedert Oktober 1993, omdat geld ook 'tn manier kan wees om geestelike leiers te manipuleer om te doen en te sê wat jy wil hê hulle moes, het God ons uitgedaag om nie 'n maandelikse salaris of iets soortgelyk te vra of te aanvaar vir enigiets wat ons doen nie.
Daarom het ons gekies om sover moontlik alles in die bediening “gratis” te doen, maar tog ook so dat gelowiges die geleentheid het om VRYWILLIG te kan gee of te skenk.
Mense kon gee wat hulle kies om te gee (soos 2 Kor 9:7 sê), of as hulle nie kan gee nie, tog altyd welkom te voel om dit wat ons bedien, vrylik te ontvang.
Hier is hoekom ons dit so doen:
Jesus het bv., van gebedsbediening die volgende gesê: "Julle het dit verniet ontvang, gee dit nou verniet" (Matt. 10:7-8). Die vroeë kerk het dit herhaal deur duidelik te maak dat Christene geen fooie vir gebed mag vra nie. (Lees bv., in die Didache 11:12; Irenaeus, Teen Ketterye, Boek 2, Hfst. 32, Afd. 4).
Ons lees ook hoe Petrus Simon bestraf het omdat hy probeer het om die krag van die Gees te koop (Handelinge 8). Jakobus het beveel om nie partydigheid of begunstiging onder sekere groepe mense toe te laat gebaseer op ryk of arm nie (Jakobus 2), en die apostel Paulus het dikwels finansiële ondersteuning te weier of te laat vaar deur diegene wat te arm was en te min gehad het, sodat die evangelie nooit belemmer sou word nie.
Maar dit was net die een kant van die vergelyking.
TERSELFDERTYD leer die Skrif ook dat diegene wat arbei om ander in die Woord te ONDERRIG, finansieel en ekonomies ondersteun moet word.
Jesus self het gesê: "Die arbeider is sy loon werd" (Lukas 10:7), en Paulus het geskryf: "Die wat die evangelie verkondig, moet hulle lewensonderhoud uit die evangelie maak" (1 Kor. 9:14). Hy het ook gesê dat ouderlinge wat arbei in prediking en onderrig "dubbele eer werd is" (1 Tim. 5:17–18). En die Bybelse konteks bevestig dat dit spesifiek oor finansiële ondersteuning gegaan het.
Die apostels het die Kerk van die Here geleer dat daar koninkryksbeginsels soos eer gee waar mense dit verdien, en om te saai en te maai, ook geld rondom voltydse leraars en bedienaars binne die gemeente van die Here. Maar hulle het ook sterk gewaarsku teen manipulasie en selfs teen valse profete en valse leraars wat mense finansieel misbruik het.
Paulus het dit so opgesom:
2 Kor 9:6-7 - “Onthou dít: Wie spaarsamig saai, sal ook spaarsamig maai; en wie vrygewig saai, sal ook vrygewig maai. Elkeen moet gee soos hy IN SY EIE HART besluit het, nie teësinnig of uit dwang nie, want God het 'n blymoedige gewer lief.”
Dus was ons persoonlike gevolgtrekking in die verband, die volgende: Ons vra nooit 'n vereiste fooi nie, maar ons is oop om vrywillige offers en skenkings te aanvaar, sodat ons kan eet en die werk van die bediening wat ons deur God gegee is, kan voortsit.
Wanneer ons genooi word om te praat, waardeer ons dit baie as kamers of reiskostes voorsien kan word, maar ons eis dit nie. Ons vra geen fooie vir prediking of onderrig nie. Selfs met ons aanlynbediening die afgelope 26 jaar elke week, het ons dit alles tot nou toe GRATIS gedoen.
Ons het tot nou toe daarna gestreef om almal presies dieselfde lief te hê en te behandel. Dit is belangrik dat deur wat ons doen en hoe ons dit doen, nooit die Here en Sy eer skade aan doen nie, en dat ons in geloof dit doen en heilig leef in alle areas voor God.
Want uiteindelik staan ons ook in hierdie saak voor ons Koning en Here en moet ons aan Hom ook in die verband rekenskap gee.
Mag die Here julle ook in julle gee en waar julle gee, seën, en onthou, dit is altyd 'n eer en voorreg om julle te dien en die Woord aan julle te bedien!
So, dankie vir die geleentheid!